Gay: So gebore?

Alhoewel daar nie kwessies is dat sekere mense gebore word om meer vatbaar vir homoseksualiteit te wees nie, is daar geen wetenskaplike bewyse dat daar ’n homoseksuele geen is wat bewys dat mense so gebore word nie.

God het definitief nie die mens se liggaam ontwerp vir homoseks (spesifiek anale seks) nie, daarom maak dit sin dat God daarna verwys as “afskuwelik” (Levitikus 20:13). Dus, as mens so gebore word, sal dit as ’n genetiese afwyking tel.

Selfs al bepaal die wetenskap dat ’n mens so gebore word, kan ’n mens nie morele waardes baseer op ’n genetiese afwyking nie.

As ’n mens egter na al die getuienisse kyk van mense wat voorheen homoseksueel was, is dit duidelik dat dit deur omgewingsaspekte veroorsaak word.

Vir meer hieroor, kyk Die Bybel oor homoseksualiteit.

*********

Gay: So gebore? | Netwerk24

Netwerk24

Deur Rochélle Human Saterdag 11 Julie 2015 09:03

Navorsing wys seksuele oriëntasie word deur ’n kombinasie van biologiese en omgewingsfaktore bepaal, maar ’n “gay-geen” is nog nie gevind nie. Rochélle Human doen verslag.

Die refrein “Baby, I was born this way” van ­Lady Gaga se treffer “Born This Way” het ’n wêreldwye temalied vir die gay gemeenskap geword.

Navorsers ondersoek dié stelling al dekades lank om ’n moontlike biologiese grondslag vir homoseksualiteit te vind.

Die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) het onlangs ’n oorsig gedoen van byna alle navorsing wat in die afgelope 50 jaar oor seksuele oriëntasie gedoen is.

Die verslag is in Mei uitgereik.

Luidens die verslag bestaan talle wetenskaplike studies wat wys seksuele oriëntasie word biologies bepaal en homoseksualiteit het ’n oorerflike én omgewingskomponent.

“Die paneel maak die gevolgtrekking dat daar wesenlike biologiese bewyse vir die verskeidenheid van menslike seksualiteite is en veral vir seksuele oriëntasie.”

Dit verwys onder meer na dr. Michael Bailey van die Northwestern-Universiteit se ­onlangse navorsing, wat 409 ­pare gay broers bestudeer het om te bepaal of sommige mans geneties geneig is om gay te wees.

In die studie is bevind gay mans deel genetiese tekens op ’n deel van die X-chromosoom, Xq28.

Dr. Dean Hamer van die Amerikaanse nasionale kankerinstituut het ook in 1993 ’n deel op die X-chromosoom gevind wat hy glo verband hou met manlike seksuele oriëntasie.

In ’n ander genetiese studie het navorsers ’n volle genoomskandering van 456 individue van 146 families met twee of meer homoseksuele broers gedoen, skryf dr. John Bancroft, van die Kinsey-instituut vir seks, gender en voortplanting in die VSA, in 2010 in die Journal of Sexual Medicine.

“Die skrywers merk op dat gegewe die kompleksiteit van seksuele oriëntasie, is talle gene waarskynlik betrokke, en die matige vlakke van verbinding wat vir die X-chromosoom gevind is, kan slegs ’n fraksie van die algehele oorerflikheid verklaar,” skryf hy.

Geboorteorde-effek by broers

Een van die teorieë van ingebore homoseksualiteit wat tans gewild is, is die broederlike geboorteorde-effek.

Studies van dr. Ray Blanchard, ’n navorser aan die Universiteit van Toronto se psigiatrie-departement, het gewys hoe meer ouer biologiese broers ’n man het, hoe groter is sy kans om homoseksueel te wees.

Elke bykomende ouer broer verhoog daardie kans met sowat 33%.

Dit geld selfs al het die broers in verskillende huise grootgeword.

(Tot dusver het die navorsing grootliks op manlike homoseksualiteit gefokus omdat homoseksualiteit na bewering meer by mans as vroue voorkom.)

Aangenome ouer broers en stiefbroers het geen uitwerking op seksuele oriëntasie gehad nie.

Die impak moet dus voor die geboorte wees.

Dit het aanleiding gegee tot die moederlike immuunhipotese, wat lui: Selle of selfragmente van die fetus kan glo ’n swanger vrou se sirkulasie tydens die geboorte binnedring.

As die fetus manlik is, begin die ma se immuunstelsel teenliggaampies teen die “vreemde” molekules vervaardig.

Hierdie teenliggaampies kan met ’n volgende bevrugting die fetale brein se seksuele differensiëring weg van die tipiese manlike roete lei, sodat die individu later in sy lewe tot mans eerder as vroue aangetrokke sal wees.

Die ma se immunisering word met elke manlike fetus sterker; daarom neem die waarskynlikheid van homoseksualiteit toe met elke ouer broer.

Die hipotese is nie veronderstel om ’n universele oorsaak vir alle homoseksuele mans te beskryf nie, skryf Blanchard in die Journal of Sexual Medicine.

Volgens die ASSAf-verslag is daar nog geen aanvaarde verduideliking vir die geboorte­orde-effek nie.

Dr. Nathaniel McGregor, ’n neuropsigiatriese genetikus van die Universiteit Stellenbosch, sê daar is geen konsekwente, konkrete bewyse om dié teorie te ondersteun nie.

Geen ‘gay-geen’ nog gevind

Die soektog na ’n enkele sogenaamde “gay-geen” het tot dusver nog min opgelewer, hoewel bewyse bestaan dat homoseksualiteit ’n oorerflike eienskap is.

Dr. Emmanuele Jannini, ’n endokrinoloog van Italië, skryf in Journal of Sexual Medicine “genetiese navorsing wat familie- en tweelingmetodologie gebruik, het konsekwente bewyse gelewer dat gene seksuele ­oriëntasie beïnvloed, maar molekulêre navorsing kon nog nie oortuigende bewyse lewer vir spesifieke gene nie”.

Studies van tweelinge het byvoorbeeld gewys homoseksualiteit is meer algemeen in identiese tweelinge as nie-identiese tweelinge, wat bewys homoseksualiteit is oorerflik, hoewel die omvang van die oorerflikheid tussen tweelinge minder was as wat verwag is.

McGregor sê “genetici beskou seksuele oriëntasie as ’n komplekse eienskap en gevolglik as iets wat oor ’n tydperk deur biologiese en omgewingsaspekte beïnvloed word”. “Dieselfde geld persoonlikheid, heteroseksualiteit en biseksualiteit.

APA steun Obama

Pres. Barack Obama het in April omskakelings- of herstellingsterapieë, wat homoseksuele of transgender- jong mense se seksuele oriëntasie wil verander, veroordeel.

Hy het gesê sy regering steun pogings om die gebruik daarvan op minderjariges te verbied. Die Amerikaanse Sielkunde-vereniging (APA) steun Obama.

Dr. Barry Anton, APA-president, het gesê “sogenaamde herstellingsterapieë is daarop gemik om iets ‘reg te maak’ wat nie ’n geestesiekte is nie en nie terapie benodig nie.

“Daar is onvoldoende bewyse dat dit werk en kan die mens potensieel leed aandoen.”

“Daar is nog geen enkele geen of genetiese onreëlmatigheid eksklusief geïdentifiseer wat met homoseksualiteit vereenselwig word en reproduseerbaar was nie.”

Dr. Frans Korb, ’n psigiater van Johannesburg, sê vandat homoseksualiteit sedert die 1970’s nie meer as ’n psigiatriese siekte geklassifiseer word nie, word min navorsing daaroor gedoen.

“Hoekom gaan hulle navorsing oor iets doen wat normaal is?” vra hy.

“Nou en dan is daar ’n opflikkering (van nuwe navorsing), dan sê hulle daar is miskien ’n genetiese faktor, daar is miskien ’n oordraagbare faktor, maar dit is nog nie 100% bewys nie.”

Hy meen omgewingsfaktore en die manier hoe ’n mens groot­gemaak word, tesame met genetiese faktore speel ’n rol in wat uiteindelik ’n individu se seksuele identiteit sal wees.

McGregor sê “navorsing hieroor is seldsaam, indien nie grootliks afwesig nie, hoofsaaklik omdat dit as ’n alternatiewe leefstyl (nie ’n leefstylkeuse nie) gereken word en gevolglik nie finansiering en navorsingstyd regverdig nie, aangesien ons werklike en ernstige aansteek­like en nieaansteeklike wêreldwye gesondheidskwessies het wat gepak moet word.

“Sommige mense is opgewonde oor die idee van ’n moontlike biologiese skakel, aangesien dit dan gesê kan word dat aangetrokkenheid tot dieselfde geslag as heeltemal ‘natuurlik’ geag kan word en nie ‘ ’n keuse’ nie.

“In dieselfde asem is daar die bekommernis dat dit dan as iets beskou kan word wat ‘behandel’ kan word.

“Ander is bekommerd dat bewyse van ’n genetiese grondslag tot ’n soort screening sal lei, wat kwessies van privaatheid, diskriminasie en selfs aborsieregte opper.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui