Vasgevang in ’n Calvinistiese paradigma?

Kyk ook:

Sommige mense se opinie is dat ons soms in ’n Calvinistiese paradigma vasgevang is en dat ’n mens meer op Jesus se insluitende liefde moet fokus, eerder as sonde. Calvyn het met die gedagte van sonde-verlossing-dankbaarheid gekom:

  • Ons is in sonde gebore en het ’n sondige natuur.
  • Ons het Jesus se verlossing nodig.
  • Ons moet dit met dankbaarheid aanvaar deur in Hom te glo en ’n lewe te lei soos voorgeskryf deur die Bybel (natuurlik bepaal die Bybelse lewe nie jou verlossing nie, maar geloof sonder dade is dood – Jakobus 2:17).

Dit is baie waar dat dit baie belangrik is om nie alewig vir mense te probeer sê hoe sleg hulle is nie. Dit is demoraliserend. ’n Mens wil op die positiewe fokus – Jesus se liefde. Ek het ook al stories gehoor van moslemvroue wie se lewens handomkeer verander het toe hulle gehoor het dat God lief is vir hulle (vroue word nie baie hoog geag in die moslemkultuur nie). Dit het ook veroorsaak dat hulle tot bekering gekom het.

Ek kry egter die idee dat vir die moderne Westerling is ’n God van liefde nie ’n vreemde gedagte nie. Trouens, die liefde van God is deesdae al wat die moderne/liberale teoloë van God en die Bybel glo. Daar word meer en meer weg beweeg van God se straf en oordeel. Daarom glo ek dat ’n mens eerder vroeër as later mense moet konfronteer met hulle sonde en dat ons almal die ewige dood verdien. Ek wonder of hierdie benadering nie selfs meer effektief is as om heeldag en aldag God se liefde te verkondig nie.

Ek kan die volgende youtube-videotjies sterk aanbeveel wat hierdie benadering baie mooi illustreer:

Dus, kan ’n mens nie veralgemeen deur te sê dat ons meer op Jesus se liefde moet fokus eerder as sonde nie. Dit hang af met wie jy praat. Soos reeds gesê dink ek die moderne Westerling kan gerus meer hoor hoe sondig hulle is en dat hulle Jesus nodig het om hulle sonde te vergewe.

Kyk ook die pamflet Dink jy dat jy ’n goeie mens is? wat ek eenkeer gekry het. Hierdie klink na harde woorde op papier, maar dit is presies in lyn met die Bybel en ons belydenisskrifte. ’n Mens sal dit egter reg moet aanbied aan mense, soos in die videotjies hierbo.

Die volgende dele in die Bybel wys hoe ernstig ’n mens sonde moet opneem:

Matteus 7:21-23

(21)“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. (22)Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ (23)Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Matteus 18:15-17

(15)“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. (16)Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. (17)En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

Lukas 3:8-9

(8)Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. (9)Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

Johannes 8:11b

(11b)“Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Romeine 6:1-2

(1)Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? (2)Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?

1 Korintiërs 5:11-13

(11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12-13)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

1 Korintiërs 6:9-10

(9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Galasiërs 5:19-25

(19)Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, (20)afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, (21)afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. (22)Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, (23)nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. (24)Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. (25)Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Efesiërs 4:26

(26)As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.

Hebreërs 10:26-27

(26)Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. (27)Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.

2 Petrus 2:4-9

(4)God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. (5) Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered. (6)Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. (7) En tog het Hy vir Lot gered, ’n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. (8)Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ’n foltering was vir sy opregte gemoed. (9)Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou.

1 Johannes 2:1-6

(1)Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig — ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. (2)Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. (3)As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. (4)Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. (5)Wie sy woord egter gehoorsaam — in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. (6)Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

1 Johannes 3:6-8

(6)Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie. (7)Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; (8)wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

1 Johannes 5:18

(18)Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie. 19Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is.

Judas 1:3-7

(3)Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. (4)Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus. (5)Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. (6)Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. (7)En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.

Johannes Facius het die volgende in ’n reeks met titel “Sitting at the feet of Jesus” in Skotland in September 2011, gesê:

Mense sê: die belangrikste van alles is liefde. Nee, die belangrikste van alles is reinheid.

Jakobus 3:17-18

(17)Maar die wysheid van Bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg. (18)En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

Die wysheid van Bo is eerste rein, dis nie eerste liefde nie. Dit is nie eerste vredeliewend nie. Dit is nie eerste sagmoedig nie. By verre die belangrikste karaktereienskap van God is nie liefde nie; dit is heiligheid. Ons moet verstaan dat ons God moet eer en ons moet onderwerp tot die heiligheid van God. Sommige kerke verskil vandag oor die onderhouding van sekere van die tien gebooie – hulle beweer dat dit nie so belangrik is nie, solank ons mekaar net altyd liefhet. Hulle is besig met, wat ek sou noem, ’n dwaalleer, want die liefde van God is nie ’n humanistiese soet stropie nie. Die liefde van God kan baie, baie sterk wees, want as dit nie rein is nie, is dit nie God se liefde nie. As dit alles net oor liefde gaan, kan ’n mens nie indink dat God miljarde mense hel toe sal stuur nie. En daarom begin mense te sê dat daar nie ’n hel is nie. Selfs welbekende predikers soos John Stott skryf in sy boeke dat daar nie ’n hel is nie. Hulle is mislei deur humanisme – God kan mos nie ’n God van liefde wees en mense hel toe stuur nie. Ja o, Hy kan en Hy sal. Dit is in die Boek. So, stop asseblief al hierdie sentimentele nonsens. Daarom, éérste reinheid en dán liefdevol, vredeliewendheid, sagmoedigheid en die res.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui