Plaas die Algemene Sinode onder tug!

Onderstaande is die skrywe van dr. Wynand Louw, soos uitgestuur aan duisende NG-predikante, en soos verskyn op sy webwerf www.hierstaanek.com 

 

Plaas die Algemene Sinode van 2011 onder die Kerklike Tug!

16 Sunday Oct 2011 Posted by hierstaanek in Uncategorized ≈ 5 Comments 16/12/2011

Aan: Die onderskeie ringe van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat deelgeneem het aan die pas afgelope Algemene Sinode van die NG Kerk.

1. Aansoek dat die leraars van die ring wat deelgeneem het aan die Algemene Sinode van die Nederduits Gereformeerde Kerk van 2011 ondervra word en indien dit blyk dat hulle vir die ondergenoemde resolusie gestem het, hulle onder Kerklike Tug geplaas word.

2. Aansoek dat Dr Ben du Toit van die Wes en Suid Kaapse Sinode onder Kerklike Tug geplaas word.

Rede vir hierdie aansoeke

1. Klag: Dat die betrokke leraars van die NG Kerk hulle legitimasie belofte verbreek het. “Ek, … (naam)… verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid …. ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om die voornoemde leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks en onregstreeks, te leer of te skrywe . . . so verwerp ek alle dwalinge wat teen hierdie leer stry, en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die Kerk te weer …” Hierdie leraars het dus onder eed voor God en die gemeente verklaar, dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om dwalinge wat met die Bybel en belydenisskrifte in stryd is te weerlê, daarteen te stry, en uit die kerk te weer, en hulle is op grond van hierdie eed as ampsdraers van die NG Kerk aangestel. Verwerping van hierdie eed sou dus beteken dat hulle nie verder ampsdraers in diens van die NG Kerk kan wees nie.

2. Volgens artikel 61 van die Kerkorde is enige sonde wat indruis teen die Woord van God en die belydenis van die kerk tugwaardig

3. Op 12/10/2011 het die Algemene Sinode die volgende besluit geneem: Die aanhaling is uit die agenda van die sinode, dit is op die datum net so deur die sinode bekragtig. 14.7: Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

4. Die afleiding is dat die sinode doelbewus ruimte in die kerk skep vir leraars (soos dr Ben du Toit) wat die bestaan van die duiwel ontken.

5. Dr Ben du Toit van die Wes en Suid Kaapse Sinode word op 12/10/2011 in BEELD aangehaal as volg: “Daarteenoor het dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus egter absoluut. Hy het gepleit dat daar ook vir mense soos hy ruimte geskep sal word.” http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/NG-Kerk-laat-ruimte-vir-botsende-sienings-oor-duiwel-20111012 BEELD 12/10/2011

6. Om die bestaan van die duiwel te ontken is godslasterlik om die volgende redes: a. Jesus het aan sy dissipels vertel dat die duiwel met hom in gesprek in die woestyn gegaan het. Dit is opgeteken in die Woord van God in die drie sinoptiese Evangelies. b. Jesus beskryf die duiwel as ’n leuenaar en ’n moordenaar: Joh.8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen. c. Indien die duiwel nie sou bestaan nie beteken dit dat Jesus of ’n leuenaar is of geestelik versteurd is. Sy ontmoeting in met die duiwel was dus bloot ’n hallusinasie. d. Aangesien ons bely dat Jesus God is, is dit godslasterlik in die ergste graad.

7. Om die bestaan van die duiwel te ontken is ’n direkte aanslag op die geloofwaardigheid van die Bybel, aangesien die Bybel van die boek Genesis tot Openbaring getuig dat die duiwel ’n persoon is. Op. 20:2 Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind.

8. Om die bestaan van die duiwel te ontken is ’n verwerping van die geloofsbelydenisse waarop ons kerk gebou is. Verwys asseblief na uittreksels van die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis hieronder.

9. Om “ruimte te skep” vir godslasteraars wie die bestaan van die duiwel ontken is om doelbewus dwaalleraars in die kerk in te nooi en te bemagtig, en is dus sonde. Dit is ook ’n blatante verbreking van die legitimasie belofte wat elkeen van die betrokke leraars afgelê het om teen enige dwaallering wat die Bybel en ons belydenisskrifte weerspreek te stry.

10. Hierdie sonde is in die openbaar gepleeg, en skep reeds sensasie landwyd. Dit val dus in die kategorie “Sondes wat openbare aanstoot gee.” (Dit is ook waarom hierdie epos so wyd versprei word)

11. Hierdie aksie vernietig die NG Kerk se geloofwaardigheid teenoor sy eie lidmate en die res van die wêreldwye liggaam van Christus.

Doel van hierdie aansoek

Die doel van die kerklike tug in die algemeen en hierdie tugaansoek in besonder is nie om individue verdag te maak, te vervolg of ’n heksejag teen hulle te voer nie. Dit is ook nie die doel om onenigheid in die liggaam van Christus te saai nie. Daar sal diegene wees wat dit beweer, ek wil hulle graag by voorbaat antwoord. Die doel is tweeledig.

1. Om die Evangelie van God se ongelooflike liefde en genade aan die leraars te verkondig wat as gevolg van hulle sonde in dwaalleer verval het. Dit blyk dat die onderliggende filosofie agter die verwerping van die bestaan van die duiwel panenteïsme is, soos ek verduidelik by hierdie artikel: http://hierstaanek.com/2011/09/22/31/ . Die waarheid is, ons weet almal instinktief ons is nie god nie. Ons weet dat God se wil nie aan ons wil onderwerp is nie. Die goeie nuus is dat, omdat God ons onvoorwaardelik liefhet en omdat Hy sy Seun vir ons aan die kruis laat spyker het, ons nie nodig het om te probeer om self god te wees nie! Sy genade maak ons vry – ook van ons eie godswaan! Ek wil hierdie dwaalleraars smeek om tot bekering te kom, God se genade te aanvaar en sy onuitspreeklike vrede en vreugde te ervaar!

2. Die dwaalleer dat die duiwel nie bestaan nie is godslasterlik, destruktief en vernietig geloof. As Jesus ’n mal leuenaar was soos hierdie dwaalleraars by implikasie beweer, waarom kom ons dan nog kerk toe? Hoe kan ek dan glo dat Hy vir my sondes gesterf het? God beveel ons om dwaalleraars uit die kerk te ban, omdat hulle sonde sal lei tot die ewige verdoemenis van baie mense . Ek het die lidmate van die NG Kerk te lief om stil te bly. Indien u sou besluit om nie die betrokke leraars te tugtig nie verwag ek van elke ring ’n skriftelike verduideliking waarom nie, soos wat dit in die kerkorde van die NG Kerk beveel word.

U kan my kontak by

1. hierstaanek@imaginet.co.za

2. www.hierstaanek.com

Groete

Wynand Louw

 

Aanhangsels

Artikel 61 van die Kerkorde van die NG Kerk

Tugwaardige sondes

61.1 Tugwaardige sondes is sondes wat indruis teen die Woord van God en die belydenis van die Kerk.

61.2 Sondes wat openbare aanstoot gee of wat na aanleiding van die voorskrifte van Matteus 18:15 – 17 onder die aandag van die Kerk kom, stel die oortreder(s) bloot aan ’n amptelike tugondersoek.

61.3 Wangedrag deur werknemers van die kerk in terme van diensverhoudinge kan ook tugwaardige sondes wees.

61.4 Die kerklike opsig gaan oor die hele lewenswandel (leer en lewe) van al die lidmate (doop en belydend) van die gemeente, ampsdraers ingesluit.

Die Heidelbergse Kategismus

1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien . Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe

9 Vraag: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie? Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens het himself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

32 Vraag: Waarom word jy ’n Christen genoem (a)? Antwoord: Omdat ek deur die geloof ’n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).

34 Vraag: Waarom noem jy Hom ons Here? Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).

112 Vraag: Wat eis die negende gebod? Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie ’n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).

123 Vraag: Wat is die tweede bede? Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).

127 Vraag: Wat is die sesde bede? Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).

Die Nederlandse geloofsbelydenis

Artikel 12 Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf verval, maar die ander het deur die genade van God in hulle toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so ‘ ontaard dat hulle vyande van God sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui