Student se bewerings drie keer afgewys

Kyk ook:

STUDENT SE BEWERINGS DRIE KEER AFGEWYS – 26 JANUARIE 2007

DIE Pretoriase teologiestudent wat ’n opskudding veroorsaak het toe hy sy teologie-professore van dwaalleer aangekla het, mnr Ferdie Mulder, sal waarskynlik nooit weer as student aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie mag registreer nie.

Mnr Mulder is deur die universiteit skuldig bevind en gestraf omdat hy valse bewerings in die openbaar gemaak het teenoor sy dosente. Mnr Mulder is nou reeds direk of indirek voor drie onafhanklike forums skuldig bevind, naamlik die Universiteit van Pretoria, die NG Kerk se Kuratorium en indirek deur die ringe by wie hy die teoloë aangekla het.

In die jongste geval, wat hom sy universiteitsloopbaan aan Tukkies gekos het, is hy ná ’n tugverhoor onder leiding van oudregter Buddy Swart aan die hoofklag skuldig bevind. Daar is bevind dat Mulder vals bewerings gemaak het en dat hy die dosente valslik van oneerlikheid of waarskynlike oneerlikheid beskuldig het. Hy het daarmee die naam van die universiteit in gedrang gebring en die algemene onderrig aan die Fakulteit Teologie benadeel.

Volgens die uitspraak het hy hulle nie slegs teologies aangeval nie, maar ook hulle persone en hulle geskiktheid as teologiese dosente. Hy het dit gedoen terwyl hy goed met hulle oor die weg gekom het en aanvanklik versoek het dat sy klagtes nie aan hulle geopenbaar word nie. In ’n gemeenregtelike geding sou sy bewerings volgens die uitspraak lasterlik wees.

Die feit dat Mulder geen berou getoon het vir sy bewerings nie, het as verswarende omstandigheid gedien. Hy het tot op die laaste dag geen berou getoon nie, nie een van sy bewerings teruggetrek of apologie aangebied nie.

Daar is besluit om nie die krediete wat Mulder vir sy meestersgraad verkry het van hom te ontneem nie, maar hy mag nie weer as student aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit registreer nie.

– jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui