Wat elke NG-lidmaat en Christen behoort te weet

Edmund Burke het gesê: “Al wat nodig is vir die bose om te oorwin is dat goeie mense niks doen nie.” Mag ek, as lidmaat, eenkant staan as my kerk besig is om die spoor byster te raak? Is dit net ánder se taak om iets daaromtrent te doen? Kan ek myself eenvoudig verskoon deur te sê dat ek nie ’n ouderling of ’n predikant is nie? Mag ek maar net my skouers optrek as dit in my eie gemeente goed gaan? Is dit nodig om stof op te skop oor wat na bewering in ander gemeentes, ringe, sinodes en in ons teologiese fakulteite aangaan? Wat kan ek in elk geval daaromtrent doen? Hierdie skrywe wil dié vrae kort en duidelik probeer antwoord en vir u wenke daarstel hoe u ’n bydrae kan lewer.

  1. Ons is nie per abuis lidmate van die NG Kerk nie. God het ons daar geplaas met ’n doel (1 Kor. 12:7,18; Ef. 4:15,16). Dit is waar Hy ons wil ontmoet en bekragtig om die liggaam van Jesus Christus in liefde op te bou en Koninkrykswerk te doen.
  2. Ons behoort aan Jesus Christus, want Hy het ons duur gekoop (1 Kor. 7:23).
  3. Ons geliefde kerk is op die Skrif en die Belydenisskrifte gebou. Al ken elke lidmaat nie die volle inhoud daarvan nie, bly dit nogtans óns Grondwet. Wie daarvan afwyk, is ontrou aan sy beloftes by die aflegging van geloofsbelydenis en het eintlik die reg verbeur om van hierdie kerk lid te wees. Dit maak tog sin, nie waar nie?
  4. Soos wat u seker teen hierdie tyd al verneem het, is daar nou hewige debatte aan die gang oor mense wat ander leer dat die Bybel nie meer geloofwaardig is nie, en wat dinge skryf en sê wat lynreg met ons gereformeerde verstaan van die Bybel bots; dinge soos: Jesus is nie uit ’n maagd gebore nie; Hy het nie uit die dood opgestaan nie; daar is nie ’n hemel of hel nie; daar sal geen wederkoms wees nie; die satan bestaan nie; alle godsdienste is gelykwaardig, ens.
  5. Diegene wat dié dinge verkondig, hou vol dat hulle nie van die leer van die kerk afwyk nie, en hulle sal Sondag op die kansel staan en die gemeente voorgaan in die Geloofsbelydenis. Maar vra jy hulle uit na wat hulle bedoel, word dit gou duidelik dat hulle besig is om die hoorder te bedrieg.
  6. As dit nog nie in jou gemeente gebeur het nie, wees dankbaar. Maar hou in gedagte dat ons toekomstige leraars tans opgelei word deur sommige dosente wat vreemde goed verkondig. Gaan lees ook wat die Algemene Sinode die afgelope sitting oor die nie-bestaan van die duiwel en die aanvaarbaarheid van buite-huwelikse seks besluit het. Vind u dit skokkend? (Gaan kyk byvoorbeeld na Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite, of na die baie meer inligting in die artikels hieronder genoem.)
  7. Wat u ook in gedagte móét hou, is dat besluite van die Algemene Sinode wat nie strook met die Bybel en ons Belydenisskrifte nie, noodwendig sal afwentel na elke gemeente. Dit beteken dat elke gemeente uiteindelik amptelik sal móét besluit om met gemelde dwaalleringe saam te stem of om aktief daarteen op te staan.
  8. Kan ons toelaat dat die kerk môre-oormôre gelei word deur mense wat van die Bybel maak net wat hulle wil? Iewers moet vir mense wat vals leerstellings verkondig ’n streep in die sand getrek word. As hulle nie wil of kan insien dat hulle dwaal nie, staan dit hulle vry om die kerk te verlaat en élders ’n heenkome te vind. Die feit is dat, indien ek daartoe bydra om so ’n leraar se salaris te betaal, ek ewe skuldig is aan enige dwaalleringe wat hy mag verkondig.
  9. As gewone lidmate net niks daaromtrent doen nie, is ons aandadig aan die kwaad. Ons kán iets doen! Ons kan en moet oor hierdie sake bid en ons kan met ons predikante en kerkraadslede hieroor praat en kerkrade hopelik sover kry om besware of tenminste voorstelle vir verbeterings na die sinodes in te stuur.
  10. Al wat nodig is vir dwaalleer om in die kerk te gedy, is vir ware gelowiges om daaroor stil te bly.

 

Vir meer inligting kyk:

  {jcomments on}

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui