‘Ons is die ware kerk en julle is valse kerk’

Kyk ook:

Ek glimlag vir die “objektiewe” titel van die artikel “Ons is die ware kerk en julle is valse kerk” hieronder. Toegegee, dit is seker waarop dit neerkom. Kom ons sê maar dit is om lesers se aandag te trek.

Nietemin, Stellenberggemeente is nou ewe vroom, geskok dat Chris Saayman hulle in die openbaar gekritiseer het nog voordat hy persoonlik met hulle kontak gemaak het. Moes hy nie die Matteus 18 pad geloop het nie? Dit sou Chris Saayman absoluut niks gehelp het om persoonlik met Stellenberg in verbinding te tree nie. Stellenberg se besluit was wel deurdag en hulle reaksie bevestig dat hulle klaar besluit het.

In 2 Johannes staan: (10)As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, (11)want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

Is dit nie maar wat Chris Saayman gedoen het nie? Dus het hy heeltemal Bybels opgetree.

Kyk ook Die Bybel oor dwaling.

**************

‘Ons is die ware kerk en julle is valse kerk’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

25 Augustus 2019 10:00

’n Kaapse NG gemeente het hul buurgemeente op Facebook getakel omdat hulle ’n manlike leraar wat met ’n ander man getroud is in diens geneem het.

Die NG gemeente Tafelberg beskuldig die NG gemeente Stellenberg van “teologiese en kerklike verval” en het hul gemeentelede gevra om vir hul bure te bid omdat dié vir ds. Philipp Dietmann, ’n getroude gay predikant, as tentmakerleraar bevestig het.

Dietmann staan deeltyds in die bediening en werk ook as ’n finansiële beplanner by Old Mutual.

Nadat Dietmann ’n maand gelede by Stellenberg aangestel is het Tafelberg se kerkraad sy gemeentelede op Facebook gevra om te bid om hul buurkerk “tot bekering en die terugkeer na die waarheid van die Skrif te roep”.

Die kerkraad beskuldig Stellenberg van dwaalleer, “teen die agtergrond van die algemene teologiese en kerklike verval binne die NG Kerk en spesifiek na aanleiding van die onlangse gebeure by NG Stellenberg waar ’n man – wat met ’n ander man getroud is – as leraar bevestig is,” lui die inskrywing.

Dié “liberale en vrysinnige tydsgees” by Stellenberg én elders in die NG Kerk doof die “lig van Christus se kerk uit”. Net ’n valse kerk skryf aan homself en sy besluite “meer mag en gesag toe as aan die Woord van God”, lui die inskrywing. Daarteenoor is Tafelberg se gemeente die “ware kerk” “wat die evangelie suiwer preek” en “die kerklike tug gebruik om die sondes te straf”.

Dr. Chris Saayman Tafelberg se leraar, dr. Chris Saayman, was in Maart in die nuus toe hy vir ds. Riaan de Villiers, leraar van die NG Groote Kerk-gemeente en voorsitter van die Ring van Kaap die Goeie Hoop, ook van dwaalleer en kettery beskuldig het.

Dit was nadat De Villiers aan Kerkbode  gesê het die slagoffers van die Christchurch-aanval was “Moslembroers en -susters” en “kinders van God” wat “met onbeskryflike geweld om die lewe gebring is terwyl hulle besig was om te bid”.

Dietmann wou nie oor die saak praat nie en het Rapport  na ds. Callie Visagie, leraar by die Stellenberg-gemeente, verwys.

Visagie sê sy gemeente wil nie in ’n moddergooiery betrokke raak nie. “Ons is wel geskok oor hul inskrywing. Nie dr. Saayman of enige van sy kerkraadslede het ooit met ons geskakel om hul misnoeë uit te spreek nie. Ons sou verwag dat hulle die aangeleentheid binne kerkverband hanteer, eerder as om so ’n geweldige kritiese verklaring in die openbaar uit te reik,” sê hy.

“Ons besluit om vir ds. Dietmann te bevestig is heeltemal in ooreenstemming met die algemene sinode se besluit rakende die gelykwaardigheid van alle mense ongeag hul seksuele oriëntasie,” sê Visagie.

“Ons ag Philipp se rol en bydrae in die gemeente as die volwaardige mens wat hy is. Philipp se bevestiging het plaasgevind in pas met ons gemeente se strewe om met die liefde van Christus inklusief oor alle grense uit te reik.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui