Stigtingsverklaring van die eerste Koinoniaring te NG Kerk Bethal: Ring van Standerton

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Stigtingsverklaring van die eerste Koinoniaring te NG Kerk Bethal: Ring van Standerton | Kerkbode

Kerkbode 2 Oktober 2023 / Verklarings

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie ‘n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Die Ring van Standerton is ’n vrywillige kerkverband van selfstandige NG kerke wat tans hoofsaaklik geleë is binne die territoriale gebied van Standerton (NG Kerk Moeder, Wes en Suid), Bethal (Moeder en Oos) en Charl Cilliers. Elk van bogenoemde gemeentes is selfstandig en volwaardig NG Kerk wat onder die direkte heerskappy van Jesus Christus staan. Hy het in elke gemeente ampsdraers geroep en bevestig om sy kerk deur sy Woord en Gees te regeer.

Al die gemeentes van hierdie ring afsonderlik asook die ringsverband gesamentlik, staan onwrikbaar gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Hierby sluit ons ook die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 7 in. Ons glo die leer van die Skrif soos vervat in die drie algemene (ekumeniese) belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, Belydenis van Nicea en die Belydenis van Athanasius, tesame met die drie gereformeerde belydenisskrifte bekend as die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls. Ons aanvaar dit as die ware en volkome leer van die saligheid omdat (quia) dit met die Woord van God ooreenstem.

Ons kerkverband met Koinoniasinode hef nie noodwendig ons ander bestaande verbande op nie aangesien ons doel steeds is om die NG Kerk van binne te suiwer en te reformeer. Elke kerkraad besluit egter self in watter mate hulle hulle kerkverband met die Hoëveld Sinode asook die Algemene Sinode wil voortsit.

Die Ring van Standerton verbind hulleself opnuut om onder leiding van die Heilige Gees al hulle dienswerk te grond op die Woord van God. Ons as ring glo dat reformasie begin in eie huis. Ons as ring is oortuig dat hoe meer die reformasie binne ons ring ontwikkel, hoe meer sal dit ook oorvloei na ander gemeentes om oral in die NG Kerk nog meer koinoniaringe te vorm om reformasie van binne te bevorder. Die ring verbind hulle om as gemeentes van die NG Kerk te reformeer deur die beginsel van sola et tota Scriptura te volg in al ons dienswerk wat onder andere insluit: eredienste (sakramente), prediking en liturgie, kategese en berading, sending en evangelisasie, beoordeling van morele en etiese kwessies, kerklike opsig en tug, sluiting en losmaking van kerkverbande (ekumenies ingesluit). Die ring streef daarna om ’n reformerende invloed uit te dra na alle ander kerkverbande waarby ons betrokke mag wees.

Hierdie stigtingsverklaring is deur al die deelnemende kerkrade van die Ring van Standerton aanvaar en is bekragtig tydens ’n buitengewone ringsitting op 20 Augustus 2023, te NG Kerk Bethal-Moedergemeente.

Geteken deur ds Evert Bergh (voorsitter van die Koinoniaring) en deur ds Wihahn de Beer (skriba van die Koinoniaring).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui