NGK moet apartheid afskud deur Belhar te aanvaar – Gaum

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Beeld verskyn.

*********

NGK moet apartheid afskud deur Belhar te aanvaar – Gaum

Marenet Jordaan

2002/04/09

Kaapstad. Om eens en vir altyd van die kettings van apartheid ontslae te raak moet die NG Kerk die Belhar-belydenis onomwonde aanvaar, het dr. Frits Gaum, redakteur van Die Kerkbode en voormalige moderator van die sinode van die NG Kerk in die Wes-Kaap, gister gesê.

Gaum het gepraat op die konferensie wat deel is van die NG kerk Kaapstad (Groote Kerk) se fees om die 350 jaar van gereformeerdheid in die land te vier.

“En dalk, wie weet, is daar nog één ding wat die NG Kerk moet doen om vir goed te bewys dat ’n kerk, selfs ’n kérk, kan verander en dat ’n halfeeu en langer se kronkelende reis deur ’n apartheidswoestyn uiteindelik deel kan word van ’n sinvolle onderweg-wees na die Beloofde Land, ’n louterende en daarom betekenisvolle fase in die kerk se reis saam met die Here,” het Gaum gesê.

“Dít is as ons, uit ons eie en sonder dwang, ook vir die Belydenis van Belhar ja en amen kan sê.”

Die sinode van die NG Sendingkerk het in 1982 weens die apartheidsituasie in Suid-Afrika en die NG Kerk se standpunt daaroor ’n status confessionis daargestel en begin met die opstel van ’n nuwe belydenisskrif die Belhar-belydenis. Volgens Gaum is dit die eerste belydenisskrif uit Afrika.

Die konferensie is aangebied deur die vakgebied ekklesiologie van die kweekskool van die Universiteit van Stellenbosch in samewerking met die departemente kerkgeskiedenis van die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui