Predikante kry positiewe reaksie oor uitnodiging

Kyk ook:

Die volgende artikels oor homoseksualiteit het in April 2007 verskyn (skakel).

  1. Predikante kry positiewe reaksie oor uitnodiging
  2. Sinode het ‘goeie besluit’ geneem
  3. Gays verheug oor leraars se brief
  4. NG Kerk rig ope brief aan sinode om haat en onreg teen gays af te wys

**********

Predikante kry positiewe reaksie oor uitnodiging

OORWELDIGEND positiewe reaksie uit die gay gemeenskap, asook van heteroseksuele en selfs ouer mense, is drie NG predikante van Bloemfontein toegeswaai ná hul ope uitnodiging aan gay Christene om met vrymoedigheid deel van hul geloofsgemeenskap te word.

Dié uitnodiging deur dr. Stéfan Stassen en ds. Petrus Kühne van die NG gemeente Universitas-Wes en dr. Carel van der Merwe van die NG gemeente Hugenoot in Bayswater in die stad, is gister in Volksblad gepubliseer.

Die drie sê in die brief hulle kan nie langer stilbly en toesien hoe gay Christene uit die kerk gehou word deur mense wat met vooroordele liefdeloos teenoor hulle optree nie.

“Ons  wil julle akkommodeer, nie op  ’n voorwaardelike manier en as halwe of tweedehandse lidmate van die kerk nie, maar as volle lidmate. Ons wil onvoorwaardelik vir julle ruimte gun om jul unieke seksualiteit op ’n verantwoordelike en Christelike manier uit te leef.”

Die brief lui verder: “Ons is oortuig dat as die Bybel oor homoseksuele dade praat, dit nie gaan oor gaywees soos ons dit vandag ken nie. In die meeste tersaaklike gedeeltes neem die Bybel standpunt in teen seksuele geweld waardeur mense mekaar met homoseksuele verkragting verneder het.

“Gaywees, soos ons dit vandag ken en beleef, was egter nie deel van die raamwerk van die Bybel nie.”

Die brief lui verder daar is menige predikante wat bereid is om met gay mense te praat.

Stassen het gister gesê daar is sowat 10 ander predikante wat hul drie se siening deel. Dié predikante is van gemeentes in Bloemfontein en op dorpe naby die stad.

In die lig van dié sowat 10 leraars se omstandighede, sal dit egter “strategies dom” van hulle wees om in dié stadium hul identiteit bekend te maak.

Hy sê die reaksie op die uitnodiging was oorweldigend positief, ook die reaksie van ouer mense “wie ons verwag het streng en fundamentalisties sou wees”.

Die kommentaar was dat die brief lankal geskryf moes wees. Geen negatiewe kritiek is ontvang nie, sê Stassen.

“Ons het ’n hele klomp SMS’e van gays ontvang wat baie dankbaar is om te hoor hulle hoef nie soos misdadigers te voel nie.”

Hy sê ’n paar gay Christene is vervreem van die kerk. Talle wat bang was om voorheen oor hul seksualiteit te praat, het nou van hulle laat weet.

Volgens Stassen het hy, Kühne en Van der Merwe “veilig” gevoel om weens hul kerkrade se ingesteldheid teenoor gay Christene, die uitnodiging te rig.

“Daar was geen amptelike besluite deur ons kerkrade geneem nie, maar die gutt feeling was dat die kerkrade ontvanklik is hiervoor.”

“In ons gemeentes is gay paartjies en van die gay lidmate is leiers. Hulle het die vrymoedigheid het om kerk toe te kom. Daar word nie ’n issue van hul seksualiteit gemaak nie.”

Volgens Stassen is dit “arrogant om die heeltyd óór gays te praat en nie mét hulle nie”.

Hulle drie wil ook nie in ’n polariserende debat oor gaywees en die kerk betrokke raak nie. “Dit is nie nou ’n oorlog wat ons in die kerk wil begin nie. Ons wil regtig net menswaardig met gays begin praat.”

Kühne het gesê hulle drie beskou hulself nie nou skielik as gays se helde nie.

Die drie predikante meen hulle moet amptelik in die kerk ruimte skep vir gay Christene. Gay Christene moet welkom hier voel.

“Vir jare moes ons gay lidmate wegsteek vir gewone lidmate,” sê Stassen.

Volgens Van der Merwe het verskeie inwoners van die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein slegs positiewe kommentaar teenoor hom oor die brief gelewer.

Sinode het ‘goeie besluit’ geneem

DIE sinode van die NG Kerk in die Vrystaat het ’n goeie, begronde besluit oor homoseksualiteit geneem en dit is ook nie ’n veroordelende besluit nie.

So het prof. Piet Strauss, voorsitter van die NGK se moderamen in die Vrystaat, gister by navraag gesê.

Die sinode het op sy 50ste sitting in Oktober 2005 ná ’n debat oor homoseksualiteit besluit dat homoseksuele praktyke nie Bybels geregverdig kan word nie en dat die kerk met groot deernis en begrip gays pastoraal moet begelei.

Die sinode het ook besluit dat alle sondaars kragtens die genadige vergifnis van Christus in die kerk welkom is en dat dit ook homoseksuele geld.

Strauss het gister gesê die kern van die saak oor homoseksualiteit handel oor die praktyke daarvan.

“Die kerk gaan probleme met jou ontwikkel as jy die praktyke beoefen. As jy gaan oortree, kan dit jou in die gedrang bring.”

Hy sê wanneer ’n lidmaat oortree, kyk die kerk na die konteks en die omstandighede van die oortreding voordat hy besluit oor sy optrede.

Strauss het gesê die drie NG predikante wat ’n ope uitnodiging aan gay Christene gerig het om met vrymoedigheid deel van hul geloofsgemeenskap te word, is geregtig op hul standpunte oor homoseksualiteit in dié brief.

Daar is landwyd verskillende standpunte oor gaywees en die kerk.

Hy sê toe die Vrystaatse sinode die besluit oor homoseksualiteit geneem het, is dit nie deur “vreeslike meningsverskille” voorafgegaan nie.

Die  sinode  praat  ook  namens die kerk en nie namens individue nie.

Hy sê die algemene sinode van die kerk, wat van 4 tot 8 Junie in Johannesburg vergader, sal in diepte na die onderwerp kyk.

Volgens die algemene sinode is die huwelik slegs vir een man en een vrou.

“Die Vrystaatse sinode het reeds sy besluit oor die saak geneem, maar die algemene sinode wil nog verder daarna kyk.

“Dit sal waarskynlik finaal ’n uitspraak maak.”

Volgens Strauss ondersteun hy die Vrystaatse sinodebesluit. “Dit is nie ’n veroordelende besluit nie. Dit sê dat ons mekaar mooi en in liefde hanteer.”

Die Vrystaatse sinode het destyds besluit dat dit op eksegetiese grondslag sy oortuiging is dat homoseksuele praktyke nie Bybels geregverdig kan word nie.

Gays verheug oor leraars se brief

GEEN mens kan kies om gay te wees nie, want niemand wíl ’n lewe van soveel verwerping en oordeel kies nie.

So sê me. Ronel van Zyl, ’n gay vrou van Bloemfontein.

Van Zyl en haar maat, me. Anri Venter, het gister met Volksblad gepraat oor die brief wat drie NG leraars in die stad gerig het aan gay Christene om met vrymoedigheid deel van hul geloofsgemeenskap te word.

Dié leraars is drs. Stéfan Stassen, Carel van der Merwe en ds. Petrus Kühne.

Van Zyl het vertel van gays se pyn en die aanslag teen hulle.

Sy en Venter is nou ’n jaar en vyf maande ’n paartjie.

Oor dié uitnodiging sê Van Zyl: “Dit is fantasties! Dis great! Halleluja!

“Mense sê reguit vir ons in ons gesig ons gaan hel toe. Jy moet self vrede daarmee maak dat jy gay is. Soveel méér gay mense kan dan vrede maak met hulself (vanweë die uitnodiging).”

Venter sê oor die brief: “Dit is die beste ding wat ooit kon gebeur.

“Dit is lekker om te weet dat daar nou wel kerke is waarin jy kan sit sonder om te wonder wat die mense van jou dink.

“Mense begin dit (homoseksualiteit) meer aanvaar, maar daar is steeds baie konserwatiewe mense. My ma-hulle aanvaar my homoseksualiteit en sê dis fine.

“Hulle is baie lief vir my.”

Sy sê die uitnodiging kan gays “wat bang is om uit te kom, dalk help om uit te kom”.

’n Gay man van Welkom, wat anoniem wil bly, het gesê: “Ek het die brief twee of drie keer deurgelees, want ek kon my oë nie glo nie!

“Dit is absoluut wonderlik dat hulle die uitnodiging aan gays rig.

“Dit sal honderde mense se lewens raak omdat hulle nie meer verstoot word nie.”

Volgens dié man gaan hy nie kerk toe nie juis omdat hy as gay deur die kerk verstoot word.

’n Gay onderwyser van Bloemfontein het gesê hy het sy seksualiteit met God uitgesorteer.

“Die Here sal nie om liefde vir iemand te hê, veroordeel nie.

“Ek het ’n verhouding met Hom, nie met die predikant nie.”

Hy sê hy is baie bly oor die brief, maar gays het steeds ’n algemene vraag wat hulle opgelos wil hê.

“Ek wil weet of gay mense (volgens die predikante) verhoudings mag hê, binne ’n verantwoordelike verhouding seks mag hê, of net binne ’n gay-huwelik seks mag hê.

“Aanvaar hulle (die predikante) jou binne ’n verantwoordelike seksuele verhouding? Ek glo wel dit is nie reg om links en regs seks te hê nie. Aanvaar hulle gay-huwelike?”

Die drie predikante het gister by navraag oor dié kwelvrae gesê gay Christene kan dit met hulle kom bespreek.

NG Kerk rig ope brief aan sinode om haat en onreg teen gays af te wys

Neels Jackson

PRETORIA. – “Soos ’n morele heteroseksuele leefwyse nie sonde is nie, só is ’n morele homoseksuele leefwyse nie sonde nie.”

Dít is een van die stellings in ’n ope brief aan die algemene sinode van die NG Kerk wat nou op e-pos gesirkuleer word sodat mense hul steun daaraan kan toevoeg deur dit te onderteken.

Die sinode vergader in Junie en homoseksualiteit is een van die brandende kwessies wat daar bespreek sal word.

Dr. Frits Gaum, een van die organiseerders van die aksie, het gister daarop gewys dat dit nie die eerste keer in die geskiedenis van die NG Kerk is dat ’n ope brief aan ’n sinode gerig word nie.

In die vroeë jare tagtig het ’n groot aantal predikante ’n ope brief teen apartheid aan die sinode gerig. Gaum sê dit het uiteindelik nie op die sinode se tafel beland nie, maar dit het tog ’n goeie uitwerking gehad.

In die teks van die nuwe ope brief, wat volgens Gaum nog ’n bietjie geslyp kan word, word daar by die sinode gepleit om tekens van hoop vir homoseksuele op te rig en om nie die vorige sinode se verskoning teenoor gays ongedaan te maak nie.

“Ons wil dit as ons oortuiging stel dat God die meeste mense heteroseksueel geskape het, en sommige mense homoseksueel.

“Soos ’n heteroseksuele oriëntasie nie sonde is nie, só is ’n homoseksuele oriëntasie nie sonde nie. En soos ’n morele heteroseksuele leefwyse nie sonde is nie, só is ’n morele homoseksuele leefwyse nie sonde nie,” lui die brief.

In ’n volgende punt word gesê: “Ons aanbid ’n God van liefde en geregtigheid. Waar daar haat en onreg is – tussen en teenoor rasse, geslagte, nasies, hetero- en homoseksuele – is God bedroef. ’n Kerk, veral ’n kerk, moet haat en onreg afwys.

“Die algemene sinode word nou geroep om haat en onreg teen gays, in die samelewing én die kerk, in die duidelikste taal af te wys.”

Daar word verder gevra dat die algemene sinode homoseksuele mense as volwaardige lidmate sal erken, ruimte sal maak vir die diversiteit van mense en “die deur sal oopmaak vir dié kerkrade wat gelei word om openlike homoseksuele mense as ampsdraers te verkies en te beroep”.

Voorts vra die brief dat die kerk ’n gestruktureerde proses van versoening tussen homoseksuele en heteroseksuele lidmate aan die gang sal sit.

Gaum sê hulle het sover baie goeie reaksie gehad. Hulle wil die lys van ondertekenaars teen aanstaande maand afrond en dan aan die kerk se algemene sekretaris stuur.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui