Vrye gemeente Tafelberg: Die pad wat ons geloop het

Ds Chris Saayman het die volgende plasing op Facebook geplaas.

*******

VRYE GEMEENTE TAFELBERG

DIE PAD WAT ONS GELOOP HET

NG Gemeente Tafelberg (Bedryfsnaam: Tafelberg Gemeente) het in 2019 amptelik ’n dolerende (treurende) NG gemeente geword as gevolg van tendense van vervreemding van die Skrif en gereformeerde belydenis wat in snelgroeiende maat in die NG Kerkverband se teologiese arbeid, publikasies, uitsprake van teoloë en Sinodale vergaderings waargeneem is. ’n Teologies-kerklike grondverskuiwing het die afgelope paar dekades plaasgevind – en is steeds aan die gang.

Daar was ongelukkig geen teken van ’n ommekeer by die NG Kerkverband nie, trouens die situasie versleg steeds, soveel so dat die kerkraad in 2022 besef het dat dit nie meer moontlik is dat die gemeente haarself langer mag blootstel aan die opsig en teologiese leiding van die NG Kerkverband nie.

Op 2 Augustus 2022 het die kerkraad in beginsel besef dat die Skrif en belydenisskrifte nie die gemeente toelaat om deel te bly van ’n kerklike sisteem wat vals leer akkommodeer nie. Om in dieselfde juk te trek met so ’n kerksisteem, sou neerkom op ongehoorsaamheid aan die Here se Woord. Vergelyk Nederlandse Geloofsbelydenis Artt 28-29.

Die kerkraad het toe besluit dat – in gehoorsaamheid aan die Woord – die gemeente haar verbintenis met die NG Kerkverband moet beëindig. Vier jaar van dolering het immers geen verandering gebring nie.

Die kerkraad het egter nie geweet hoe so ’n beëindiging van kerklike verbintenis in gehoorsaamheid aan God bewerkstellig kon word nie.

Aangesien dit onbekende terrein vir almal was, is daar gesoek na ’n oplossing.

Aanvanklik is gedink dat die weg wat die Geloofsbondgemeentes van die Hervormde Kerk geloop het, nagevolg kan word. Hulle het naamlik hulle bates in verenigings geplaas en die gemeentes het nuwe gemeentes gevorm met behoud van bates.

Nadat ons leraar hierdie inligting in November 2022 met die gemeente gedeel het, het enkele lidmate egter die Kerkraad oortuig dat dit nie die beste uitweg is nie.

Die Kerkraad het toe – nadat ’n meningspeiling gedoen is – besluit op ’n proses wat reg en billik teenoor almal in die gemeente sou wees.

Daar is naamlik besluit om op langtermyn eers die instemming van alle ingeskrewe lidmate te verkry alvorens die gemeente losgemaak word van die kerkverband. Selfs al sou dit maande of jare duur. Op instemming van almal, sou die gemeente dan ’n nuwe gemeente word en sou die bates na die nuwe gemeente oorgedra kon word omdat alle lidmate daartoe instem.

Die aanname was dat hierdie reëling byval by almal sou vind omdat dit regverdig teenoor almal is en aan diegene wat by die kerkverband wil bly, die reg gee om die proses te kan veto deur nie instemming te gee nie.

Klaarblyklik was almal egter ook met hierdie besluit nie tevrede nie.

Uiteindelik is ons leraar deur ’n Ringskollega aangekla van skeurmakery en die verbreking van sy legitimasie-eed. Genoemde lidmate, plus ’n paar ander, het hiermee saamgewerk deur gereed te wees om as getuies teen ons leraar op te tree. Ook die leierouderling is deur dieselfde predikant aangekla.

Die tugondersoek – wat op 14 Junie sou plaasvind – is egter uitgestel danksy talle oortuigende bewyse dat die ondersoek onwettig en onkerkordelik is. Die kerkraad het betyds en effektief gehandel deur die gemeente se verbintenis met die NG Kerkverband op 22 Junie op te skort. Dit is gedoen op advies van twee van die land se top regs- en kerkregkundiges.

Dit is belangrik om te sien hoedat die opskorting van kerkverband nooit die kerkraad se plan was nie, maar dat dit ’n noodmaatreël was om die tugondersoek af te weer en die gemeente teen toekomstige inmenging te beskerm.

Die oorspronklike gedagte dat die gemeente bande met die kerkverband behoort op te sê, is toe ewe skielik op ‘n totaal ánder manier verwesenlik as wat ooit beplan was. En dit was duidelik dat dit deur die voorsienigheid en leiding van die Heilige Gees so plaasgevind het.

Met opskorting van die verband kon die gemeente bly soos wat sy nog altyd was, hoewel die kerklike verbintenis met die Ring en Sinode opgeskort is. Die besluit is op korrekte kerkordelike wyse deurgevoer, naamlik ’n kerkraadsbesluit plus twee weke se afkondiging en verkryging van die gemeente se approbasie.

Sederdien het die Ring egter besluit om die vervolging teen ons leraar – ongeag grondige besware – op onkerkordelike en onwettige wyse voort te sit, selfs al is hy en die gemeente nie meer deel van die kerkverband nie.

Die ondersoek het in die afwesigheid van ons leraar plaasgevind en daar is toe besluit om sy legitimasie in die NG Kerkverband te beëindig: ’n Besluit wat nie die gemeente raak nie omdat die gemeente wettiglik buite die verband is. Ons leraar benodig nie die legitimasie van die kerkverband om ’n bevoegde leraar van die gemeente te wees nie, want hy ontvang sy bevoegdheid van die gemeente wat hom beroep het en waar hy bevestig is!

Hy kon nie by die ondersoek teenwoordig wees nie, omdat hy sodoende die wettigheid van die opskorting van kerkverband ongedaan sou maak en ook die onwettigheid en onreëlmatigheid van die ondersoek sou kondoneer. Sy legitimasie (in die kerkverband – Ring en Sinode) is dus in sy afwesigheid beëindig. Dit het egter geen effek op sy diensverhouding binne die gemeente nie.

Sou die Kerkraad nou die opskorting van die kerkverband ophef, sal die Ring hulle sin kry om ons leraar uit diens van die Gemeente te stel en sal hy ’n onafhanklike bediening begin en die Gemeente gevolglik in twee skeur. Dit moet ten alle koste verhoed word.

Die kerkverband het dus met hulle bevinding eensydig die deur op die gemeente toegemaak en verhinder sodoende die gemeente om ooit weer die opskorting op te hef. Die kerkverband het dus bande met die gemeente verbreek.

Danksy die Akte van Opskorting kan ons leraar egter onbevlek en ongehinderd in die diens van die Here voortgaan en die gemeente kan ook voortgaan soos voorheen.

Steeds duik daar egter vrae en onduidelikhede op – en dit is heeltemal verstaanbaar!

Mense sukkel om te verstaan hoe ons ons band met die NG Kerkverband kon opskort en steeds NG Kerk Tafelberg bly. Hulle dink dit is ’n soort kroekspul en dat ons stilletjies ’n nuwe, ánder kerk gestig het en nou net die naam Nederduits Gereformeerd vir onsself gekaap het. Ons regspersoon het verander, maar ons gee voor ons is nog dieselfde regspersoon – so beweer sommige.

Maar dit is verre daarvandaan. Lees gerus maar weer ons Akte van Opskorting. Dit sê alles.

Sou ons ons band met die NG Kerkverband VERBREEK het en (byvoorbeeld) “Tafelberg Wingerdstokkerk” geword het, ja dán het ons regspersoon verander.

Maar nee, ons het nie die band verbreek nie, ons het die band OPGESKORT terwyl ons as NG Kerk Tafelberg voortgaan, soos die Akte lees.

“Opskort” beteken om die band vir die voorsienbare toekoms op te hef met geen verdere bande nie. Maar sou die NG Kerk in rings-, sinodale en algemene sinodale verband onvervals terugkeer na die Skrif, Belydenis en Kerkorde en van harte bekeer, sou die kerklike band herstel kon word, maar indien nie (en daar is totaal geen teken van enige terugkeer te bespeur nie) bly dit onbepaald en vir altyd opgeskort en ons bly ’n onverbonde NG gemeente met geen band met die NG Kerkverband nie. Met die beëindiging van ons leraar se legitimasie, het die kerkverband inderdaad die opheffing van die opskorting onmoontlik gemaak en enige herstel van die verband van hulle kant verbreek.

Die begrip OPSKORT is om hierdie rede met opset in die Akte gebruik.

Indien die woord nie só gebruik was nie, sou die woord VERBREEK gebruik gewees het en sou ons ’n nuwe en ander kerk geword het met ’n ander naam en ander regspersoon.

Maar deur OP TE SKORT het die kerkraad gekies vir die eenheid en behoud van die gemeente en ’n wen-wen situasie vir almal daargestel.

Nou is ons steeds NG Kerk Tafelberg en bly ons eienaar van alle bates net soos wat ons NG Kerk Tafelberg was en eienaar van alle bates was, want die regspersoon is onveranderd gehandhaaf. Dit is net die deure op die Ring en Sinode wat toegemaak is. Na BINNE het niks verander nie. Na BUITE is die deure op die verband toegemaak.

Die kerkverband (Ring en Sinode) besit dus geen jurisdiksie meer oor NG Kerk Tafelberg nie. Geen sinodebesluit is meer op enige lidmaat van toepassing nie. Lidmate van NG Kerk Tafelberg is vrygemaak van alles binne die kerkverband wat die Woord van God kompromitteer. Geen Ring kan meer enige leraar of kerkraadslid aankla en stuit in die werk van die Here nie. Inmenging van die kerkverband in die huishoudelike sake van NG Kerk Tafelberg is vir goed stopgesit. Genoeg rede om te juig, nie waar nie!

Maar hoe kan ’n gemeente dan die band met die kerkverband opskort en nogsteeds Nederduits Gereformeerd wees?

Die antwoord is eintlik baie eenvoudig.

Die kerkverband is ’n verband van NG gemeentes. Maar mense is geneig om te dink dis gemeentes van die NG Kerkverband! Soos takke van ABSA hoofkantoor! Let op die groot verskil. Lees gerus weer hierdie sin ’n paar keer oor.

Maar dit is juis andersom. As daar nie NG gemeentes was nie, was daar geen kerkverband nie! Gemeentes is selfstandige en volledige gemeentes van Christus. Die naam Nederduits Gereformeerd behoort aan gemeentes. Die kerkverband ontleen die naam van die gemeentes. Gemeentes tree vrywillig en gewillig toe tot kerkverband met mekaar, maar kan ook weer vrywillig en gewillig uittree indien hulle dit in die lig van die Skrif kan verantwoord. Dit het ons met ons opskorting op 22 Junie tot eer van God gedoen. Sederdien is ons ’n onverbonde NG gemeente. Dit beteken ons staan buite die verband. Daarom is ons bedryfsnaam nou nie meer Tafelberg Gemeente nie en ook nie Tafelberg Gemeente (Dolerend) nie, maar “Vrye Gemeente Tafelberg”.

Wat betref lidmaatskap, maak die Kerkorde dit duidelik dat ons lidmate van die plaaslike gemeente is. ’n Mens kan nie lidmaat van die kerkverband wees nie. Jy is nie lidmaat van ’n Ring of Sinode nie. Jy is lidmaat van NG Kerk Tafelberg. Jy is dus nog steeds “Nederduits Gereformeerd”. Dit word ook duidelik so verwoord in die formulier vir Belydenisaflegging.

Ons opskorting benadeel dus niemand wat graag lidmaat van die kerkverband sou wou bly nie, want niemand was nog ooit lidmaat van die kerkverband nie. Die opskorting kan jou nie beroof van iets wat jy nooit gehad het nie! Ons opskorting het die deur op die Ring en Sinode toegemaak, waarvan geen lidmaat in elk geval ’n lidmaat was nie – want jy kan dit kerkordelik nie wees nie.

Sou ’n lidmaat wel om een of ander rede wou oorgaan na ’n gemeente wat binne die kerkverband is, kan dit probleemloos gedoen word. Die persoon se attestaat word gewoon daarheen oorgeplaas soos dit nog altyd die geval was.

In kort dus: Rakende die Akte van Opskorting:

Is ons nog presies dieselfde gemeente wat ons was? Ja!

Is daar ’n vangplek waarvan niemand weet nie? Nee!

Het die kerkraad die gemeentelede om die bos gelei? Nee!

Het ons kerkskeuring gepleeg? Nee!

Het die gemeente afgestig? Nee!

Het die gemeente ’n ander kerk geword? Nee!

Is ons bates nog wettiglik ons s’n? Ja!

Gaan die bates vervreem word? Nee!

Aan die Koning van die kerk, al die lof!

2 Oktober 2023

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui