Ope brief aan NG Kerk weer nodig soos in 1982

Hierdie is een van talle ope briewe wat aan die NG Kerk geskryf is sonder enige sukses.

**************

Ope brief aan NG Kerk weer nodig soos in 1982 | Netwerk24

Dawie Botes

Donderdag 06 Augustus 2015

Op 9 Junie 1982 rig 123 gelegitimeerde NG predikante ’n ope brief aan Die Kerkbode.

Die brief het gegaan oor ’n diepe besorgheid oor die skynbare onvermoë van die kerk in Suid-Afrika om sy roeping betekenisvol te vervul. Dit het uit drie dele bestaan met een deel gewy aan die kerk se profetiese roeping.

In daardie tyd het die brief groot openbare reaksie uitgelok, met berigte soos: “Groot groep leraars reik Ope Brief uit oor kerk se roeping” (Die Kerkbode, 09/06/1982), “Kerk in beroering oor brief” (Beeld, 09/06/1982). Vir maande is stryd gevoer hieroor. Dié ope brief is destyds aan onder andere die leierskap van die kerk gerig.

Ek is van mening dat die tyd nou weer ryp is dat besorgdes in die NG Kerk wat staan by ’n gebalanseerde Gereformeerde teologie weer hul stem moet laat hoor in so ’n ope brief aan die kerk. Dit moet aan sowel die situasie binne die kerk as aan sy getuienis na buite aandag gee.

Die huidige debatte in die kerk word oorskadu deur ’n sosiale teologie waar die stemme van die samelewing eerder as die Bybel voorop staan, en waar alles en almal net tevrede gestel word. Populêre krete van die dag moenie die kerk lei nie.

Die NG Kerk se profetiese stem raak tans net stiller. In die tydperk van 1962 tot 2002 het die NG Kerk ’n aantal etiese sake gehanteer. In 1962 tot 1966 was daar 13 amptelike sake op die NG Kerk se agenda, in 1966 tot 1970 altesaam 21, in 1970 tot 1974 18, in 1974 tot 1982 27, in 1982 tot 1986 15, in 1986 tot 1994 10. In 1994 tot 2002 is slegs vyf sake gehanteer.

Tans gaan die profetiese stem oor in ’n poëtiese stem wat alles mooi en goed wil praat. Die feit dat die NG Kerk tans debatteer oor die wese van die huwelik, toon die invloede van sekularisme, relativisme en postmodernisme. Hierdie debat, onder meer, is ’n toetssaak vir die NG Kerk en sy Skrifbeskouing.

Die NG Kerk moet weer onder meer ’n biddende kerk word. Die Kerk mag nie praat uit die tydsgees nie, maar moet juis praat met die tydsgees. So ’n ope brief wil opnuut pleit vir ’n opstaan vir die Woord en die eer van die Here.

Dr. Dawie Botes

NG Kerk Vrede-Wes

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui