Teologiese Opleiding: Só maak mens voorts met navrae

Die Algemene Kuratorium (AK) het nou ’n afdwingbare beleid ter tafel gelê wat predikante en ampsdraers van die NGK “verbied om sosiale media-platforms te gebruik om veralgemeende, nadelige en verdagmakende berigte oor Teologiese Opleiding te publiseer”. (Kyk ook Verslag van die Algemene Kuratorium aan ASM Mei 2022.)

Dit kom na heelwat negatiewe publisiteit in die (sosiale) media oor die teologiese fakulteite.

Kyk ook die volgende artikels wat hierop reageer:

Kyk ook kommentaar onderaan.

*******

Teologiese Opleiding: Só maak mens voorts met navrae | Kerkbode

Kerkbode

27 Mei 2022

Meer direkte navrae, minder “verdagmaking” via sosiale media.

Dis een van die doelwitte van die Algemene Kuratorium (AK) wat blyk uit ’n verslag wat by die onlangse sitting van die Algemene Sinode Moderamen in Benoni gedien het.

In ’n poging om “hegter bande” tussen die NG Kerk en teologiese dosente te bou, het die oorsigliggaam ’n “protokol” bekendgemaak vir die hantering van vrae en navrae oor Teologiese Opleiding in die NGK. Daar is vier Kuratoria gevestig by die Fakulteit Teologie van Pretoria, Vrystaat en Stellenbosch (sluit Hugenote Kollege in) en ook in Windhoek by NETS.

Die AK het tegelyk ook ’n afdwingbare beleid ter tafel gelê wat predikante en ampsdraers van die NGK “verbied om sosiale media-platforms te gebruik om veralgemeende, nadelige en verdagmakende berigte oor Teologiese Opleiding te publiseer”. Die ASM het ook in 2021 ’n stel riglyne vir gesprekvoering deur gelegitimeerdes op sosiale media goedgekeur, wat onder meer kwaadwillige en verdagmakende plasings verbied.

Die “protokol” (sien onder) behels basies ’n voorgestelde kommunikasievloei vir “navrae oor die leer en lewe van dosente”. “Die doel van die protokol is om ’n veilige ruimte te ontwikkel waarbinne daar direk met kuratoria en dosente gesprek gevoer kan word oor bogenoemde,” luidens die verslag.

Dit kom teen die agtergrond van groot debat, ook op Kerkbode se forums en in ons blaaie, oor teologiese opleiding wat in stryd met die leer en die belydenisskrifte van die kerk sou wees. “Daar is bekommernis oor die verwydering en agterdog wat daar tussen die kerk en teologiese dosente plaasgevind het,” luidens die verslag.


Protokol vir die hantering van vrae en navrae oor Teologiese Opleiding in die NGK

Die onderstaande protokol is deur die Algemene Kuratorium en die ASM goedgekeur. Hierdie is ’n verwerking ter wille van maklike kommunikasie met die kerkpubliek.

1. Wanneer iemand ’n navraag of vrae oor enige aspekte van teologiese opleiding het – ook navrae oor dosente- word dit op skrif gestel en aan die betrokke Kuratorium gestuur.

2. Die navraag word deur die Kuratorium ontvang en die Kuratorium.

a. bepaal binne watter teologiese tema dit val. Dit sou bv kon wees: Skrifgesag, Hermeunetiek; Skrifuitleg; Godsbegrip; Christologie; Sondebegrip ens

b. bepaal die resente en relevante kerklike beleid/belydenis hieroor, wat kan dien as raamwerk waarbinne die gesprek plaasvind en kom met die persoon wat die navraag gedoen het hieroor ooreen.

3. Eerste aanmeldingsgesprek: Die Kuratorium nooi die dosent of ampsdraer van die kerk na ’n gesprek waarin die navraag in persoon aan die dosent/ampsdraer oorgedra kan Aangesien die raamwerk die kerk se standpunt oor die aangeleentheid is, sou die dosent se standpunt en siening oor die kerk se beleid hieroor ter sprake kan kom.

4. Gesprekke tussen die dosent of ampsdraer en die persoon wat die navraag aangemeld het:

Die kuratorium fasiliteer gesprek tussen die student of persoon wat die navraag doen en die dosent of ampsdraer. Hierdie kan ‘n reeks gesprekke wees totdat die partye tevrede is dat vrae beantwoord is, en onsekerhede uitgeklaar is.

5. Indien nodig sou hierdie gesprekke opgevolg kon word met kerkregtelike gesprekke soos bepaal in die KO.

Die voorsitters van die Kuratoria is:

Ds Hannes Windell- Pretoria (Fakulteit Teologie UP) windell@iafrica.com

Ds Jan Lubbe – Vrystaat (Fakulteit Teologie UOVS) janlubbe1964@gmail.com

Ds Peet Bester- Strellenbosch (Weskaap Fakulteit Teologie Stellenbosch en Hugenote Kollege) peet@ngkfranschhoek.co.za

Dr Wynand Fourie- Windhoek ( NETS) vinowf@gmail.com

Dr Frederick Marais- Algemene Kuratorium jfm@sun.ac.za

Kommentaar

Die Algemene Kuratorium (AK) het nou ’n afdwingbare beleid ter tafel gelê wat predikante en ampsdraers van die NGK “verbied om sosiale media-platforms te gebruik om veralgemeende, nadelige en verdagmakende berigte oor Teologiese Opleiding te publiseer”

Dit kom na heelwat negatiewe publisiteit in die media oor die teologiese fakulteite:

Die goedgekeurde protokol maak asof behoudendes nog nooit hierdie amptelike gebruik het nie. Die legitimasiediens op 29 Maart 2021 en die daaropvolgende gebeure is egter ’n goeie voorbeeld van wat tipies gebeur:

  • Tydens ’n legitimasie-diens op 29 Maart 2021 verwys die prediker, Ds Melanie Thirion, na God in die vroulike geslag.
  • Omdat die amptelike kanale al in die verlede gewys het om nie te werk nie, kritiseer Stefaan de Jager op 9 April 2021 hierdie dame op Facebook.
  • Op 16 April reik die kuratorium ’n verklaring hieroor uit waarin hulle hierdie twee dames verdedig.
  • Ook op 16 April vra Stefaan om verskoning op Facebook (16 Apr 2021)
  • Die Dagbestuur van die Kuratorium kontak vir Stefaan waarop hulle ’n lang gesprek in persoon het.
  • Die uiteinde is dat absoluut niks van Stefaan en ander behoudendes se besware gekom het nie.

Die punt is: die amptelike kanale is uitgeput. Dit het gewys om altyd op niks uit te loop nie.

Na aanleiding van hierdie berig is daar vir twee pasafgestudeerde proponente gevra of ’n mens uit die amptelike kurrikulum en amptelik voorgeskrewe werke kan wys wat die probleem in die fakulteite is? Hier is hulle reaksie:

Kommentaar: Proponent 1

Die voorgeskrewe werk/kurrikulum is beskikbaar by die fakulteit. Die studiehandleidings behoort nie ’n geheim te wees nie.

Jy sit ook met die probleem dat dit ’n gemengde kurrikulum is. Dis ’n sekulêre universiteit en baie van hulle werk is dus sekulêr (of ten minste nie gereformeerd nie). Die profs kan ook argumenteer dat hulle die studente blootstel aan ’n breë spektrum van denke (wat nie ’n slegte ding is nie). Die probleem is nie dat hulle Foucault, Derrida, Crossan en Borg se boeke voorskryf nie. Die probleem lê by die profs en dat hulle hierdie mense en filosofie in die klas promoveer as die weg en die waarheid. Dit lê by die kuratorium wat nie leiding neem of belangstel in die studente nie. Dit lê by die tuis dominees en self ouers wat nie genoeg belangstel om die studente uit te vra oor hulle studies nie.

Ons kan more besluit dat die 6 jaar kurrikulum slegs bestaan uit die Drie Formuliere van Eenheid en Calvin se institusies en dit sal nogsteeds verdraai word om ’n progressiewe teologie by die studente te kweek. Ons kan sisteme verander en skuif nes ons wil, maar hierdie probleem moet op grondvlak aangespreek word. Die liberaliste en progressiewes is meesters van institusionele speletjies speel. Dis letterlik waaroor hulle hele teologie gaan.

Kommentaar: Proponent 2

Ivm die goedgekeurde protokol wil ek graag die volgende uitlig:

  1. Daar is geen ruimte vir klagtes nie, sleg gesprek wat beheer sou word deur die aangeklaagde.
  2. Daar is geen verantwoordbaarheid nie. Geen persoon of tydperk word gekoppel aan die proses nie. Die kuratorium het die volle reg om te sloer tot in ewigheid.
  3. Die kuratorium is slegs verantwoordelik om gesprek te bewerkstellig. Daar is niks wat die kuratorium bind om die probleem op te los nie.
  4. Daar is volgens my geen kerkordelike prosesse wat hierdie protokol sou opvolg nie, wat duidelik is uit die feit dat daar geen artikel of reglement aangehaal word nie.
  5. Hierdie protokol gee nie riglyne daarvoor om beswaar teen die kuratorium self te hê nie. Die persoon in mag is “judge, jury and executioner“.

Vind ons dit nie eienaardig dat dit nodig is om dosente, kuratoriums en fakulteite se persoonlike status deur kerklike wetgewing te beskerm nie? Hoekom is dit nodig om ’n “onskuldige” persoon in ’n magsposisie te beskerm teen “nobodies” (gewone predikante en lidmate) wat ’n opinie/kommer uiter op sosiale media? Ek sê nie verweer op sigself is ’n bewys nie, maar sekerlik is die onderdrukking van swakker/kleiner stemme, nie ’n teken van ’n gesonde organisasie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui