Die oordeel kom niemand toe nie – getuienis van ’n eks-homoseksueel

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Volksblad (skakel) gekopieer en is na aanleiding van die artikel Predikante kry positiewe reaksie oor uitnodiging wat in Volksblad, 14 April 2007 gepubliseer is.

Dit is ’n baie vreemde reaksie van ’n ex-homoseksuele persoon. Hy besef al te goed dat homoseks sonde is, maar hy wil lyk my sê dat die kerk hierdie sonde moet verdra.

************

Die oordeel kom niemand toe nie

2007-04-19 18:59

Ek is dankbaar dat drie NG predikante (Volksblad, 14 April 2007) ’n ope uitnodiging aan mense met gay-oortuigings gerig het omdat die kerk Jesus verteenwoordig wat met ope arms almal ontvang wat na Hom toe wil kom.

Deur die kerk verkondig God sy waarheid en as ons met ons hele hart begeer om ons lewe neer te lê vir Jesus sal Hy vir ons ’n nuwe lewe in oorwinning gee deur Sy Heilige Gees wat in ons woon (Mat. 10:39).

God se LIG en WAARHEID is ons enigste riglyn en daar rus ’n groot verantwoordelikheid op ons predikante om dit suiwer oor te dra waarna ons elkeen die verantwoordelikheid het om dit te toets (1 Tess. 5:20-21) aan die hele Skrif wat deur God Drie-Enig geïnspireer is en groot waarde het om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek (2 Tim 3:16).

God se wil word maar gedeeltelik verkondig (1 Kor. 13:9) en daarom moet ons vertrou dat die Heilige Gees ons in die hele waarheid sal lei (Joh. 16:12-15).

Volgens 2 Tess. 2:10 is dit duidelik dat daar gruwelike misleiding (wat so mooi, goed en reg in ons eie oë is dat ons dit nie meer herken as misleiding nie) sal wees van dié wat verlore gaan omdat hulle nie die waarheid liefgehad het nie.

Die waarheid van Rom. 8 het my ná baie trane, pyn en smeking verlos van homoseksuele begeertes wat in my was (ek moes myself kruisig voor God se waarheid) deur die krag van die Heilige Gees.

Alle eer aan God vir die geweldige groot krag wat die Heilige Gees uitgeoefen het in my deur geloof – dieselfde krag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Jesus uit die dood opgewek het en laat opvaar het bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag (Ef. 1:19-21).

Oordeel kom niemand toe nie – dit is die Here wat oordeel en die bedoelings van die hart blootlê (1 Kor. 4:3-5).

M. Schlebusch
Heuwelsig, Bloemfontein

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui