NG gemeente Modderrivier-Ritchie doleer

Kyk ook:

Die kerkraad van NG gemeente Modderrivier-Ritchie het besluit om te doleer na aanleiding van die algemene sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings in 2019. Hier volg die volgende dokumentasie:

  1. Brief aan die Noordkaapland sinode en die algemene sinode
  2. Leergeskil
  3. Artikel 37

********

Brief aan die Noordkaapland sinode en die algemene sinode

Sel : 082 822 3787
Navrae: DJ Kritzinger
NGK Modderrivier Ritchie
Ritchie
8701
19 Maart 2020

RE: Dolering –  Algemene Sinode Besluite 2019

Sedert 2003 is dit asof daar in die algemene sinode ’n beweging weg van die Bybel as die onfeilbare Woord van God is.  Dit het volgens ons uitgeloop op die besluite van 2015 en 2019 oor homoseksuele persone se plek in die kerk. Ons wil dit duidelik stel dat ons glo die kerk is ’n hospitaal vir sondaars en nie ’n hotel vir heiliges nie. Daarom is ALLE mense welkom om deel te wees van die NG Kerk Modderrivier Ritchie.

Die besluit dat selfdegeslag paartjies in die huwelik bevestig kan word, met die algemene sinode wat opdrag gee dat ’n formulier daarvoor geskryf moet word, en selfs as leraars kan werk selfs as is hulle in ’n aktiewe homoseksuele verhouding, kan ons op geen manier Bybels verantwoord nie. Ons gaan nie al die argumente herhaal wat al soveel keer hanteer is nie. Vir ons is die Skrif en die Belydenisskrifte  in bogenoemde besluite verruil vir standpunte van mense wat hulle eie wêreld gemaklik wil maak deur die Skrif aan te pas na hulle emosies en smaak.

Daarom gee ons, Nederduits Gereformeerde Kerk Modderrivier Ritchie, hiermee kennis dat ons doleer (huil) oor die pad wat die algemene sinode ingeslaan het.

Ons huil omdat die Skrif nie meer die finale gesag het nie en daarom kan die bestaan van die bose, die maagdelike geboorte en die opstanding van Jesus betwyfel word.

Ons huil omdat die algemene sinode toelaat dat emosiebelaaide argumente die Skrif laat buikspreek om te sê ’n bepaalde sonde is nou nie meer ’n sonde nie.

Ons huil oor die verminking van die Godgegewe beginsel dat ’n huwelik slegs bestaan tussen ’n man en ’n vrou.

Ons huil omdat die algemene sinode so ver gaan om Christene wat van hulle verskil, rebelle te noem in die media en daardeur agterdog te wek teen kollegas en mede gelowiges.

Hierdie skrywe dien dan ook as ons kennisgewing dat ons beplan om ’n leergeskil met algemene sinode te verklaar.

(DJ KRITZINGER)

VOORSITTER KERKRAAD

Leergeskil

Sel : 082 822 3787
Navrae: DJ Kritzinger
NGK Modderrivier Ritchie
Ritchie
8701
19 Maart 2020

RE: Leergeskil met Algemene Sinode

Sedert 2003 is dit asof daar in die algemene sinode ’n beweging weg van die Bybel as die onfeilbare Woord van God is.  Dit het volgens ons uitgeloop op ontkenning van die bestaan van die bose, twyfel oor die maagdelike geboorte  en opstanding van Jesus en die 2015 en 2019 besluite oor homoseksuele persone se plek in die kerk.

Ons gaan nie al die argumente herhaal wat al soveel keer hanteer is nie. Vir ons is die Skrif en die Belydenisskrifte  in bogenoemde besluite verruil vir standpunte van mense wat hulle eie wêreld gemaklik wil maak deur die Skrif aan te pas na hulle emosies en smaak.

Daarom verklaar ons, Nederduits Gereformeerde Kerk Modderrivier Ritchie, hiermee ’n leergeskil met die algemene sinode tov die volgende sake:

  • Ons glo dat die bose as ’n werklike, werkende mag bestaan.
  • Ons glo dat Christus uit ’n maagd gebore is en uit die dood opgestaan het.
  • Ons glo dat God slegs twee geslagte geskep het en dat dit manlik en vroulik is en dat ’n huwelik slegs bestaan tussen ’n man en ’n vrou.
  • Ons glo dat sonde(s) geensins verander het nie en dat sekere sondes nie volgens menslike oortuiging maar net “ontsondig” kan word nie.
  • Ons is ten volle oortuig daarvan dat die Bybel God se Woord is en nie mense se woorde oor God nie.

Hierdie is die sake waarmee ons ernstig verskil van besluite van die algemene sinode.

(DJ KRITZINGER)

VOORSITTER KERKRAAD

Artikel 37

Sel : 082 822 3787
Navrae: DJ Kritzinger
NGK Modderrivier Ritchie
Ritchie
8701
19 Maart 2020

RE: Artikel 37

Nederduits Gereformeerde Kerk Modderrivier Ritchie bely die volgende:

  • Ons glo dat die bose as ’n werklike, werkende mag bestaan.
  • Ons glo dat Christus uit ’n maagd gebore is en uit die dood opgestaan het.
  • Ons glo dat God slegs twee geslagte geskep het en dat dit manlik en vroulik is en dat ’n huwelik slegs bestaan tussen ’n man en ’n vrou.
  • Ons glo dat sonde(s) geensins verander het nie en dat sekere sondes nie volgens menslike oortuiging maar net “ontsondig” kan word nie.
  • Ons is ten volle oortuig daarvan dat die Bybel God se Woord is en nie mense se woorde oor God nie.

Sedert 2003 is dit asof daar in die algemene sinode ’n beweging weg van die Bybel as die onfeilbare Woord van God is en dat dit uitgeloop het op ’n ontkenning en verdraaiing  van bogenoemde sake. Daar is ook geen platform waarmee gemeentes wat anders dink hul stem hoorbaar kan maak nie. Omdat ons ’n vasgelooptheid beleef, het ons na ’n oplossing gesoek en die volgende versoek is die resultaat:

Hiermee versoek ons, Nederduits Gereformeerde Kerk Modderrivier Ritchie, dat die NGK Noordkaapland Sinode die band met die algemene sinode losmaak soos in Artikel 37 van die Kerkorde voorsien.

(DJ KRITZINGER)

VOORSITTER KERKRAAD

1 thought on “NG gemeente Modderrivier-Ritchie doleer”

  1. Hi Danie. Baie dankie dat julle in hierdie rigting beweeg, terug na NET die waarheid van Die Bybel en NIE mens aangepaste ” my reg” om te doen soos dit die mense pas. 0ns mag nie oordeel, maar ons kan ook nie Die Skrif aanpas vir eie gebruik en gemaklikheid nie. Staan 100% agter hierdie beweging / besluit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui