Die Humpty Dumpties in die NG Kerk

Die Humpty Dumpties in die NG Kerk

2011-10-03

Diversiteit en Diversiteitsbevordering word op hierdie forum as die hoof fokus in die vooruitsig gestel.

Daarmee saam neem ek aan moet diverse semantiese betekenisse van woorde ook aan die beurt en in die ope kom; en dan bedoel ek nie die verskillende sinonieme wat dieselfde woord mag hê nie.

Socrates het gesê om woorde foutiewelik en onbepaald te gebruik, is nie alleen maar net ’n fout nie, maar veroorsaak bedorwenheid van die gees.

So het ons Vaders van die Reformasie ’n sekere semantiek aan bepaalde woorde gekoppel wat deur die eeue heen deur almal op een basiese manier verstaan en geïnterpreteer was.

Met die koms van modernisme en postmodernisme wat diverse betekenisse aan eens bekende terme toeskryf, word die Kerk binnegedring op die rug van die leuen, want met die toepassing van vernuftige bewegings wat dié van ’n bekwame gimnas ewenaar, word bekende terme gebruik om ’n vreemde, diverse idée tuis te bring wat in ons moderne tyd met sy inligtingstsunami, ons so oorspoel dat selfs die vreemde betekenisse vir ons begin aanvaarbaar klink en ons dit moeilik vind om die waarheid en die leuen van mekaar te onderskei.

Semantiese gimnastiek het die strategie geword van diegene wat op ons kansels staan en nie meer die Gereformeerde dogmas ondersteun nie maar steeds hul geld moet verdien in die vorm van bydraes van elke stilswyende, vredeliewende lidmaat. Met hul vernuftige woordkeuses en reelmatige herhaling van vreemde idees, word ons lidmate so kondisioneer dat Jesus Christus as die enigste Weg na die Vader, uit ons midde gesteel en met ’n mengelmoes van moontlike tussengangers tussen God/god en mens, verruil en vermeng word en word die hart van die Gereformeerde Christelike Kerke uitgeruk sonder slag of stoot.

Hulle mag die Gereformeerde dogmas nie openlik en op ’n eerlike wyse verwerp nie, want dit sou te ooglopend wees en tot hul skorsing en ontslag lei; dus is die alternatief om die dogmas te herdefinieer. Sodoende is dit bitter moeilik om te identifiseer dat hulle eintlik hul Legitimasie Eed verbreek het. Vir hulle is God nie meer die “Skepper van die Hemel en die aarde” nie maar eerder die algehele besorgdheid oor die kosmos; Jesus se fisiese opstanding het die semantiese inhoud gekry van Sy voortgesette invloed na Sy dood ens.

As ons nie vooraf oor die betekenis van ’n woord ooreenkom nie, is die noodwendige uitkoms van ons kommunikasie met mekaar, een van misverstande, konflik en onsekerhede; begrippe wat vir die liberalis aanvaarbaar is want in die proses kan hy die hele institusionele Kerk kaap en sit die Christene met ’n leë dop.

So ’n proses is daarop afgestem om alle Christelike Dogmas en Etiek te vervang met Pseudo-Christelike retoriek.

En as in Rapport gerapporteer word dat Dr Kobus Gerber sou gesê het : “As kerkvergadering vergader ons met ons oop Bybels in die teenwoordigheid van die Hoof van die Kerk, Jesus Christus ons Here. Ons moet sy stem hoor. Ons moet onderskei wat sy wil is met betrekking tot die sake op die agenda,”, wil ek weet of ek en hy nog dieselfde Jesus Christus bedoel veral gesien in die lig van sy betrokkenheid by die positiewe, sagte hantering van die homoseksuele kwessie na die vorige Sinode sitting. Dit wat hulle op die tafel geplaas het, sny lynreg oor dit wat die einste “oop Bybel” oor die onderwerp sê.

Of wat bedoel hy met “oop Bybel”; is dit die fisiese oop Bybel waarin ons na teksverse gaan soek om die waarheid betreffende ’n bepaalde saak te probeer ontdek, of is dit weer ’n semantiese gimnastiek vertoning waarin “oop Bybel” verwys na ’n Bybel wat oop is vir diverse interpretasies soos dit ons begeertes en verdorwe harte se wense pas?

Want kyk ons na die aanloop tot die Sinode sitting, is alle aanduidings dat met “eenheid” nie bedoel word “eenheid in Geloof” nie maar eenheid van denominasies soos ’n nader kruip aan die Rooms Katolieke Kerk; ’n meer tolererende houding teenoor saamblyers ten spyte van die Bybel se uitdruklike voorskrifte; ’n beweging na die groter inperking van die uitoefening van die outoriteit van Christene oor demone en satanistiese praktyke ten spyte van die Skrif se uitdruklike erkenning aan Satan as persoon en die gevalle engele en bose geeste teen wie die Kerk van Jesus Christus se stryd in werklikheid is.

In sy frustrasie met Alice wat hom nie verstaan het nie, het Humpty Dumpty vir haar gesê: wanneer ek ’n woord gebruik, beteken dit presies wat ek kies om daarmee te bedoel, niks meer en niks minder nie. So, lyk dit my, gaan dit met meeste van die flink ondersteuners en bevorderaars van die diversiteitskonsep veral met betrekking tot kwessies wat baie duidelik deur die Bybel verwerp word en/of gladnie die bedoeling van die Skrif is nie.

Die enigste motivering wat enigiemand kan hê vir die gebruik van semantiese gimnastiek soos hierbo uiteengesit, is om verwarring te saai en op oneerlike wyse met die Woord om te gaan en lidmate te mislei wat Sondag na Sondag na die Kerk gaan om ten diepste te hoor wat God deur Sy dienaar vir ons te sê het maar dan salig onbewus daarvan na ’n wolf in skaapsklere luister.

Ek dank die Here vir die Predikante wat nog vasstaan op die Bybel as die onfeilbare en Heilige Woord van God. Mag hul bediening van krag tot krag gaan en mag God gee dat diegene wat hul onwetend op die pad van verleiding bevind, tot nuwe insigte kom en terugdraai na God en Sy Woord.

Hierdie komende Sinode gaan ’n baie groot invloed hê op baie lidmate se besluit of hulle nog kans sien om in die NG Kerk met sy vernuwende baadjie te wil bly, of gaan dit die einde van ’n pad wees waar hulle nie meer kans sien om met ’n groep Kerkleiers en Leerkragte saam in ’n Kerk te dien wat God se Naam, Sy Woord en Sy Almag verloën en eerder na die opinies luister en na die pype dans van Ateïste en Liberales wat Goed sleg noem en sleg goed en mense selfs aanmoedig om die slegte te doen wetende dat God dit ag as ’n gruwel in Sy oë.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui