Namibiërs wil die pad vat oor NG Sinode hom ‘nie bekeer’

*******

Namibiërs wil die pad vat oor NG Sinode hom ‘nie bekeer’ | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 12 November 2023

Die Namibiese sinode van die NG Kerk het sy 44 gemeentes Woensdag in kennis gestel hy gaan voort met sy planne om hom los te maak van die kerk se algemene sinode (AS).

Luidens die omsendbrief waarin hy dié aankondiging gemaak het, is dit omdat “hartgrondige bekering” nie by die afgelope sinodevergadering gebeur het nie.

Die Namibiese sinode het in Maart verlede jaar ’n ultimatum aan die AS gerig dat hy van voornemens is om kragtens art. 37 van die Kerkorde sy band met die AS te verbreek as daar nie aan sy versoeke voldoen word nie. Die Namibiese sinode was veral ontevrede oor die AS se vroeëre besluite oor selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan universiteitsfakulteite.

Die AS het in Oktober besluit dat gemeentes wat nie gay-huwelike wil bevestig nie, voortaan by enige streeksinode kan inskakel wat hul beskouing deel.

Dié besluit handhaaf die AS se 2019-besluit in soverre dit ruimte maak vir meningsverskille oor selfdegeslagverbintenisse en gee kerkrade ruimte om self te besluit of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies wil trou en gay predikante sal aanstel.

Die omsendbrief aan die Namibiese gemeentes lui dat “ ’n spesiale taakspan in oorleg met die Namibiese moderamen oordeel dat genoeg bekering nie by die AS plaasgevind het nie”.

“Die Namibiese moderamen oordeel dus dat die Namibiese besluit van 2022 van krag word deur middel van die aktivering van die proses van herdefiniëring van die verhouding met die AS.”

Art. 37 van die Kerkorde bepaal dat ’n streeksinode uit die kerkverband kan tree met behoud van sy bates, naam, regte en voorregte.

Die brief lui verder dat ’n gespreksdokument opgestel sal word oor die “teologiese afstand tussen Namibië en die AS, sowel as die moontlikhede en implikasies vir die Namibiese sinode”.

Dit sal deur elke gemeente bespreek word voordat voorstelle vir die Namibiese sinodevergadering in 2025 formuleer sal word “waar die proses finaal afgehandel sal word”.

Ds. Johannes Maritz, moderator van die Namibiese sinode, sê aan Rapport hulle het ’n beginselbesluit geneem. “Ons loop ’n pad wat niemand anders nog geloop het nie en ons moet nog baie huiswerk doen oor die implikasies om ons verhouding met die AS te herdefinieer. Ons sal die Kerkreg en die gewone reg in ag neem om ’n besluit te neem oor watter opsie vir ons die beste is.”

Hy sê daar is gemeentes in streek­sinodes in Suid-Afrika wat reeds aangedui het dat hulle by die Namibiese sinode wil aansluit.

Die AS het verlede maand art. 32 van die Kerkorde gewysig sodat streeksinodes nie meer geografies saamgestel hoef te wees nie.

Die Namibiërs wil volgens Maritz helderheid oor die wysiging van art. 32 kry voordat hulle enige finale besluit neem. “In die proses moet ons na onsself kyk kragtens ons besluit van 2022 en hoe ons self ons eie etiese kwessies hanteer.” Hul besluit om hul verhouding met die AS te herbepaal, gaan hoofsaaklik oor hul onrustigheid oor teologiese sienings en sogenaamde liberale teologie wat “oor ’n wye front posgevat het”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui