Gays verdien ʼn gesonde sekslewe

Kyk ook:

Die volgende artikel het op 21 Maart 2011 op die webblad www.kletskerk.co.za verskyn. Dit is die webblad van Jean Oosthuizen.

*********

Gays verdien ʼn gesonde sekslewe

Posted on 21/03/2011 by Jean

(Oorspronklike artikel by http://kletskerk.co.za/tuisblad/archives/239)

Die Bybel keur homoseksualiteit soos ons dit vandag ken, nóg goed nóg af. Homoseksuele persone moet die reg gegun te word om hul oriëntasie volgens bepaalde waardes in ʼn gestruktureerde verhouding uit te leef skryf CHRIS JONES [Chris Jones is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap].

Wanneer Christene die moraliteit van ʼn saak bestudeer, kan hulle dit onder andere aan die hand van onderstaande vier kriteria doen, waarvan die Skrif uiteraard die belangrikste is. As ʼn mens gaan kyk na wat die Skrif oor homoseksualiteit sê, is dit net nie goed genoeg om te volstaan met ʼn letterlike beskouing van ʼn klompie tekste wat dit kwansuis sou afwys nie.

Die wêreld van die Ou en Nuwe Testament het kultureel geweldig baie van ons s’n verskil. Daarom sou dit onverantwoordelik wees om tekste uit andersoortige kulturele kontekste sonder meer oor te dra na ons situasie en dan sekere (klinkklare!) afleidings daaruit te maak. As ʼn mens die klompie tekste wat tradisioneel gebruik word om homoseksualiteit af te wys, hermeneuties-verantwoordelik ondersoek en bestudeer, ontdek jy dat die Bybel homoseksualiteit soos ons dit vandag ken, nóg goedkeur, nóg afkeur.

In die Bybelse tyd het dit oor promiskuïteit en homoseksuele vergrype en verkragting gegaan – wat vandag steeds verkeerd is. Kern-homoseksualiteit wat uitgeleef word in ʼn permanente verhouding van wedersydse liefde en respek, asook lojaliteit en geborgenheid – soos ons dit vandag ken – kan nie hiermee vergelyk word nie. Ook kom hierdie saak nie in die Tien Gebooie voor nie en het Jesus, sover ons weet, niks daaroor gesê nie.

Eintlik is homoseksualiteit nie regtig ʼn kwessie in die Skrif nie. Ek dink in elk geval nie die Bybelskrywers is eintlik geïnspireer om oor seks te teoretiseer nie! Waar die suiwere Skrifteks dus nie definitiewe uitsluitsel oor ʼn bepaalde saak gee nie, kom die tweede kriterium na vore, naamlik tradisie. Hoe is die spesifieke saak van homoseksualiteit tradisioneel deur byvoorbeeld die kerk verstaan en hanteer? Ons weet dat die Christelike kerk ʼn redelike onsensitiewe en selfs veroordelende houding teenoor homoseksuele persone en dade aangeneem het en dis juis hierdie tradisionele beskouing wat die laaste aantal jare al meer onder skoot gekom het. Wanneer die tradisionele interpretasie en verstaan van ʼn saak dus nie bo alle twyfel antwoorde bied nie, kom die derde en vierde kriteria ter sprake, naamlik die rede en ervaring van die mens soos verlig deur die Gees van God.

Onlangse navorsing in die mediese en sielkundige wetenskappe wil daarop dui dat homoseksuele oriëntasie aangebore is en daarom nie ʼn willekeurige keuse is nie. In die lig hiervan, asook wat ander getuienis betref, behoort homoseksuele persone die reg gegun te word om hul oriëntasie uit te leef, maar dan uiteraard volgens bepaalde (evangeliese) waardes in ʼn gestruktureerde verhouding. Natuurlik verteenwoordig dít ʼn minderheidstandpunt, maar was die meeste van Christus se standpunte nie ook minderheidstandpunte nie? Ons behoort verkennend en vernuwend te bly dink. Die werklike oopstel vir die oerbeginsels van liefde en medemenslikheid, vir verdraagsaamheid en inklusiwiteit wat sterk deur Christus beklemtoon en geleef is, kan Christene baie hiermee help. Dít bly belangrike beginsels van die koninkryk. Van die nuwe skepping in Christus. Van die eindtyd.

Ek dink nie Christene behoort verdraaide Bybeltekste in die seer wonde van gays te vryf nie. ʼn Groot diskrepansie bly die onderskeid wat baie mense maak tussen homoseksuele oriëntasie en homoseksuele gedrag. Terwyl laasgenoemde afgewys word as sonde, geld dit vir baie van hierdie mense nie wat eersgenoemde betref nie. Maar kan die oriëntasie onskuldig wees as dit sou dui op ʼn geneigdheid tot gedrag wat as sondig beskou word? Is dit nie inkonsekwent nie? Selfs al gaan ons nie oor tot die sondige daad nie, wys Jesus tog reeds die sondige begeerte af wanneer Hy die blote begeerte tot egbreuk reeds met die daad gelykstel! (Mat 5:28) Die oriëntasie en die daad is dus gelyk. Een.

Ek dink nie bogenoemde argument van (kerk)mense wat so gerieflik tussen oriëntasie en gedrag onderskei, gaan die toets van die tyd deurstaan nie. Vandag word redelik algemeen aanvaar dat seksualiteit nie ʼn geïsoleerde area van ons bestaan is nie. Dit word gesien as deel van die totaliteit van ons menswees. Dit hou verband met ons behoefte aan fisieke en geestelike eenheid met ʼn ander persoon, ons soeke na die diepste vorm van intimiteit, en die begeerte om onsself werklik te ken. Die seksuele wil dus ons menswees en persoonwees dien. Dit wil uitdrukking wees van ʼn heilige liefde wat ons eensaamheid verlig. Dít moet vir alle mense gegun word, ongeag hul seksuele oriëntasie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui