NGK se jongste SGV-besluit ‘die beste wat ons kon doen’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NGK se jongste SGV-besluit ‘die beste wat ons kon doen’ | Netwerk24

Jana Marx

Vrydag, 20 Oktober 2023

Die NG Kerk se Algemene Sinode maak steeds ruimte vir gemeentes met verskillende standpunte oor selfdegeslagverbintenisse, maar dit is nou duideliker wat hierdie ruimte behels en hoe die kerk se pad oor selfdegeslagverbintenisse vorentoe lyk.

Afgevaardigdes het vandeesweek op die sinodesitting beskrywingspunte en beswaarskrifte aangebied oor onder meer hoe die Algemene Sinode die Bybel interpreteer.

Onder die voorstelle is dat die 2019-besluit oor selfdegeslagverbintenisse herformuleer of in sy geheel verwerp moet word.

In van die beswaarskrifte word beweer daar was “prosedurele ongerymdhede” met die neem van die 2019-besluit, en “ ’n gekonkel”.

Daar was ook druk om toe te laat dat gemeentes wat nie met die 2019-besluit saamstem nie, ’n eie sinode kan stig.

Die 2023-besluit handhaaf die 2019-besluit in soverre dit ruimte maak vir meningsverskille oor selfdegeslagverbintenisse, en dit gee kerkrade ruimte om self te besluit of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies sal trou en gay predikante wil aanstel.

Die besluit gaan egter verder, deurdat dit probeer om verwarring en kwelpunte op te klaar wat sommige gemeentes die afgelope vier jaar warm onder die kraag gehad het, soos die kwessie wat dit beteken om mekaar “ruimte” te gee om te verskil.

Die 2023-besluit maak voorsiening vir die moontlikheid dat ’n gemeente by ’n ander streeksinode met ’n gelyksoortige standpunt kan inskakel. Die stigting van ’n nuwe sinode is nie ’n opsie nie.

Dit is nog nie seker hoe ’n behoudende gemeente in die Wes-Kaap by byvoorbeeld die Goudland- of Namibië-sinode sal inskakel nie.

Die Algemene Sinode erken dat die 2019-besluit “verwarring, verwonding en vervreemding” onder lidmate veroorsaak het.

“Ons is opreg jammer dat dit gebeur het.”

Die Sinode erken dat daar ’n diepe verdeeldheid oor selfdegeslagverbintenisse in die kerkverband bestaan.

“Dit belemmer ons meelewing met mekaar, ons getuienis oor die versoening in Christus, en ons vervulling van ons roeping,” lui die besluit.

Die konsepvoorstel is uiteindelik Donderdagaand ter tafel gelê, maar is na nóg besware uit die vergadering terugverwys, en is Vrydag bespreek en met ’n tweederdemeerderheid aanvaar.

Ds. Jan Lubbe, NGK-moderator, het aan Netwerk24 verduidelik die 2023-besluit het ten doel om uitvoering te gee aan die besluit van 2019.

“Ek dink ons het ’n groot mate van konsensus bereik dat die 2023-besluit die beste is wat ons in ons situasie kan doen. En dat dit ’n besluit is wat geneem is ná ’n week van intense gesprekke. Daar is ’n verantwoordelike besluit geneem waarin daar regtig ruimte is vir mense om met hul lewe en bediening voort te gaan. Ek is dankbaar dat die vergadering met ’n baie sterk besluit huis toe kon gaan,” het hy gesê.

Kommentaar

Donderdagaand was daar die tweede keer die week heelwat reaksie. Predikante van Namibië was steeds sterk gekant teen die meer akkommoderende standpunt oor selfdegeslagverbintenisse en die “ruimte” wat geskep is.

Die moontlikheid bestaan dat hulle hul dalk nie met die besluit sal kan versoen nie. Benewens diep teologiese verskille, verbied Namibiese wetgewing selfdegeslaghuwelike.

Volgens ds. Johannes Maritz, moderator van dié sinode, was hul gemeentes hoopvol dat die Algemene Sinode van standpunt sou verander, “maar die feit van die saak is die besluit van 2019 staan nou vas”.

“Ons kan nie nou die besluit verander nie. Ons moet nou eers teruggaan na die sinode en sê: Hier is nou ruimte gemaak, wat maak ons daarmee? Maak dit ’n verskil vir ons, of nie?”

Hierdie vergadering word op 7 November gehou.

Ds. Dirk Coetzee van Noordoewer-gemeente het Donderdagaand voet by stuk gehou: “Ek kan nie hierdie besluit goedkeur nie. My hart is onrustig en ek glo dis die Gees van God. God het gesê dis verkeerd en as ons hierdie toelig, dan kan ’n huis wat in homself verdeeld is, nie staan nie. Hierdie is ’n oproep tot ’n berouvolle terugkeer na God.”

Ds. Hector Jooste van Otjiwarongo het gesê die Sinode van Namibië doen ’n oproep op die Algemene Sinode tot “berouvolle bekering”.

Dr. Louis van der Riet was ten gunste van die besluit.

“Ek steun dit, want dit skep vir homoseksuele mense ’n ruimte om te floreer.

“Die realiteit is dat mense soos ek – gay mense wat lief is vir die Here – nie gaan ophou gay wees nie. Ons gaan nie verander nie. Ons gaan nie weg nie. Die voorstel gee die ruimte om in gesprek te bly met mekaar.”

Prof. Marius Nel, Nuwe Testamentikus van die Universiteit Stellenbosch, het gesê verskille is altyd moeilik, “maar dis deel van ons verhaal om te verskil”.

“Nie eens Paulus en die eerste kerke het oor alles saamgestem nie. Daar sou nie een brief in die Nuwe Testament gewees het as hulle saamgestem het nie.”

Boonop kán mense wat verskil, mekaar vind, het dr. Bertus Celliers van die Vrystaat gesê.

“Uiteindelik gee hierdie voorstel ons die ruimte om die pad te bly loop om iewers vorentoe meer duidelikheid oor die saak te kry – soos wat ons voorheen ook oor apartheid duidelikheid gekry het.

“Prof. Willie Jonker het geskryf selfs die kerk kan verander. Ons kan nie oor iets wat nie my saligheid in gedrang bring, regsinnig wees nie.”

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui