Amptelike verklaring van die NG Kerk Kaapstad/Groote Kerk

Kyk ook:

Alhoewel die NG Kerk se 2016-besluit oor selfdegeslagverhoudings uiters onduidelik is, is die besluit van 2015 wel omgedraai. Ten spyte daarvan het die Groote Kerk in Kaapstad die Algemene Sinode geïgnoreer en hierdie progay verklaring uitgereik.

***********

Amptelike verklaring van die NG Kerk Kaapstad/Groote Kerk

Amptelike verklaring van die NG Kerk Kaapstad/Groote Kerk na aanleiding van die Buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk in 2016 se besluit

Tydens ’n kerkraadsvergadering op 16 November 2016 verklaar die kerkraad soos volg:

God is liefde

Ons weet God het nie kieskeurig lief soos wat ons dikwels liefhet nie.

God het volkome lief. God het almal lief. God is liefde.

Omdat God liefde is en ons deur Sy genade omarm en onvoorwaardelik lief het, betreur ons die verwerping en koudheid wat met liefdelose uitsprake vanuit ons eie midde gepaard gaan. Daarom wil ons dit teenwerk deur nóg meer lief te hê.

Ons is gemaak in liefde, deur liefde vir liefde.

Ons antwoord op God se liefde juis deur liefde te vier en te bevorder orals waar ons liefde sien en ervaar, want daar sien en ervaar ons God se intieme nabyheid.

Ons as leraars en kerkraad van die NG Kerk Kaapstad/Groote Kerk wil ons hartseer uitspreek teenoor die besluit van die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 wat liefde wil beperk, beheer en reguleer. Ons wil onsself ten sterkste distansieer van hierdie besluit.

In ons strewe daarna om bes moontlik navolgers van Jesus se lewe, liefde en manier te wees, wil ons in lyn met die Algemene Sinode van 2015 se besluit aangaande Selfdegeslag verhoudings ons verpligting soos volg nakom:

1. Die verbintenis van liefde tussen twee persone van dieselfde geslag vier en dankbaar wees dat dit nóg ’n uitdrukking is van God se liefde in hierdie wêreld.

2. Hierdie verbintenis van liefde tussen twee persone van dieselfde geslag wat deur God geseën word ook liturgies seën en vier deur ons leraars en gebruik van ons kerkgebou

3. ’n Persoon wat deur God geroep en toegerus is en binne ’n liefdevolle verbintenis met ’n persoon van dieselfde geslag leef, nooi om hierdie roeping van liefde en diens in ons midde te kom leef hetsy as leraar, ouderling, diaken of enige ander amp of rol binne die ligaam van Christus

God is liefde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui