Ongereformeerd, inkonsekwent en onbybels

{jcomments on}Ongereformeerd, inkonsekwent en onbybels – dit is die gevolgtrekking wat mens moet maak as gekyk word na heelwat van die besluite van die NG Kerk se Algemene Sinode in die afgelope en voorafgaande paar sittings.

I. Hulle is ongereformeerd, want hul besluit dat lidmate en predikante nie hoef te glo aan die bestaan van Satan as ’n wese nie, is duidelik teenstrydig met wat in die belydenisskrifte staan.  Vergelyk byvoorbeeld die

Heidelbergse Kategismus:  Vraag en antwoord: 1, 9, 32, 34, 112, 123, 127, en die Nederlandse Geloofsbelydenis:  Artikels 12, 13, 14 en 37.  Byvoorbeeld in die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 12, staan: “Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is”.

“Kerkbode” het die besluit soos volg op www.facebook.com/kerkbode aangekondig:

“Die #NGKerk se Algemene Sinode het pas aanvaar daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en die duiwel anders interpreteer.  In effek beteken dit lidmate van die NG Kerk hoef nie in die bestaan van die duiwel as ’n persoonlike wese te glo nie. Die sinode is dit egter eens dat boosheid wel bestaan.”

Dit beteken hulle sal die belydenisskrifte moet wysig tensy hulle op hierdie punt ook bereid is om inkonsekwent te wees.  Gaan hulle die bestaande belydenisskrifte wysig?  Daar was nie sprake daarvan in die afgelope sitting sover ek weet nie.

II. Maar die Algemene Sinode is in elk geval inkonsekwent want hul doopbesluit is gemotiveer uit die strewe om deel van die gereformeerde kerke te bly (kyk hieronder), maar bogenoemde en ander besluite is teenstrydig met wat in die belydenisskrifte staan. Of is hul onuitgesproke siening in elk geval dat hulle die belydenisskrifte net selektief aanvaar?  Indien wel, wat is die basis vir hul seleksie?  Dit kan nie die Bybel wees nie, want gereformeerdes behoort te glo dat die belydenisskrifte die korrekte vertolking van die Bybel in alle opsigte is.

Die Algemene Sinode het só besluit oor die doop – let op die woorde “gereformeerde oortuiging” en “gereformeerde verstaan”:

1. Die Algemene Sinode bevestig ons gereformeerde oortuiging dat die Verbondsdoop uitdrukking gee aan die grondwaarheid van die Evangelie dat God se genade en trou te alle tye ons gelowige aanvaarding daarvan voorafgaan en selfs omsluit.

2. Die Algemene Sinode vra daarom kerkrade en predikante om die gereformeerde verstaan van die verbondsdoop met oortuiging en deernis te verduidelik en te bevestig, ook aan lidmate wat ander oortuigings oor die doop huldig.

Om hulle hier op gereformeerdheid te beroep, maar elders die duidelike gereformeerde uitsprake in die belydenisskrifte te ignoreer, dui eenvoudig op inkonsekwentheid.

III. Die Algemene Sinode se besluite is ook onbybels, want hul neiging om die Bybel eerder te sien as woorde OOR God as woorde VAN God, en daarom ook die Bybel net selektief te glo soos dit hulle pas, laat hulle besluite maak wat teenstrydig met die Bybel is. 

Op hierdie manier skram hulle daarvan weg om enigiets sonde te noem, selfs homoseksuele uitlewing en voorhuwelikse en buitehuwelikse seksuele gemeenskap word nie sonde genoem nie.

Die naaste wat hulle daaraan kon kom om dit in sommige gevalle af te wys, is:

“Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.” 

Erger nog – sekere buitehuwelikse seksuele verhoudings wil die Sinode nie eers afwys nie – inderwaarheid reken hulle binne sekere saamwoonverhoudings reflekteer dit in baie opsigte Bybelse waardes en – kan jy glo – daardeur ag die saamwoners die huwelik glo hoog!:

“Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.”

Die onbybelse aard van hul duiwelbesluit, kan gesien word uit byvoorbeeld die volgende gedeeltes in die Bybel: Gen. 3, Job, Mat. 4, Luk. 4, Joh. 8:38-59 en Judas 1.  Selfs vir diegene wat Genesis metafories of mities wil hanteer (fout no. 1), behoort die res van die Bybel die aard en werklikheid van die Satan genoegsaam uit te spel.

NG-gemeentes wat nie ook ongereformeerd, inkonsekwent en onbybels wil wees nie, sal hulle dus van die Algemene Sinode se besluite moet distansieer.  

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui