Brief: Waaroor het Jesus wél gepraat?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief: Waaroor het Jesus wél gepraat? – Kerkbode

Kerkbode

11 Junie 2025

Ds Riaan de Villiers van Kaapstad skryf: Die Pinkstersop proe die afgelope dae effens bitter. Terwyl die Gees ons nooi om in liefde een liggaam in Christus te wees, kondig ’n handvol lidmate en gemeentes hier rondom Lydenstyd en Pase aan dat hulle nou afskei van die liggaam – omdat die NG Kerk selfdegeslagverbintenisse erken en gay leraars in verbintenis in die amp toelaat. Hulle staan op Skrifgesag, sê hulle.

LEES OOK: Klassieke Karoo-innovasie: Gemeente en gemeenskap gebruik musiek om waarlik verwelkomend te wees

Die woord “Skrifgesag” word vinnig en hard gebruik. Jesus rep egter nie ’n enkele woord oor gay gelowiges nie. Indien hierdie groep wat wegskeur dan regtig so ernstig is oor die woorde van Jesus moet ons miskien let op dit wat Jesus, volgens die Evangelies, die meeste oor gepraat het. Hy het wél herhaaldelik en dringend gepraat oor die gevare van rykdom, van godsdienstige arrogansie, van mense wat ander uitsluit en self onwillig is om die koninkryk binne te gaan in die manier hoe hulle met mekaar en met hulle besittings omgaan.

Kyk wat gebeur kort na Pinkster met Ananias en Saffira. Wat was hulle oortreding? Hulle het nie met alles wat hulle gehad het ingekoop in die liggaam nie. Hulle het selfs van hulle hulpbronne vir hulleself gehou. Hoeveel dolerende gemeentes ontrek nou hulle sinodale bydrae wat die eenheid, toerusting, barmhartigheid en koninkrykswerk in die breër NG Kerk benadeel?

Wát lê op Jesus se lippe? Nie ’n enkele uitspraak oor gay mense nie. Sy leringe oor rykdom, uitbuiting en die roeping om die armes te dien en die weerloses te omarm, loop egter soos ’n goue draad deur die Evangelies: “Wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos ontvang” (Luk 6:24).

LEES OOK: Invloedryke teoloog en skrywer Walter Brueggeman oorlede op 92

“Verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes” (Luk 18:22).

“Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Luk 16:13).

Ons land staar ’n krisis van ongelykheid, geslagsgebaseerde geweld en chroniese armoede in die gesig. Kinders stap kilometers skool toe sonder kos; gemeenskappe sukkel onder bendegeweld; huishoudings huil oor die gaping tussen ryk en arm. Tog word die brandpunt vir afskeiding ’n verbond van liefde tussen twee volwassenes wat saam in liefde en trou wil leef?

Skrifgesag beteken sekerlik nie om enkele verse te buig en dit as wapen te gebruik om ander uit te hou nie. Ware Skrifgesag ondersoek alles in die lig van Jesus se sentrale boodskap: liefde vir God en ons naaste, vreemdeling, vlugteling en vyand. Wie my naaste is, het Jesus verduidelik in ’n verhaal waar ’n Samaritaan – ’n godsdiens-buitestander—uiteindelik die ware voorbeeld van barmhartigheid word en die weg na die ewige lewe aandui.

Hoe kan ons dan mense uitsluit wat mekaar liefhet en net wag om hulle gawes en hulle liefde in die gemeenskap van Christus in te bring? Hoe kan gemeentes die liggaam van Christus verder so vermink deur hulleself om hierdie redes af te sny van die liggaam?

Pinkster herinner ons dat die Gees oor alle grense vloei, in nuwe tale tot ons spreek, diversiteit omarm en verdeeldheid genees. Afskeiding oor liefde weerspreek daardie Gees. Laat die wêreld ons ken aan ons liefde, nie aan ons skeuring nie. – Brief verkort – Red.

Kommentaar

Daniel Louw

Tipies van vrygesindes, fokus hulle slegs op Jesus se liefde.

Kyk gerus na die artikels in die “Kyk ook”-blokkie aan die bokant en Theo Danzfuss se skitterende reaksie op hierdie artikel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui