Geforseer om plakkate by sinode te verwyder

Voor die aanvang van die NG Kerk se algemene sinode in Oktober 2011 is reeds berig dat die sinode sou besluit oor saamwoon, grootdoop, kerkeenheid en duiweluitdrywery. Behoudendes het geweet dat die kans goed sou wees dat die sinode ‘n liberale aanslag sou hê teenoor die besluite en daarom het Louis le Roux ‘n plakkaatveldtog geïnisieer.

Die sinode het Maandag, 10 Oktober 2011 begin en elke dag het Louis by die konferensiesentrum opgedaag met sy plakkate. Die Donderdag is hy egter geforseer om die plakkate van die lamppale te verwyder en moes hy homself ook verwyder.

Onderstaande is Louis le Roux se mededeling van die gebeure.

Dit is duidelik dat die plakkate se boodskappe vir ’n paar sinodegangers (waarskynlik die leiers?) te ongemaklik was.  Dis nogal vreemd, want die boodskappe was maar oproepe om ernstig te wees oor die Bybel, en die sinodeleiers het voor die tyd verklaar dat hulle in die sittings gaan hoor wat die Here sê, met nogal oop Bybels voor hulle.

Vir meer oor hierdie aangeleentheid, kyk Plakkaatveldtog tydens 2011 sinode.

*******

Liewe vriende, ek dink dit is noodsaaklik dat ek u net kortliks inlig oor presies wat op Donderdag 13 Oktober by die Birchwood Konferensie sentrum gebeur het.

Ek het net na 07:00 by die sentrum opgedaag, my kampstoel en die los plakkate wat ek elke dag rondom my uitgestal het uit my motor gehaal en rustig gaan sit. Om ongeveer 08:00 het die hoof van sekuriteit van die sentrum my genader en my versoek om die plakkate wat teen die lamppale vasgemaak was onmiddelik te verwyder.

Ek het hom vriendelik daarop gewys dat die sypaadjie waarop die lamppale staan nie aan die sentrum behoort nie maar aan die plaaslike Munisipaliteit en dat ek goedkeuring van die Munisipaliteit het om die plakkate op die pale te vertoon. Ek het selfs vir hom die amptelike plakkertjies wat op elke plakkaat aangebring was gewys. Hy was egter vasbeslote dat ek die plakkate moes verwyder want daar was volgens hom mense binne die sentrum wat nie baie gelukkig was oor die plakkate nie en die bestuurder van die sentrum het hom opdrag gegee om toe te sien dat die plakkate verwyder word. Voorts het hy my ook versoek om die los plakkate te neem en myself uit die voete moet maak want hulle wil my ook nie daar hê nie.

Omdat ek nie ’n “scene” wou maak nie het ek my stoel en die los plakkate in my motor gaan sit en begin om die plakkate van die lamppale af te haal. Ek het skaars begin toe twee sekuriteitsbeamptes die plakkate met messe van die lamppale begin afsny het. Hulle wou dit by die sentrum indra maar ek hulle duidelik daarop gewys dat dit my eiendom is en dat hulle dit in my motor moes sit.

Binne ’n halfuur was alles verwyder en het ek koers gekry terug huistoe. Uit die aard van die saak was ek diep teleurgesteld en baie hartseer. Ek kon nie glo dat mense geen probleem met die plakkate gehad het vanaf Sondag tot en met Woensdag nie en nou skielik was dit nie aanvaarbaar nie.  Toe ek egter later die middag ’n foto op die Kerkbode se “facebook” sien waar Sinodegangers middagete nuttig saam met hul ekumeniese vriende het ek ’n rot geruik. Die plakkate sou vir die NG Kerkleiers ’n geweldige verleentheid gewees het wanneer hul ekumeniese vriende daar opdaag. Daar kan geen ander logiese verklaring vir die gebeure wees nie.

Neem asseblief kennis dat al die plakkate veilig in my motorhuis weggepak en toegesluit is.

Ek wag nou vir die Ekurhuleni Metro Munisipaliteit om my te laat weet wanneer ons die deposito van R700 gaan terugkry wat ons moes betaal vir goedkeuring.

Groetnis

Louis

——————-

Gaan kyk hoe “Kerkbode” op die plakkate en die “enkele betoger” gereageer het op hul facebook/kerkbode. Toepaslike uittreksels daaruit verskyn ook hier op 2011-Algemene Sinode op facebook/kerkbode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui