Dié leraars sê nee vir veelrassigheid

Kyk KOMMENTAAR onderaan.

*******

Dié leraars sê nee vir veelrassigheid | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 2 Oktober 2022

Minder as die helfte van NG gemeentes is veelrassig – en ’n vyfde van die predikante in dié gemeentes wil hê dit moet so bly.

Dit blyk uit ’n onlangse meningspeiling van die kerk se Taakspan Navorsing.

Net 16% van predikante het bevestigend geantwoord op die vraag of hul gemeente veelrassig is en 31% was onseker of neutraal. Die oorblywende 53% het gesê hul gemeentes is nie veelrassig nie.

Onder die predikante in enkelrassige gemeentes het 67% van die respondente aangedui hulle sou verkies om ’n veelrassige gemeente te hê. 15% is neutraal en 18% is gekant teen veelrassige gemeentes.

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, sê die uitslag van die meningspeiling is ’n positiewe aanduiding dat die NG Kerk in die regte rigting van ’n eksklusiewe kerk na ’n inklusiewe kerk beweeg.

Volgens hom is daar al hoe meer gemeentes wat op ’n kreatiewe wyse by die eise van die tyd aanpas om inklusief te wees en ’n multikulturele benadering te volg.

“ ’n Kerk kan nie in Suid-Afrika oorleef as hy ’n muur om hom bou en in ’n klein hoekie van die land funksioneer nie.”

Janse van Rensburg sê die kerk speel reeds ’n belangrike rol in ’n multikulturele omgewing as lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en loop al geruime tyd ’n pad van versoening met verskeie swart kerke. Hy het juis op Erfenisdag saam met ander kerkleiers van die NG Kerk en die Morawiese Kerk sy verbintenis tot eenheid by ’n spesiale geleentheid bevestig.

“Swart kerke omarm ons. Daar is nie meer sprake van die NG Kerk as ’n apartheidskerk nie.”

Volgens Janse van Rensburg het meer as 18% van gemeentes in die Wes-Kaap reeds meertalige bedienings, 23% multikulturele gemeentes en het 75% vertrouensverhoudings met multikulturele gemeentes.

Hy sê inklusiwiteit is besig om in verskillende gestaltes in die NG kerk te realiseer. “Die NG Kerk sal altyd ’n sterk verband met die Afrikaanssprekende gemeenskap hê, maar ons sien al hoe meer meertaligheid in die Kerk.

“By party gemeentes word daar van tolke gebruik gemaak tydens dienste en by ander gemeentes word dienste afwisselend in Afrikaans of ’n ander taal aangebied. Daar is ook enkele gemeentes wat dienste uitsluitlik in Engels hou.”

Hy sê 26 tradisioneel swart gemeentes het onder meer by die Goudland-sinode (wat uit die Noordwes en dele van Gauteng bestaan) ingeskakel.

Dr. Cobus van Wyngaard, ondervoorsitter van die Taakspan Navorsing en ’n dominee van die veelrassige middestad-gemeente in Pretoria, sê gemeentes wat nie kan aanpas wanneer die gemeenskap se demografie verander nie, moet eenvoudig hul deure sluit. “Sulke aanpassings is nie eenvoudig nie. Dit vereis leierskap, kundigheid en deursettingsvermoë.”

Dr. André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode en ’n predikant van die veelrassige middestad-gemeente in Johannesburg, sê lidmate hier het bloot die kerk raakgesien en welkom gevoel toe hulle dit besoek het.

“Ons gee voorkeur aan Engels aangesien ons lidmate oorwegend Engels praat. Ons sing wel soms in Afrikaans, want ’n groot deel van ons lidmate is bruin mense wie se huistaal Afrikaans is.”

Bartlett sê sy verbintenis met die gemeente het baie vir sy eie persoonlike groei beteken.

“My gemeentelede het ’n ander agtergrond en perspektief as wat ek het. Dit is mense wat meestal ’n stryd om oorlewing voer en nie die luukse het om gepla te wees met die groter debatte in die kerk nie.”

Só voel NG Kerk-dominees | Ons is ’n veelrassige gemeente: Stem beslis saam = 7%, Stem saam = 9%, Neutraal of onseker = 31%, Stem nie saam nie = 31%, Stem beslis nie saam nie = 23%, Totaal = 101% | Ons is nie ’n veelrassige gemeente nie maar ek sou verkies dat ons een is: Stem beslis saam = 30%, Stem saam = 37%, Neutraal of onseker = 15%, Stem nie saam nie = 12%, Stem beslis nie saam nie = 6%, Totaal = 100%

Só voel NG Kerk-dominees

Ons is ’n veelrassige gemeente

  • Stem beslis saam = 7%
  • Stem saam = 9%
  • Neutraal of onseker = 31%
  • Stem nie saam nie = 31%
  • Stem beslis nie saam nie = 23%
  • Totaal = 101%

Ons is nie ’n veelrassige gemeente nie maar ek sou verkies dat ons een is

  • Stem beslis saam = 30%
  • Stem saam = 37%
  • Neutraal of onseker = 15%
  • Stem nie saam nie = 12%
  • Stem beslis nie saam nie = 6%
  • Totaal = 100%

Kommentaar

Daniel Louw

Voordat daar gedink word om die 18% gemeentes wat nie veelrassig wil wees nie en die 12% wat neutraal is daaroor, te kritiseer, moet eers gevra word hoekom dit belangrik is dat ’n gemeente veelrassig is?

Veelrassige gemeentes het uitdagings wat ander gemeentes nie het nie. Die kultuur van die gemeente moet drasties aanpas. Een van die belangrikste dinge wat waarskynlik sal moet verander is die taal: Afrikaans sal aan die agterste speen suig.

As aparte dienste in Afrikaans en Engels gehou word, gaan die verskillende groepe mekaar in elkgeval bitter min sien en dan is die vraag of ’n veelrassige gemeente sinvol is.

Ek is redelik oortuig dat die 18% nie ’n probleem sal hê met mense van ander ras in hulle kerk nie mits dit natuurlik gebeur, want dan sal die gemeente sy kultuur behou.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui