Persverklaring: Kairos Netwerk 20 September 2021

*******

PERSVERKLARING – 20 September 2021

Die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk (KN), wat ook as KN se uitvoerende bestuur funksioneer, het op Maandag 20 September 2021 ‘n voldag beplanningsvergadering in Pretoria gehou.

Die feit is dat daar gedurende die laaste dekade twee duidelike strominge in die NG-kerk ontstaan het – liberaal en behoudend – en dat hierdie twee strominge besig is om ‘n groot verdeeldheid te veroorsaak. Dit is duidelik dat onlangse besluite van die NG-kerk lidmate in die steek gelaat het. Dit is die rede waarom al hoe meer NGgemeentes doleer.

Die groot getal beswaarskrifte van baie gemeentes wat aan die Algemene Sinode voorgelê is oor onBybelse besluitneming en ‘n onkerkordelike manipulerende werkswyse, is stil-stil onder die mat ingevee.

Hierdie werkswyse het gemeentes en lidmate in isolasie gelaat en hulle het spontaan by die KN asook die doleerstroom begin inskakel.

Kairos Netwerk het die volgende herbevestig:

  1. Kerkeenheid is vir ons belangrik, maar as belydeniskerk glo ons eenheid kan slegs gevind word in liefde en waarheid.
  2. Daarom bepleit ons nie kerkskeuring nie, maar ware kerkreformasie (terug na die Woord en Belydenisskrifte).
  3. Die AS se on-Bybelse besluite kan nie aan kerkrade oorgelaat word terwyl hul alreeds ‘n taakspan vir implimentering van bv. ‘n nuwe formulier vir selfdegeslagverhoudings opgestel het nie.
  4. Plaaslike gemeentes het geen direkte inspraak in die huidige AS van die NG kerk nie. KN stel in die vooruitsig meerdere kerkvergaderings waar alle gemeentes direk verteenwoordiging sal geniet.
  5. KN het besluit om as hoë prioriteit saam met verskillende gespreksgenote te werk in die ondersoek na suiwer gereformeerde teologiese opleiding vir studente asook voortgesette opleiding vir leraars.
  6. KN gaan voort met die beplanning van landswye byeenkomste en intussen word streke aangemoedig om in lyn met Covid beperkings kleiner streekskonferensies te hou.
  7. Op voetspoor van Bethal en Namibië word DV ‘n streekskonferensie by die Strand Moedergemeente in die Wes-Kaap vir 23 Oktober beplan. Daar word soortgelyke konferensies in die vooruitsig gestel in Oktober in die Vrystaat (Odendaalsrus), Goudland (Vanderbijlpark) en die Oos Kaap.
  8. Verder beywer Kairos Netwerk hom daarvoor om die AS se on-Bybelse besluite so gou moontlik amptelik herroep te kry. Alle behoudende gemeentes word aangemoedig om skriftelik daarop aan te dring.
  9. Die vooruitsig tot die daarstelling van ‘n sinode van behoudende gemeentes.
  10. Behoudende lidmate wat ons kommer deel, is welkom om KN by kairosnetwerk.net te kontak.

In KN se op pad wees vanaf waar ons nou is tot uiteindelik waar ons wil wees, beweeg ons volhardend:

  • biddend in gehoorsaamheid aan die Woord en in afhanklikheid van die Here as die Hoof van sy
  • Koninkryk en Kerk;
  • soekend na die eer van die Here en die heil van sy kerk;
  • gelowig in die Here wat (vir ons as mense) die onmoontlike kan laat gebeur; en met Christelike styl, liefde en waardigheid in ons optredes, woorde, aksies omdat ons in Christus Koninkryksburgers, sout en lig vir die wêreld is.

Ons kry gereeld navraag oor KN se oorsprong, doel en werkswyse en in die lig daarvan wil ons die media, die lidmate en alle belangstellendes verwys na KN se bekendstellingspamflet wat gratis afgelaai kan word by ons webwerf kairosnetwerk.net

Op die webwerf is ook ‘n reeks van vyf kort videos beskikbaar waarin KN se ontstaan, doel, werkswyse en visie vir die pad vorentoe verduidelik word.

Die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui