Evolusie – Is dit werklik hoe God ons gemaak het?

Kyk ook:

Die artikel “Evolusie – Dis Hoe God Ons Gemaak Het” hieronder het op kerkbode.christians.co.za, die NG Kerk se amptelike nuusblad verskyn. Dit is alles goed en wel om oor verskillende onderwerpe verslag te doen, maar Kerkbode het reeds lankal ’n pro-evolusie standpunt ingeneem (kyk Kerkbode dryf evolusie-agenda). Dit is ook duidelik dat hierdie nie baie objektiewe beriggewing is nie.

Hier volg die artikel met kommentaar tussenin.

***********

Evolusie – Dis Hoe God Ons Gemaak Het

9 Junie 2017, Neels Jackson

Hoe bring ’n mens die Christelike geloof en evolusie bymekaar uit? Party mense beskou dit as teenoorstaande, onversoenbare pole. Maar nou het ’n NG lidmaat, ’n wetenskaplike en gelowige, ’n boek geskryf om juis dit te doen. NEELS JACKSON het met Albert Alberts gesels oor sy boek Evolusie vir Christene.

“Ek is ’n teïstiese evolusionis,” sê dr Albert Alberts.

Hy verduidelik: “Ek glo daar is ’n persoonlike God. Hy het die mens geskape. Hy het die meganisme van evolusie gebruik. Hy is die een wat die proses begin en voleindig.”

Dit is hieroor dat sy boek Evolusie vir Christene gaan. Dit is nie ’n boek waarin hy soseer probeer oorreed en getuig nie. Dis eerder ’n boek waarin hy verduidelik, want in die populêre gesprek oor wetenskap en geloof, oor Christenskap en evolusie, is daar soveel verkeerde persepsies, soveel wanopvattings wat reggestel moet word.

Alberts, afgetrede onkoloog en hoogleraar in sy veld, sê sy belangstelling in evolusie is in sy studentejare geprikkel toe die bekende prof Philip Tobias vir hom klas gegee het in anatomie. Hy het toe ook lesings oor paleontologie gaan bywoon en saam uitgegaan op ekspedisies om opgrawings te doen.

In sy praktyk het hy ’n pasiënt gehad wat ’n paleontoloog was met wie hy gesels het en wat sy belangstelling verder geprikkel het.

En dan was daar natuurlik die tallose gesprekke met sy pa, die bekende dr Louw Alberts, wat wyd bekend was as ’n Christen en wetenskaplike wat oor baie jare sy getuienis gelewer het.

Hulle het nie altyd dieselfde gedink nie. Hy sou sy pa byvoorbeeld nie as ’n evolusionis bestempel nie. Sy pa het eerder die model van intelligente ontwerp gekies.

“Ek het verskil,” sê Alberts.

Hy onthou hoe sy pa gesê het die statistiese kans dat lewe so sou ontwikkel soos die voorstanders van evolusie dit voorhou, is bitter klein. Dis so klein soos die kans dat as jy ’n klomp bakstene en boumateriaal hoog in die lug uit ’n klomp vliegtuie sou gooi, dat dit dan in die vorm van die stad Johannesburg op die grond sou val. Alberts sê egter in sy boek hoe die huidige navorsing die ontstaan van lewe verduidelik.

[As Alberts wil glo dat lewe vanself kon ontstaan het, weet ek nie wat die sin sou wees om te sê: “Ek glo daar is ’n persoonlike God. Hy het die mens geskape. Hy het die meganisme van evolusie gebruik. Hy is die een wat die proses begin en voleindig.” Geharde evolusioniste, soos Richard Dawkins en Stephen Hawking onderskryf panspermia (kyk Aanhalings – Panspermia) juis omdat hulle weet dat geen mens kan verklaar hoe lewe vanself kon ontstaan het nie. Kyk ook Meer oor waarskynlikhede en Hawking.]

Sy pa het ook nie gedink daar is oorgangsvorme tussen verskillende spesies nie. Alberts voeI egter dat moderne genetika dit wel kan verklaar.

[Kyk na die bewyse en besluit self oor oorgangsvorme: Aanhalings – Vermiste skakels en Vermiste skakels en gepunktueerde evolusie.
Gepraat van genetika: genetiese entropie is iets wat nie ontken kan word nie, wat ’n baie groot probleem vir evolusie is (kyk bv Genetic Entropy Points to a Young Creation).]

Die gesprekke tussen hom en sy pa was baie informeel en gemaklik, vertel hy. Dit was indringend, maar hulle het nie vir mekaar kwaad geword nie.

In ’n sekere sin is die boek ’n voortsetting van die gesprekke met sy pa, sê hy.

In die kerklike debat, sê Alberts, is een van die probleme dat mense die Bybel letterlik wil verstaan. Maar jy beland baie gou in oneindige probleme as jy dit wil doen, merk hy op. Jy moet die Bybel verstaan teen die agtergrond van die leefwêred waarin dit ontstaan het. Dan is die Bybel nie in stryd met die wetenskap nie.

As geloofsboek, verklaar Alberts, is die Bybel absoluut gesaghebbend. Vir hom is die Bybel die Woord van God, maar dan moet jy dit reg verstaan.

[Kyk Om geloof en wetenskap te skei.]

Hy het so twee jaar lank geskryf aan Evolusie vir Christene.

Hy het net gevoel daar is soveel Christene wat soveel moeite doen om die wetenskap en evolusie te diskrediteer, mense wat nie aanvaar dat evolusie die manier is waarop God gewerk het nie. “Ek het gevoel dit sal goed wees as ek vir die mense kan aandui dis g’n probleem dat God ons so gemaak het nie.”

[Daar is baie probleme om evolusie met die Bybel te probeer versoen. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.]

Sy pa se beswaar sou wees dat daar te veel ruimte vir kans gelaat word. Hy sou sê die proses moet onder absolute beheer van God wees. Alberts stem saam, maar sê dit vind plaas op ’n vlak buite ruimte en tyd.

“Ek saal ’n perdjie op wat sê die siel is ’n funksie van die brein. Die oomblik toe die brein ver genoeg ontwikkel was, kon mense begin reageer op God se liefde.”

In sy boek neem Alberts sy leser eers op ’n voëlvlug deur die veld van die evolusie. Hy skei ’n klomp kaf van die koring en help sy leser om ten minste ’n basiese begrip van ’n klomp kwessies in die veld te kry. Daarby noem hy verskeie bronne waar die nuuskierige leser self verder kan gaan delf.

Alberts stap ook saam met sy leser deur die verskillende godsdienstige reaksies wat deur die jare oor evolusie uitgekristaliseer het. Hy kritiseer ondeurdagte en onsinnige reaksies en verduidelik die model waarbinne hy homself uiteindelik tuis voel.

Hy open ook ’n venster op van die moeilike godsdienstige en etiese vrae wat deur die debat na vore gekom het. Dit sluit in vrae oor kwessies soos erfsonde, die dood en lyding. Selfs die pyn van diere kom ter sprake. [Kyk Death and suffering Questions and Answers.]

Hy weet die boek is op ’n klein segment van die lesersmark gerig. Dit is mense wat dieselfde belangstelling as hy deeI. Maar hy hoop dat die boek vir hulle sal help.

Self voel hy dat hy met die skryf van die boek telkens verwonderd gestaan het oor die majesteit van God. Dit het sy geloof versterk eerder as om dit af te breek.

[Maar tog glo hy dat lewe op aarde vanself kon ontstaan, ten spyte daarvan dat sommige ateïste sukkel om dit te verklaar of selfs moed opgegee het om dit te probeer verklaar. Hy is besig om God se eer weg te neem.]

– Stuur ’n e-pos na e-pos@groep7.co.za of besoek groep7-selfpublish-books.co.za om direk te bestel teen R180, of as e-boek by Koba.com teen R107,07. Dr Albert Alberts kan bereik word by albert.snr@gmail.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui