Rokie trek oor skorsing

Kyk ook:

*******

Rokie trek oor skorsing | Kerkbode

Kerkbode, 30 Maart 2007

Tom Lessing van Krugersdorp-Noord skryf:

EK verwys na die berig “Student se bewerings drie keer afgewys” (Kerkbode, 26 Januarie 2007).

Ek het berigte oor die skuldigbevinding van mnr Ferdie Mulder in die algemene pers en Kerkbode fyn dopgehou. Ek vind dit uiters verdag dat die berig in Kerkbode nêrens melding maak van wat die inhoud van mnr Mulder se aanklagte teen die teologie-professore was nie. Daar word net vaagweg genoem “dat Mulder vals bewerings gemaak het en dat hy die dosente valslik van oneerlikheid of waarskynlike oneerlikheid beskuldig het”.

Ek is nie ’n regskundige nie, maar ek twyfel baie sterk of enige sekulêre hof ter wêreld enigiemand op grond van “onwaarskynlikhede” skuldig sal of kan bevind. Is die NG Kerk se kerkregtelike prosesse dan soveel anders as dié van sekulêre howe? Dit wil so voorkom.

Die inhoud van die aanklagte moes baie ernstig en gewigtig gewees het, en indien die aanklagte en bewerings soveel ernstiger en gewigtiger was, herinner dit ’n mens aan die spreekwoord “waar daar ’n rokie is, moet daar ’n vuurtjie wees”. Al wat die berig in Kerkbode doen, is om die rokie vir die voetsool-kerkganger so ’n effe meer opsigtelik te maak terwyl dit die vuurtjie probeer blus.

  • Sou dit waar wees dat die NG Kerk wel dwaalleer in sy midde toelaat (wat die NG kerk waarskynlik reeds erken het … hoewel hulle dit nie “dwaalleer” nie, maar wel verskillende “teologieë” en/of “spiritualiteite” noem), moet dit onmiddellik in die kiem gesmoor word, suiwer op grond van die feit dat dit honderde en selfs duisende mense in die kerk kan mislei.
  • Sou dit egter aan die anderkant waar wees dat daar geen dwaalleer in die NG Kerk is en geduld word nie, waarom is ’n student wat die aanklag van dwaalleer teen die teologie-professore gemaak het, summier geskors? (Brief verkort — Red.)

Dr Flip du Toit van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit Pretoria, antwoord:

Die Kuratorium se saak teen mnr Ferdi Mulder het geensins oor enige leerstellige kwessie gegaan nie. Dit het oor sy wyse van optrede gehandel (as ’n moontlike, toekomstige evangeliedienaar) en heel spesifiek oor oneerlikheid met betrekking tot die opstel en verspreiding van ’n dokument. Die Kuratorium wou dit graag dissiplinêr hanteer. Die student het met ‘n advokaat opgedaag. ’n Regsproses is geëis. Die Kuratorium het ter wille van deursigtigheid daaraan toegegee. Toe daar beswaar gemaak is teen ’n verhoor deur die Dagbestuur van die Kuratorium, is ’n ander kerklike kommissie aangewys. Hulle het die student aan verskeie klagtes rakende oneerlikheid skuldig bevind. Hy is geskors as NG student “totdat hy die Kuratorium van sy opregte berou oortuig”’.

Die Universiteit van Pretoria se saak het ook nie oor enige inhoudelike klagtes van die student gegaan nie. Eweneens het dit hier oor sy wyse van optrede gegaan. Spesifiek het dit gehandel oor die feit dat dosente onbetaamlik hanteer is. Ook hier was die student en sy regsverteenwoordiger nie tevrede met die eerste kommissie wat die UP aangewys het nie. Ter wille van deursigtigheid het die UP oud-regter Buddy Swart as voorsitter by ‘n dissiplinêre kommissie betrek. Die student is skuldig bevind aan al die klagtes sowel as aan die alternatiewe klagtes.

Die kwessie van die leer is (soos die Kerkorde vereis) by die twee betrokke ringe hanteer. (Indien die Kuratorium die dosente onskuldig sou bevind het, sou dit gesien kon word asof die Kuratorium die dosente wou beskerm. Die Ring van Pretoria-Oos se bevinding in die twee gevalle is duidelik en was ook gepubliseer op die internet. Hierdie uitsprake sowel as die Ring van Pretoria Faerie-Glen se bevinding is beskikbaar by ondergenoemde.

Die Kuratorium het reeds herhaaldelik sy volle vertroue in die regsinnigheid van al die teologie-dosente by UP uitgespreek. Ook daardie verklarings is beskikbaar.

Dit is altyd moeilik om ongegronde klagtes effektief te weerlé. Ek kan net meld dat in minstens nog vier gevalle (omdat ek nie weet presies hoeveel predikante by welke ringe aangekla is nie) het mnr Mulder predikante by hulle ringe van leerdwaling aangekla, en is dit ongegrond bevind. Daar was nie ’n enkele geval waar daar meriete in die klagtes was nie.

Kommentaar

Hou ingedagte dat dit hierdie einste Flip du Toit is wat studente in so ‘n mate afgedreig het dat hulle hul steun aan Ferdie onttrek het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui