Brief: As jou Pinkstersop bitter word

Hierdie is in reaksie op Riaan de Villiers se brief: Waaroor het Jesus wél gepraat? (11 Jun 2025)

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief: As jou Pinkstersop bitter word – Kerkbode

Kerkbode

13 Junie 2025

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: In Kerkbode van 11 Junie 2025 kla ds Riaan de Villiers dat sy Pinkstersop so ’n bietjie bitter word “omdat ’n handvol lidmate en gemeentes” nou aankondig dat hulle hulle afskei van die liggaam van Christus “omdat die NG Kerk selfdegeslagverbintenisse erken en gay leraars in verbintenis in die amp toelaat.”

As ons egter by die feite bly dan is dit nie nodig om bitter sop te drink en dit ook vir ander lesers te skink nie.

  • Ek weet nie van een gemeente wat wil afskei van die liggaam van Christus nie.
  • Ek weet wel van leraars wat al so afvallig geword het dat hulle die Roomse dwaling aanvaar deur te dink dat slegs gemeentes wat struktureel aan die Algemene Sinode verbind is, die enigste gestalte van die liggaam van Christus is.
  • Ek weet nie van dolerende gemeentes wat, soos hy suggereer, hulle sinodale bydraes terughou om dit soos Ananias en Saffira in hulle eie sakke te steek nie.
  • Ek weet wel van verskeie gemeentes wat biddend besluit het om nie langer finansiële ondersteuning te gee aan die kerkvergaderings wat dwaalleer ondersteun nie.
  • Ek weet dat die meeste dolerende gemeentes verkies om hulle sinodale bydraes liewers direk vir sending en barmhartigheid aan te wend deur projekte waar die evangelie suiwer verkondig word.
  • Ek weet nie van ’n enkele deel in die Bybel waar Jesus ’n gay-huwelik goedgepraat het soos wat ds Riaan by implikasie beweer nie.
  • Ek weet wel van verskeie plekke waar Jesus die heiligheid van die huwelik beklemtoon soos wat God dit van die begin af ingestel het, as ’n heilige verhouding tussen een man en een vrou. Markus 10:6-9. Sien ook Genesis 2:18-25; Matteus 19:4-6; 5:27-28.
  • Ek weet dat Jesus se woorde nooit in stryd is met die res van God se Woord nie en dat talle ander tekste die heiligheid van die huwelik en seksuele omgang slegs tussen man en vrou bevestig – geen selfdegeslagverhoudinge nie.
  • Ek weet ds Riaan suggereer herhaaldelik dat die dolerende gemeentes wat hulle sinodale bydraes weerhou die eintlike krisis in die kerk ignoreer soos : “… ongelykheid, geslagsgebaseerde geweld en chroniese armoede … Kinders stap kilometers skool toe sonder kos; … bendegeweld; … die gaping tussen ryk en arm.”
  • Ek weet nie van dolerende gemeentes wat een van daardie krisisse ignoreer nie, en ek weet ook nie waar Jesus hierdie krisisse kwansuis hoër ag as die kerk se roeping om ook die draer en beskermer van die waarheid te wees nie.
  • Ek weet dat dit juis Judas is wat vir Maria gekritiseer het omdat sy haar liefde vir Jesus bo die nood van die armes gestel het: “Waarom is hierdie reukolie nie vir 300 silwer-muntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?Johannes 12:5.
  • Maar ek weet ook nie of ’n kerk wat self sit met vaste beleggings van sowat honderd miljoen, kan vinger wys na gemeentes wat soms kies om Maria se voorbeeld te volg nie.
  • Een ding weet ek wel: As jou Pinkstersop begin suur word, maak eers seker jou vinger wys in die regte rigting.

Kommentaar

Daniel Louw

Hierdie is werklik waar ‘n uitstekende reaksie op Riaan de Villiers se brief.

Ek het egter net een opmerking. Theo Danzfuss skryf:

Ek weet wel van leraars wat al so afvallig geword het dat hulle die Roomse dwaling aanvaar deur te dink dat slegs gemeentes wat struktureel aan die Algemene Sinode verbind is, die enigste gestalte van die liggaam van Christus is.

Dit lyk soms vir my of daar ook onder behoudendes mense is wat glo dat die NG Kerk die enigste gestalte van die liggaam van Christus is. Ek het al vir iemand gevra wanneer hy die NG Kerk sal verlaat. Sy reaksie was: wanneer hy ‘n perfekte kerk gevind het. Met ander woorde, hy sal nooit die NG Kerk verlaat nie, ongeag hoe ver die kerk dwaal.

Dit is tyd dat die paaie skei.

1 thought on “Brief: As jou Pinkstersop bitter word”

  1. Goeie naand,
    Ds Theo, baie dankie vir u skrywe, nog soos ons groot geword het. Het al gewonder waar het dinge begin skeefloop, of anders gestel hoe het die duiwel en sy dissipels dit reg gekry om ons so te verdeel, en dan te heers. Dit is eintlik baie, baie maklik met net 3 woorde en dit is “God bestaan nie”. Nou plaas dat ons vir hulle gesê het julle is heeltemal reg God bestaan nie MAAR daar IS ‘n God, toe trap ons in hulle slaggat en begin ons toe ‘bewys’ dat God ‘bestaan’. Kom ons kyk so vining na ‘n paar goedjie. 1. Iets wat ‘bestaan’ het volume (lengte, breedte en hoogte of ‘n omtrek). Bv. Die rekenaartjie, het mos volume daarom ‘bestaan’ dit. God het mos nie lengte, breedte en hoorte (volume) nie. Hy is mos orals, (Ps139 is so mooi mens kan dit nie uitlaat nie, tot binne die niere) daar is mos nie ‘n plek waar god nie is nie, daarom kan HY mos nie ‘bestaan’ nie. Nou kan u maar self kyk hoeveel faksies is daar wat ‘bewys’ hoe groot HY is. 2. Iets wat bestaan het ‘n begin (vervaardigings) datum en ‘n end (verval) datum. God het mos nie ‘n begin en end datum nie, HY is mos van altyd, ewig, af daar (het nie ‘n begin datum nie) en HY gaan mos nog vir altyd, ewig, daar wees, daarom kan God mos nie ‘bestaan’ nie. Hoeveel faksies is daar nie wat vir Hom ‘n begin datum (big bang) en verval datum (wederkoms) ‘bewys’ nie. 3. Iets wat bestaan het ‘n beeld (kan fotos neem). God het nie ‘n beeld nie, daarom mag ons nie van Hom ‘n beeld maak nie. Dink net aan al die beelde wat vandag van God gemaak word, (bewys word) van die 3 gode, en 3 in 1 en al die ander faksies tussen in 4.Iets wat bestaan het ‘n plek, rekenaartjie op die tafel, God het nie ‘n plek nie Hy is mos alomteenwoordig, oral, altyd, en ewig. Die faksies bewys dat God in die hemel of op die aarde en al die plekke tussen in is. (stel beperkings) 5. Iets wat bestaan het ‘n werk, rekenaartjie skryf briefies, kan sommetjie doen, plannetjies teken ens.(doel). God het nie ‘n ‘werk’ nie, Hy is mos almagtig, kan net doen wat Hy wil. Nou bewys ons mos dat Hy alles geskep (skeppergod) het, ander bewys weer dat Hy wonderwerke doen, dan is daar ook al die sonde vergifnis faksies en nog vele meer. 6. Iets wat bestaan het ‘n naam, rekenaar, tafel, stoel, aarde ens. God het nie ‘n naam nie, daarom het hy vir Moses gesê dat ‘HY IS WAT HY IS’ nie ‘n naam nie net dat HY IS. Dink nou aan al die gestry en bewys bedryf oor die naam van God. So kan mens nog aangaan maar waaroor gaan dit eintlik. Daar IS net een groot, almagtige, lewende God waarby mens moet uitkom, en ons moet hierdie ‘bewys bedryf’ en gevegte en stryery ens. Los want almal is mos nou “reg” (genoeg bewyse en dan glo mens jouself) en in die tussen tyd val alles inmekaar, maar gelukkig is almal darm reg. Ons rig baie, baie skade aan God se saak, met hierdie ‘bewys bedryf’. Kom ons gee almal ‘n kans en leer bymekaar, kom net by die Groot God uit en die groot prentjie. Sien ook onder tannie Judith se seining oor die saak, sy kan dit baie beter doen.
    Judith de Beer
    In twis en haat, daar waar hulle van vroeg tot laat soos outomate
    voor die rekenaar waak, daar sit so kordaat die e-sword soldaat.
    Oor die geloofs-onkunde van ander is hulle tog so diep beswaard
    en die opinie van ander maak hulle altyd baie kwaad. (vervolg)
    Oor ander se meer vrye onafhanklike denke moet hulle altyd smaad en
    daarom kap hulle links en regs na ander met hulle vlymskerp
    swaard, want meeste van die tyd is die aanvaller mos ‘n e-sword
    soldaat.

    So sit die hedendaagse kamma skrifgeleerdes van vroeg tot laat
    voor hulle rekenaars as ‘n e-sword soldaat en elkeen dink hy saai
    vir God se koninkryk net goeie intelligensie-saad. So, wee daarom
    elkeen wat hom nie op die wysheid van die e-sword soldaat se
    kamma ‘alwetendheid’ en dié se ‘skerpsinnige’ raad wil verlaat.

    Die debattering opposisie van die e-sword soldaat is mos ketters
    en satanskinders wat nooit in die ‘waarheid’ sal kan ontwaak en
    terwyl die rekenaarvraat hulle ook dikwels net op die ‘wysheid’
    van google verlaat met hulle e-sword antwoorde so paraat en dit
    terwyl hulle die heeltyd oor mekaar se antwoorde en sienings
    smaal. Ja, met elkeen wat nou as oorwinnaars alleen op die
    sogenaamde waarheid aanspraak probeer maak, is dit oral in
    die geloofsdebattering net haat op haat met e-sword antwoorde
    flink en vinnig in wraak op wraak.

    So is elke rekenaarchristen nou sonder enige liefde vir bykans
    elke ander rekenaarchristen nou baie kwaad, want in rekenaarhel,
    daar debatteer in twis en haat van vroeg tot laat die so verhewe
    e-sword soldaat. Die skrifnavorsing van ander skrifkenners, die
    wil hulle altyd as hulle eie breinkind uitmaak en so heers daar
    wêreldwyd, maar veral in Suid-Afrika, onder soveel sogenaamde
    gelowiges nou die rekenaarsleutelbord wraak, waarby die Koninkryk
    van God selde iets positiefs by kan baat. Want links en regs kap
    daar wild na mekaar, ja, met andermans intelligensie die vlymskerp
    swaard van die nimmer rustende e-sword soldaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui