APK, Artikel 3

Die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) het in 1987 van die NGK geskeur hoofsaaklik oor die besluit wat die NG Kerk geneem het om die kerk oop te stel vir alle rasse (kyk die dokument Kerk en Samelewing (1986)).

Die APK het toe in hulle kerkorde bepaal dat slegs blankes in APK gemeentes toegelaat sal word.

ARTIKEL 3

KERK EN LIDMAATSKAP

3.1 Kerk van Christus is die vrug van die werk van die Drie-enige God onder die Koningskap van Christus.

3.2 Net blanke Afrikaners, asook ander blankes wat hulle met blanke Afrikaners vereenselwig, wat die saligmakende geloof in Christus het (Rom. 10:9-10), wat die belydenis, leer en hierdie Artikel in die Kerkorde van die Afrikaanse Protestantse kerke in kerkverband (kyk Art. 66) onderskryf, kan saam met hulle kinders lidmaatskap van ‘n plaaslike kerk (gemeente) verkry.

3.3 Die Here leer ons in Gén. 11, Deut. 32:8, Hand. 2:8, Hand. 17:26, Openb. 7:9, Openb. 21:24 en 26, Openb. 22:2 dat die inheemse kerk sy wil is. Elke AP kerk wil ‘n openbaring van die liggaam van Christus wees en ook die verinheemsing van die kerk van Christus gender die Afrikaner-Boerevolk naas andere volkere, van watter kultuur hulle ook mag wees.

Wat sê ’n mens hiervan?

Vandag het ’n mens baie waardering vir die APK se behoudende teologie, maar ’n mens is teleurgesteld oor artikel 3.

Sonder om in ’n lang teologiese debat hieroor in te gaan is daar drie dinge hieroor te sê:

1. Verkeerde gesindheid

Artikel 3 openbaar die verkeerde gesindheid. As ’n mens Jesus se gesindheid teenoor die Samaritane neem (Johannes 4) en in ag neem dat Petrus vir Kornelius, wat ’n nie-Jood was, as ’n medegelowige moes sien (Handelinge 10), gaan ’n mens sukkel om te redeneer dat God bedoel het dat gemeentes verdeel moes word volgens ras. Trouens, ek sien dit as ’n kompliment wanneer mense van ander rasse, blanke Afrikaanse gemeentes bywoon gegewe die taal en kultuurtradisie van die gemeente.

2. Wat van ander blanke rasse?

Hoekom swartmense uitsonder? Chinese is tog sekerlik ’n ander ras as blankes. Hoe sou die APK na Afrikaanse Chinese mense kyk wat hulle gemeentes sou wou bywoon?

3. Swartmense geen bedreiging

Swartmense is nie ’n bedreiging vir die taal en kultuur van die Afrikaanse, blanke kerke nie. Ek weet nie van een NG gemeente wat ná 1986 sy taal of kultuur moes aanpas omdat soveel swartmense die gemeente begin bywoon het nie. Mens kan redeneer dat die Afrikaner en sy kultuur wel bedreig word deur regstellende aksie, maar dit word definitief nie bedreig deur rasinklusief te wees nie.

2 thoughts on “APK, Artikel 3”

  1. Ek wil nie oordeel nie, maar net iets deel, of ‘n vraag vra: APK kerk lid wat ‘n aangesiene persoon is, pleeg egbreek met swart vrouens (straat vrouens), maar sit elke Sondag voor in die kerk,.. en AP kerk Ds. weet van dit. Is dit volgens AP Kerk se beginsels? Ek weet hy gaan gestraf word en self vergifnis moet vra. Ons as mens kan net bid vir hom, maar moet die kerk nie optree nie? Die gesin en vrou moet daar mee saam leef.

    1. Andre, hierdie man is op ‘n uiters gevaarlike pad. Presies dieselfde wag vir hom as vir mense wat homoseksualiteit beoefen. (1 Kor 6:9-10) Hoop en bid dat hy sy lewe verander en om vergifnis vra voordat hy die aardse verruil vir die hemelse. Dit is verseker nie volgens APK se beginsels nie. Die predikant is op net so ‘n gevaarlike pad. Hy, en almal wat weet wat hierdie man doen, is veronderstel om die Matteus-18-pad met hom te stap.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui