Leraar van Pretoria sterf aan Covid-19

Leraar van Pretoria sterf aan Covid-19 | Netwerk24

Deur Werner Beukes

01 Julie 2021

“Abel was die slimste en sagste mens wat ek ken,” sê Philip Liebenberg, ’n kollega van dr. Abel Pienaar, nadat dié Donderdag in die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal aan Covid-19 oorlede is.

Pienaar was die hoofleraar van Renaissance, ’n spirituele gemeenskap in Pretoria. Hy was ook ’n filosoof en skrywer van spirituele boeke soos Saam op soek na God: Soeke na ’n eietydse spiritualiteit , God se oë is blou en Die dans met God, wat in 2015 op die Woordfees in Stellenbosch as leefstylboek van die jaar bekroon is.

“Dit was juis deur Abel dat ek by Renaissance betrokke geraak het,” sê Liebenberg. “Hy het my in 2019 genader om ’n geloofsgemeenskap in Johannesburg, iets soortgelyks aan wat hy in Pretoria gehad het, te stig. Ek het ongelooflik baie by hom geleer. Hy was iemand wat buite die boks kon dink en het nooit daarvan weggeskram om oor moeilike sake met enigiemand te gesels nie. Abel was die slimste en sagste mens wat ek ken.”

Liebenberg sê Pienaar het hom sowat twee weke gelede nog gebel en vertel dat hy siek is aan Covid-19. “Ek was nog positief dat hy beter sou word, toe ek vandag die hartseer nuus hoor. Almal by Renaissance is stukkend,” sê Liebenberg.

Jean Oosthuizen, vryskutjoernalis en ’n vriend, beskryf Pienaar as ’n oop en eerlike mens wat nooit ander veroordeel het nie.

“Die wêreld is soveel armer sonder iemand soos Abel Pienaar. Hy was ’n vrye denker en ’n groot voorstander van die waarheid, maar het altyd gesê dat elkeen self na sy eie waarheid moet soek. Die hartseerste ding is dat sy nuwe boek, TAO van wakker word , die afgelope week per koerier by my afgelewer is. Dít terwyl my vriend in ’n kritieke toestand in die hospitaal op ’n ventilator teen Covid-19 moes veg. Ek gaan hom so baie, baie mis,” sê Oosthuizen.

• Pienaar word oorleef deur sy vrou, Zelda, hul vier kinders en twee kleinkinders.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui