NGK bekyk formulier vir verbintenisse van dieselfde geslag

Kyk ook Henriëtta Klaasing se kommentaar onderaan.

*********

NGK bekyk formulier vir verbintenisse van dieselfde geslag | Netwerk24

22 September 2021

Deur Arisa Janse Van Rensburg

’n Taakspan van die NG Kerk werk tans aan ’n nuwe formulier vir selfdegeslagverbintenisse wat in November aan die algemene sinode (AS) voorgelê sal word.

’n Formulier vir selfdegeslagverbintenisse word tans deur die NG Kerk ondersoek.

Die Kairos Netwerk (KN), wat behoudende lidmate van die kerkgroep verteenwoordig, noem die AS se besluite “on-Bybels” en gebruik die nuwe formulier as ’n voorbeeld daarvan.

Die vorming van die KN het gevolg nadat die AS in 2019 besluit het om ruimte te skep vir selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse in die kerk.

Die KN het Maandag vergader en in ’n daaropvolgende verklaring behoudende lidmate aangemoedig om skriftelik daarop aan te dring dat die besluit herroep moet word.

“Die AS se on-Bybelse besluite kan nie aan kerkrade oorgelaat word terwyl hulle reeds ’n taakspan vir die implementering van byvoorbeeld ’n nuwe formulier vir selfdegeslagverhoudings saamgestel het nie,” lui die verklaring.

’n Formulier is ’n vasgestelde vorm wat gelees word op ’n plegtige verrigting, soos op ’n huwelik of op ’n doop.

Die besluite van die AS praat konsekwent van ’n huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou.

Die groep wil nie van die kerk skeur nie, maar sê hy wil eerder ’n sinode vir behoudendes binne die kerk vorm.

“Kerkeenheid is vir ons belangrik, maar as belydeniskerk glo ons eenheid kan slegs gevind word in liefde en waarheid. Daarom bepleit ons nie kerkskeuring nie, maar ware kerkreformasie,” lui die verklaring.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê die Kerk onderskei tussen ’n huweliksformulier en ’n formulier vir selfdegeslagverbintenisse.

“Dié verbintenisse geskied nie onder die huwelikswet (Wet 25 van 1961) nie, maar volgens die bepalinge van die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006). So ’n verbintenis kan ook net volvoer word deur predikante wat daarvoor aansoek gedoen het by die departement van binnelandse sake.

“Die besluite van die AS praat konsekwent van ’n huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou,” sê Claassen.

Hy sê die nuwe formulier word tans deur die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake ondersoek en dat die uitslae van die ondersoek in November by die AS se moderamen bekend gemaak sal word.

“Daarna sal ’n verwerkte (of bygewerkte) formulier weer bespreek word. Dit moet duidelik wees dat besluite nie vinnig en deur net ’n paar individue geneem word nie.”

Claassen sê die moontlikheid van ’n hergroepering na ’n nuwe sinode word tans ondersoek en dat die uitslae van die ondersoek ook op die vergadering in November voorgelê sal word.

Kommentaar

Kan dit Bybels gefundeer word? | Netwerk24

Deur Dr. Henrietta Klaasing, Randfontein

27 September 2021 05:03

Die Burger die berig “NGK ondersoek nou formulier vir selfdegeslagverbintenisse” (22.09) staan daar dat ’n formulier ’n “vasgestelde vorm (is) wat gelees word op ’n plegtige verrigting”.

In gereformeerde kerke wêreldwyd word formuliere gesien as plegtige eedsverklarings wat voor God en voor ’n gemeente gesluit word. Dit is dus kerklike instellings.

In die Bybel staan dat die huwelik die verbintenis is tussen een man en een vrou vir solank hulle lewe. Dit word in die hele wêreld in gereformeerde kerke so gesien, ook in die NG Kerk.

Kan ’n “formulier” vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse ’n kerklike instelling wees? Hoe gaan dit Bybels gefundeer word?

Na aanleiding van hierdie berig neem ek aan dat die algemene sinode in November die verantwoordelikheid op hom sal neem vir hierdie onbybelse “formulier” wat uitgedink word, vir hierdie geslag NG lidmate en ook vir komende geslagte.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui