Dr Chris Jones se waardes verdag maar gewild

Kyk ook:

Hier is so paar goed wat dr. Chris Jones al kwytgeraak het, oor “goeie” homoseksualiteit en saamwoon tot die gelykheid van die Christelike en Moslemgelowe.

Hy is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap.

Ek het slegs enkele sinne aangehaal uit die skakels — lees gerus die hele skakel om die vollediger prent te kry.

Kerkbode verwys ook graag positief na sy skrywes, met ander woorde sy liberale denke word nie net onder voornemende NG-predikante versprei nie.

Kuratorium was verantwoordelik

Op 5 Maart 2012 maak dr Jones die opmerking dat die kuratorium ’n geleentheid laat verbygaan het om ten spyte van sinodebesluite ’n “dapper besluit” te neem.

(Hierdie gesprek het gegaan oor die nie-toelating van die gay teologiese student me Lulani Vermeulen tot legitimasie.)

Gays verdien gesonde sekslewe

Die Bybel keur homoseksualiteit soos ons dit vandag ken, nóg goed nóg af. Homoseksuele persone moet die reg gegun te word om hul oriëntasie volgens bepaalde waardes in ʼn gestruktureerde verhouding uit te leef skryf CHRIS JONES.

Wanneer Christene die moraliteit van ʼn saak bestudeer, kan hulle dit onder andere aan die hand van onderstaande vier kriteria doen, waarvan die Skrif uiteraard die belangrikste is. As ʼn mens gaan kyk na wat die Skrif oor homoseksualiteit sê, is dit net nie goed genoeg om te volstaan met ʼn letterlike beskouing van ʼn klompie tekste wat dit kwansuis sou afwys nie.

NG Kerk kan saamwoon dalk toelaat

Een van die lidmate wat die kwessie onder Atlas se aandag gebring het, is dr. Chris Jones, bekende teoloog-skrywer en ook voorsitter van die kantoor vir moraliteit en morele leierskap aan die Universiteit van Stellenbosch.

Nadat Jones gelees het oor die Hervormdes se gesprekke het hy heelwat oor die kwessie nagedink. Volgens hom is daar baie jong mense wat buite die huwelik monogaam saamwoon en nie meer die kerk se eise oor dié kwessie as realisties beskou nie. Die tyd het dalk aangebreek dat die kerk aanpas.

Jones wil egter nie hê die kerk moet promiskuïteit goedpraat nie – mense moet steeds aangemoedig word om verhoudings op evangeliese waardes soos getrouheid, liefde en wedersydse ondersteuning te grond.

Maar dit sluit nie alle saamwoonverhoudings uit nie. Talle jong mense bedryf hul saamwoonverhoudings volgens dié waardes en maak hul saak voor God uit. “In die Bybel is geen klinkklare gronde om te sê dat seksualiteit net in die huwelik kan afspeel nie. Veral jong mense besef dit en daarom vertrou hulle nie meer wat die kerk oor seks sê nie.”

Eerder as om alle seks buite die huwelik af te wys, meen Jones die kerk moet mense leer om volwasse besluite te neem. “Die rol van die kerk lê daarin om mense tot geestelike en emosionele volwassenheid te begelei sodat hulle eendag verantwoordelike besluite kan neem.

“Ons verafgod dikwels die huwelik onnodig. Die huwelik is nie ’n goddelike instelling nie. Dit kan net heilig wees afhangend van hoe dit bestuur word.”

Perdekoop is reeds lankal nie meer a opsie nie

Chris Jones en ’n uitgelese groep kundiges bedien die samelewing en die kerk in Kan ons nie maar net saambly nie? met ontledings, prinsipiële nadenke en soeke na verantwoordelike oplossings. Dit is nie ’n poging om die huwelik eenkant toe skuif nie. Dit is ’n poging om goeie kwaliteit huweliksverhoudings te bevorder en waar dit van toepassing is, waardige saamwoonverhoudings.

Storm in kerk oor saambly

Heelwat lidmate, ook teoloë soos dr. Chris Jones, het aan Atlas geskryf om te vra dat die kerk ’n nuwe, minder veroordelende beleid formuleer. Jones meld spesifiek jong mense wat saamwoon en wat later wil trou en ouer mense wat dit om pensioenredes nie kan bekostig om te trou nie.

Chris Jones en Sheg Najjar praat oor intergodsdiens op RSG

Op 25 September 2011 het RSG in die program Kruis en Dwars ’n gesprek gehad tussen dr. Chris Jones en Sheg Najjar. Johan van Lill was die gespreksleier. Dit het gegaan oor maniere waarop Christene en Moslems met mekaar kan saamwerk om waardes in SA te bevorder.

Dit was vir my ’n geleentheid om te ervaar hoe so ’n intergeloofsgesprek verloop of kan verloop en om ’n opinie daaroor te vorm. Jones was predikant in Ceres-Vallei en is verbonde aan Ekklesia, ’n afdeling van die Universiteit Stellenbosch seTeologiese Fakulteit. Ekklesia wil gemeentes bedien en deur gemeentes ook die groter gemeenskap. Najjar het oor die Islam in Saudi-Arabië gestudeer en het sy meestersgraad in Egipte behaal. Hy is die Imam van ’n groot moskee in Kaapstad, hy is visie-president van die Islamitiese Raad en president van die World Hallal. Die twee is hegte vriende en het groot bewondering vir mekaar. Najjar en Jones het twee jaar gelede saam gaan uiteet en Jones het vir hulle ’n tafelgebed gedoen.

Oor gesprekke tussen Christene en Moslems, sê Jones: “Shift from conversion to conversation”

Jones het afgesluit met die gedagte dat daar nooit wêreldvrede kan wees sonder godsdiensvrede nie en solank daar ’n gevoel van superioriteit van een groep oor ’n ander is kan daar nie godsdiensvrede wees nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui