10 vrae aan Danie Mouton

Kyk ook:

Die volgende onderhoud met ds Danie Mouton is in die Kerkbode gepubliseer (kyk hier). Let op na ds Jan Louw se kommentaar hierop aan die onderkant van die artikel.

**********

Ds Danie Mouton, skriba en direkteur: begeleiding van die Sinode van Oos-Kaapland van die NG Kerk, is die voorsitter van die direksie van Bybel-Media en Tydskriftemaatskappy, en was onlangs meermale in die nuus. FRITS GAUM het met hom gesels.

1 Wie is Danie Mouton?
Nuuskierig verby, denker, Areopagiet, ’n klein vissie wat van ’n groot dam hou, eggenoot en pa, dominee.

2 Ek het Bybel-Media se pragtig versorgde jaarverslag onder oë gehad, en wil jou, die direksie, bestuur en personeel gelukwens met ’n reeks baie mooi prestasies van Bybel-Media. Die agt departemente in Bybel-Media het elk op eie terrein gepresteer – van publikasies tot elektroniese media tot missionêre bedieninge. As jy drie dinge moet uitsonder waaroor Bybel-Media die dankbaarste kan wees, wat sou dit wees?
Bybel-Media het wonderlike, toegewyde personeel, met ’n manjifieke uitset. Ons het getroue, lojale donateurs uit elke uithoek van ons subkontinent. Ons produkte spreek van besondere gehalte: Van ons kerkkoerant en gesinstydskrif, ons boeke en kategesemateriaal, tot ons kursusse vir die toerusting van gelowiges en kerkleiers.

3 Bybel-Media het pas die opspraakwekkende boek van Jaap Durand gepubliseer – Evolusie, wetenskap en geloof. Cas van Rensburg skryf in ’n positiewe bespreking van die boek in Rapport: “Dit is ’n dapper man om in sy 80ste jaar ’n veld te betree wat hom sekerlik ’n paar klappe gaan besorg.” Is Bybel-Media dus bereid om van tyd tot tyd boeke te publiseer wat in bepaalde opsigte omstrede standpunte stel?
Bybel-Media kies doelbewus om innoverende bydraes tot teologiese denke te publiseer. Teilhard de Chardin – Jesuïet-monnik, paleontoloog en geoloog – oor wie Jaap Durand se boek handel, het ’n besondere bydrae gelewer om evolusieteorieë met God as Skepper en Oorsprong in verband te bring. Dit is belangrik om van sy werk kennis te neem. Deur hierdie werk in toeganklike Afrikaans te publiseer, verskuif Bybel-Media beslis grense. Voorts hoef ’n uitgewer nie met elke woord van die teks wat hy publiseer saam te stem nie. Durand gaan self ook baie krities met sy “onderwerp”, De Chardin, om.

4 Hoe sien jy die “oop gesprek” in die teologie en in die kerk, waarin daar soms van die gebaande weë afgewyk word?
Oop gesprek is die lewensbloed van die kerk – nie net in die verbandstrukture nie, maar ook in gemeentes. Deur oop gesprek onderskei ons ons roeping as kerk. Oop gesprek is die dissipline van luister, óók na die buitestander en vreemdeling. Hierdie gesprek bring die bronne van ons geloof met ons konteks in verband, sodat geestelike insig gebore word oor prioriteite vir aksie. In oop, soekende gesprek, is God se toekoms in Christus vir God se skepping ook ’n belangrike oriëntasiepunt.

5 In aansluiting daarby: Kan ’n produk van Bybel-Media/Tydskriftemaatskappy, synde die media-arm van die NG Kerk, na jou mening afwyk van standpunte van die Algemene Sinode oor, sê, die doop of homoseksualiteit of die Belydenis van Belhar?
Of is Bybel-Media/Tydskriftemaatskappy gebonde aan besluite van die Algemene Sinode? Bybel-Media het nog nooit ’n hansie-my-kneg-verhouding met die Algemene Sinode gehad nie. Ons innoveer en stimuleer denke. Só maak ons ’n impak op die oortuigings wat in die kerk lewe. As mediamaatskappy is ons natuurlik ook diensbaar aan die NG Kerkfamilie. Dit impliseer dat ons uit eie oortuiging lojaal aan die gereformeerde tradisie is, en graag uitvoering aan die prioriteite van die Algemene Sinode gee. Die uiters suksesvolle produkte vir die Luisterseisoen is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ons amptelike kategesemateriaal is nóg een.

6 Die onlangse Woordfees-Kerkbode-voorval het ten regte of ten onregte baie publisiteit in die openbare pers gekry. As jy nou daarop terugkyk: Is daar iets wat jy reken die direksie dalk anders kon hanteer het?
Die oorspronklike mediaverklaring kon die teologiese motivering vir die onttrekking van die Woordfees-borgskap veel helderder uitgespel het. Die direksie het ongelukkig onmiddellik daarná in arbeidsregtelike kwessies verstrengel geraak, sodat ons onvoorsiens nie aan die hete openbare Woordfees-Kerkbode-debat kon deelneem nie. Ons wou saamgesels oor verantwoorde openbare gesprek, wat na ons mening júis deur die wyse waarop die Woordfeesdebatte opgestel was, ondermyn is. Ons was verras en geskok oor die venyn van mense wat glo voorstanders van oop gesprek is. Die kerk kan hieruit baie oor die openbare gesprek leer.

7 Wat is die grootste ideale wat jy vir Bybel-Media in die volgende drie jaar het?
Daar is só baie, ek kan moeilik iets uitsonder! Nóg innoverende teologiese publikasies, soos Ernst Conradie se Lewend en kragtig? In gesprek oor God se handelinge in die wêreld, wat pas die Andrew Murray-prys verower het. ’n Wyer palet kategesemateriaal, ook vir volwasse geloofsvorming, wat van nog méér multimedia gebruik maak. ’n Kerk wat lekker sing met ons Flam- en Vonkk-produkte. En gevangenes wat die Here met ons kursusse leer ken en dien.

8 En vir die NG Kerk?
My ideaal is ’n NG Kerkfamilie wat mekaar vind en in een huis tereg kom.

9 En vir die Southern Kings?
Wen! Wen! Wen! Dié fantastiese span bring ’n wonderlike, diverse groep ondersteuners bymekaar en skep op ­hierdie manier broodnodige sosiale kohesie. Ons Oos-Kapenaars gaan baie daarby baat.

10 Hoe sien jy die toekoms van Kerkbode, die oudste steeds bestaande Afrikaanse blad in die land?
Kerkbode moet die kreatiewe spanning tussen sy rol as amptelike mondstuk en spieël van die kerk, en ondersoekende, verkennende joernalistiek in balans hou. Inhoudelik is die blad tans ’n uitstekende produk, wat ongelukkig nie altyd in die NG Kerk die erkenning kry wat dit verdien nie. Produksie van die koerant is egter baie duur. Die digitale revolusie is op ons, en Kerkbode sal dié brander moet leer ry. Aangesien die kerk lewend en dinamies is, het Kerkbode as spieël daarvan ’n blink toekoms.

Kommentaar

Jan Louw, 2013-06-26

Danie Mouton volhard daarin om voorbrand te maak daarvoor dat Bybel-Media “oop gesprek” moet bevorder. Ek wil daaroor net ’n paar opmerkings maak:

Wat in praktyk gebeur is dat Bybel-Media voortdurend aan mense met kontroversiële standpunte ’n platform gee en so aansien gee aan daardie mense en hulle opinies. Dit bring mee dat die NG Kerk, (nie Bybel-Media nie) om verkeerde redes in die nuus kom. Die NG Kerk word herhaaldelik in omstredenheid gedompel soos die onlangse Woordfees debakel bewys het. Jean Oosthuizen het hom immers al die jare met die ondersteuning van Danie beywer vir hierdie Oop Gesprek, totdat dit skynbaar om een of ander duistere rede te ver gegaan het.

Die huidige styl van Oop Gesprek deur Bybel-Media veroorsaak rusie in die kerk. Lidmate wat beswaar maak en die Evangelie wil verdedig word verdag gemaak en daar word ’n etiket van fundamentalisme om hulle nekke gehang. Dit veroorsaak wantroue en verwydering.
Ek verskil van Danie as hy sê dat oop gesprek deel van die “lewensbloed” van die kerk moet wees, ook in gemeente verband. Ek het my rol as gemeenteleraar al die jare probeer volbring in ooreenstemming met Paulus se “om te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid” (1 Tim 2:7). Dit geld van kategese, prediking en pastoraat. Hoe pas hierdie Oop Gesprek in by Paulus se visie van “om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek” (2 Tim 3:16?

Die tydskrif “Juig” se visie is “om God te verheerlik deur te onderrig, in te lig en ’n Bybelse wêreldbeskouing te bevorder”. Is dit nie juis waaraan ons lidmate behoefte het nie? Danie kla dat die Kerkbode nie altyd die erkenning kry wat dit verdien nie. Miskien is daar meer mense soos ek wat ’n weersin het daarin om voordurend gekonfronteer te word met opinies van mense wat die waarhede van die Bybel bevraagteken – en dit in jou kerk se amptelike mondstuk. Daar is genoeg debatte en ontsteltenis in die wêreld. In die kerk wil ons opgebou en versterk word in ons geloof.

1 thought on “10 vrae aan Danie Mouton”

  1. Goeie more Jan. Baie dankie vir jou bydrae in die saak. Baie dankie vir jou bydrae in die saak. Ek het nogals gewonder Danie en ‘n hele paar ander teoloë. Dit lyk vir my asof die wie behoudend was (veral die wie nog werk op universiteit vlak) meer besorg is oor hulle eie geld as om gehoorsaam te bly aan die Here. Dis om hierdie rede wat die kerk soveel onodige skade gelei het. Daarom dank ek die Here vir manne soos jy en die Kairos Netwerk wat kies om stroomop te loop soos wat die Bybel van ons verwag.

    Tans bevind ek myself binne ‘n gemeente wat weier om enige standpunt in te neem ten opsigte van die 2019 ASM besluit. Daarom het ek aangesluit by die Kononia Sinode waar ek more saam met hulle gaan praat oor die pad voorentoe. Dit sal lekker wees as ons dalk kan gesels via Zoom. Ek sal baie graag jou storie wil hoor.

    Groete en Seën
    Thean Zeelie
    071 689 3086

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui