Kerke staan saam teen ‘destruktiewe mag van rassisme’

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Netwerk24 verskyn. Dit wys dat Belhar se uitsluitlike doel is om rassisme te beveg. Teologies het Belhar egter nie veel waarde nie.

**********

Kerke staan saam teen ‘destruktiewe mag van rassisme’

Deur Carryn-Ann Nel Sondag 23 Februarie 2014 22:54

JOHANNESBURG. – Die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suidelike Afrika (VGKSA) en die NG Kerk sê hulle wil “die destruktiewe mag van rassisme” regstel.

“Ons het die destruktiewe mag van rassisme wat so diep in al ons gemeenskappe ingebed is, raakgesien.

“Ons het besluit om saam ’n program vir ons kerke te ontwikkel en te implementeer wat ons almal sal help om hierdie uitdaging op ’n wyse te hanteer wat ons nader aan mekaar sal bring en die genesing waarna ons almal so verlang, te bevorder.”

Só lui ’n verklaring wat namens die twee moderature oor hul herenigingsproses uitgestuur is.

Die twee moderature het verlede week in Pretoria vergader. Dr. Jerry Pillay, president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, het as fasiliteerder opgetree.

Luidens die verklaring wat namens dr. Ben du Toit, direkteur van kommunikasie van die Wes- en Suid-Kaapse sinode, uitgereik is, het verteenwoordigers met mekaar gedeel “waar ons meen ons op ons reis saam met mekaar is”.

“Die verteenwoordigers van die NG Kerk het kennis geneem van die besluite van die VGKSA se Algemene Sinodale Kommissie (ASK) en dat hulle nie ten volle gelukkig was met die ASK van die NG Kerk se besluit oor die status van die Belydenis van Belhar in die NG Kerk se belydenisgrondslag nie.

“Die NG Kerk het die verduideliking van die VGKSA aanvaar dat hulle besluit weergee hoe hulle belydenisskrifte verstaan, en dat hul besluite in werklikheid hul verbintenis tot die proses herbevestig,” lui die verklaring.

Daar is vroeër berig dat die algemene sinode van die NG Kerk einde verlede jaar ’n voorgestelde nuwe kerkorde-artikel goedgekeur het wat die kerk se belydenisgrondslag wysig.

Dit lui onder meer: “Die belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderings wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderings wat dit nie as belydenisskrif onderskryf nie.”

Luidens die gesamentlike verklaring het die twee moderature ook bedink hoe hulle nader aan mekaar kan kom.

“Ons wil graag voorstel dat die twee kerke in hul verskillende strukture beplan dat die gemeentes in September deelneem aan ’n ‘Maand van Kanselruiling’.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui