NG Kerk sê nee vir APK, Doppers se tokkelokke

Kyk ook kommentaar onderaan die artikel.

*******

NG Kerk sê nee vir APK, Doppers se tokkelokke | Netwerk24

Johan Eybers

19 Desember 2021

Tokkelokke wat by ’n teologie-akademie studeer waar onder andere die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) se predikante opgelei word of by die Gereformeerde Kerk se fakulteit in Potchefstroom sal nie in die NG Kerk beroepbaar wees nie.

So sê dr. Frederick Marais, skriba van die NG Kerk se algemene kuratorium (wat oor studente se opleiding toesig hou), oor behoudende gemeentes se raad aan voornemende studente om liewer by meer konserwatiewe teologie-fakulteite te gaan studeer as aan die “liberale” teologiese fakulteite soos dié van universiteite van Stellenbosch, Pretoria en die Vrystaat.

Die Kairos Netwerk (KN), wat ’n groep behoudende lidmate en gemeentes verteenwoordig wat besluit het om te doleer (te rou), voer aan dié twee instellings voldoen “aan al die minimum vereistes vir gereformeerde teologie-opleiding” vir teologiestudente van die NG Kerk.

91 van die sowat 1 110 gemeentes van die NG Kerk het doleer weens sy besluit om ruimte vir selfdegeslagverhoudings in die kerk te skep.

Prof. Hoffie Hofmeyr, emeritus-professor aan die Universiteit van Pretoria, en ds. Piet Otto, ’n voormalige moderator van die Noord-Kaapse sinode, het dié aanbeveling in die KN se jongste nuusbrief gemaak. Hulle is lede van ’n taakspan van die KN wat teologie-opleiding ondersoek het.

Hulle voer aan die teologie-opleiding wat deur die NG Kerk se algemene sinode (AS) by Maties, Kovsies en Tukkies geakkrediteer is, “gee bewustelik voorkeur” aan onder meer swart teologie, Afrika-teologie, bevrydingsteologie en feministiese teologie.

“Dit, saam met verskeie dosente se eiesinnige en vrysinnige teologiese oriëntasie, maak die voortgesette opleiding van NG Kerk-studente aan die universiteite haas onmoontlik,” lui die nuusbrief.

Hofmeyr en Otto sê die taakspan het “ ’n gefokusde ondersoek begin ten einde vas te stel of daar alternatiewe instansies is waar gereformeerde teologie steeds die basis vorm vir teologie-opleiding”.

Hul ondersoek het bevind die Afrikaanse Protestantse Akademie en die Noordwes-Universiteit se teologiese fakulteit “voldoen aan al die minimum vereistes vir ’n gereformeerde teologie-opleiding”.

Die omsendbrief lui: “Albei instansies het dan ook voornemende studente hartlik uitgenooi om voortaan hul studies daar te kom volg.”

Sewe NG lidmate is blykbaar reeds besig om by dié twee instansies te studeer.

Marais sê dit is “uiters verbasend” dat Kairos Netwerk studente na ’n opleidingsinstansie wil stuur waar predikante vir die APK opgelei word.

Die APK het in 1987 ontstaan nadat sowat 30 000 mense van die NG Kerk weggebreek het omdat hulle ontevrede was dat dié kerk gesê het hy is oop vir mense van alle rasse.

“Die APK is anders as ons. Dit sal vir ons ’n teologiese probleem wees as ons studente saam met mense opgelei word wie se teologiese uitgangspunt eksklusiwiteit vir blanke mense is,” sê Marais.

Hy sê op sy beurt laat die Gereformeerde Kerk nie vroue tot die amp toe nie.

“Meer as 50% van ons studente is vroue. Hoekom sal ons hulle daar wil laat oplei?”

Marais sê die NG Kerk wil versoening en geregtigheid tussen mense van verskillende bevolkingsgroepe bewerk.

“Ons sê dit is daarom juis goed dat daar verskillende perspektiewe in predikante se studies is. Dit is goeie blootstelling, want hulle moet tussen mense van verskillende kulture en rassegroepe woon, leef en werk. Dieselfde geld vir gender.”

Kommentaar

Volgens ds Piet Otto, die volgende: Die AP Akademie is ’n onafhanklike teologiese instelling. Met ander woorde, hulle lei nie studente op om artikel 3 te aanvaar nie maar om gereformeerd te wees. Hulle is ook ten volle Afrikaans. Hulle lê nie net sterk klem op sending nie, maar van die dosente is jare lank self by sending betrokke. Ons het ook ooreengekom met beide NWU en APA dat ons, waar ons dit nodig vind, self aanvullende kerkeie opleiding van studente sal verskaf. Ons neem ook verantwoordelikheid vir studente se geestelike begeleiding.

Verder is dit belangrik om te noem dat die AGS (Apostoliese Geloofsending) ook hulle teologiese studente by Potch oplei. Die AGS glo egter aan die grootdoop en die wegraping terwyl die Gereformeerde Kerk dit nie glo nie. Dus is dit nie ’n probleem wanneer daar oor randsake verskille is nie. ’n Kuratorium wat hulle sout werd is sal hierdie verskille baie maklik kan bestuur en sorg dat hulle studente die korrekte kerkeie opleiding ontvang.

Die teologiese opleiding wat egter tans by die NGK se drie kweekskole aangebied word is net doodeenvoudig dwaalleer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui