Sensuur – ’n nederige repliek op dr Klaasing se brief

*******

Sensuur – ’n nederige repliek op dr Klaasing se brief | Kerkbode

Kerkbode

9 Junie 2022

Coenie Greeff van Bellville skryf:

Liewe Dr Klaasing – baie dankie vir jou kosbare brief en jou onverskrokke getuienis – pitkos tot ernstige nadenke vir die behoud en beskerming van waarheid deur vryheid van spraak. Vir my kom dit terug na ’n eenvoudige vraag – Wat is hulle (Algemene Kuratorium en moontlik Algemene Sinode Moderamen) se definisie van die omvang van wat hulle alles insluit as “verdagmakery en valshede” – uit watter objektiewe perspektief is daar riglyne neergelê om duidelik te definieer wat binne hierdie konsepte van verdagmakery en valshede ingesluit word?

Sal ’n ongemaklike dog fundeerbare waarheid ook as sulks geklassifiseer word indien persone voel die instansie of hulle eie reputasie is belaster of verdag gemaak? My vraag is – word die deur van hulle “interpretasielens” wyd oopgelos sodat wanneer die waarheid en Skrifgebaseerde grondige kritiek (uitgesluit emosionele reaksies) ongemaklik raak en wanneer dit volgens hulle die status quo bedreig, sulke kritiek / sienings / ingeligte opinies binne die definisie val met die gevolglike sensurering van diesulke “skuldiges”?

Word hier nie dan die “tegelyk aanklaer en regter” beginsel toegepas nie? Ek wonder net …

Laaste opmerkings – ek is hartseer, want hierdie sensuurbeleid roep wrange herinneringe op van die destydse regering met sy totale “inligtings- en informasie”-beheer veral in die 70’s en 80’s as iets durf lyk of dit die soewereiniteit van die destydse regering sou bedreig. Laastens, as ek baie verder terugkyk na ons vroeë kerkgeskiedenis sinspeel die nuwe reëls tog ook al te veel na die Katolieke se destydse “Papalis principatus” (pouslike oppergesag) – wat totaal beskerm moet word – ek besef dat ek moontlik met die eerlike repliek myself ook nou skuldig maak aan “verdagmakery”.

Henrietta – ek sal saam met jou op die heuwel gaan staan en sê: “Hier staan ek – ek kan nie anders nie – so help my, Almagtige God en Koning”. Sela.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui