Klagte teen nagwaak-dominee by NG Kerk ingedien

Klagte teen nagwaak-dominee by NG Kerk ingedien | Netwerk24

Deur Ané van Zyl

9 Mei 2019

Die NG Kerk het Woensdag bevestig dat ’n klagte wat ingedien is teen ds. Riaan de Villiers, predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, ondersoek word.

“Die klagte handel oor beweerde dwaalleer wat met sy betrokkenheid by ’n intergeloof-inisiatief en diens in Kaapstad op 23 Maart vanjaar verband hou,” sê ds. Charl Stander, aktuarius van die NG Kerk, Woensdag in ’n verklaring.

Die klagte teen De Villiers bestaan uit nege dele, sê hy.Die diens waarna verwys word, is bygewoon deur mense van verskillende gelowe, onder wie Moslems, waar vir die slagoffers van die terreuraanvalle in Nieu-Seeland in Maart vanjaar gebid is.

Lees meer hier: ‘Kwaaies in minderheid’ , sê nagwaak-dominee

Daar was ontsteltenis oor die Groote Kerk se ondersteuning van die geleentheid, omdat De Villiers na Moslems verwys het as “broers en susters”, en gesê het dat Jesus ook oor die dood van Moslems sou huil.

Ná die indiening van die formele klag sal die Ring van die NG Kerk dit ondersoek.

“Die Ring het die aangeleentheid na die tugliggaam verwys om dit op die voorgeskrewe kerkordelike wyse te ondersoek,” sê Stander.

“Die Ring se tugliggaam het reeds gekonstitueer, die klag in ontvangs geneem en daarmee begin handel.”

De Villiers het Dinsdag op Facebook geskryf dat die klagte skielik baie rugbaar geword het.

Ds. Rheinier Nel van die NG kerk in Barkly-Oos in die Oos-Kaap het in ’n inskrywing op Facebook na die klag verwys.

“Daar is nege leerklagte ingedien,” het Nel gesê.

“Die Ring se gevolmagtigde het reeds kennis gegee dat die saak hanteer word.”

Nel kon nie Woensdag vir kommentaar bereik word nie.

Hy het die klagte genoem onderaan ’n uitvoerige Facebook-plasing deur ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, wat ook gehandel het oor ’n nagwaak vir nie-Christene en sy onttrekking daarvan.

Oor die klagte teen hom het De Villiers gesê hy wil nie kommentaar lewer nie, maar hy het wel daaroor op Facebook geskryf.

“’n Medeleraar, ’n kollega in die kerk, sien op Facebook daar word ’n uitnodiging na ’n intergeloofsbyeenkoms in die Groote Kerk gereël om saam met die Moslem-gemeenskap te treur oor die verskriklike wrede aanval op mense wat gebid het,” skryf De Villiers.

“Omdat hy ver weg bly stuur hy dan ’n ‘spioen’ na die byeenkoms om vir hom video-opnames te maak van die mense wat treur. Hy gebruik dan hierdie opnames om ’n klagte teen my te formuleer en my by die Ring aan te kla.”

De Villiers vra dan of dié “medeleraar en kollega in die kerk”, wat hy nie wou identifiseer nie, meer van ’n broer vir hom as ’n Moslem-man van ’n moskee in Distrik Ses is.

Lees meer hier: NG Dominees sal by moskee gaan bid vir Sri Lanka

Stander sê die ondersoek oor die klagte teen De Villiers sal vertroulik gehanteer word.

“’n Ring-ondersoek is ’n vertroulike proses en geen inligting oor die verloop of inhoudelike daarvan word bekend gemaak alvorens die proses nie afgehandel is nie,” sê hy.

Intussen is daar groot steun vir De Villiers op Facebook.

“Riaan, jy is ’n intergeloofsleier wat verpligtinge, geloof en aksies goed saam uitvoer,” skryf een ondersteuner.“Kom ons glo die Kerk se oë gaan oop. Kom ons doen net wat God van ons wil hê – die regte ding,” skryf iemand anders.

Lees meer hier: NG Kerk-moderator onttrek aan biddag by moskee

2 thoughts on “Klagte teen nagwaak-dominee by NG Kerk ingedien”

  1. Ek ondervind as Christen ’n ernstige probleem met die “interfaith” konsep. Jesus Christus, Seun van God, is die enigste weg tot God. Daar is geen ander weg nie. Moslems erken en aanvaar Hom nie, hoe sou Hy dan huil oor hulle wat dood is. Dit is loutere dwaalleraar! Ds Riaan de Villiers probeer “gesig koop”. Daar is niks met ’n denominale Christengebedsbyeenkoms nie, maar ’n intergeloofnagwaak? Riaan se aksie laat ’n mens wonder of jy ooit vir Jesus as Verlossser ken en ’n persoonlike verhouding met God het. Of is dit net nog een van die Wes-Kaap se dwalinge om die Nuwe Wêreldgeloof, die sogenaamde One World Faith, te bevorder? Dank die Here dat daar nog leraars en gemeentes is in die Wes-Kaap wat die suiwer Woord van God verkindig en hulle nie besig hou of vereenselwig met Riaan de Villiers en vals leraars soos hy nie.

  2. 27 Desember 2020 Rapport, in BEKKIG
    Ds Rheinier Nel het jy regtig gesê patriargie is nie die probleem nie, maar matriargie. “Sommige vroue lok mans uit tot agressie.’
    Is jy heeltemal gek!!!!
    Dr Ben du Toit wat God se bestaan misken. Is jy heeltemal gek!!!!!,
    Dominees in die NG kerk wat klagtes indien teen dr André Bartlett en dan bestialiteit, pedofiele gedrag en gay wees in een asem noem.
    Is jul heeltemal gek!!!!!,
    Herman Lategan ek sekondeer jou padda vd jaar trofee aan die NG kerk en spesifiek die skoorsoekers, vol opinies oor alles en sóóó nie meer relafant nie – groepies.
    So skaam vir my NG familie!!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui