NG gemeente Heilbron-Suid doleer

Kyk ook:

Die volgende is van Facebook geneem.

***********

HEILBRON-SUID TREUR

Wie dit mag aangaan

Insake: Dolering van die Ned. Geref. Gemeente Heilbron-Suid

Volgens ’n eenparige kerkraadsbesluit (gehou 2020-03-16), word hiermee kennis gegee dat NG Heilbron-Suid in ’n tydelike staat van dolering tree. Dit behels prakties dat alle sinodale aanslae teruggehou sal word, totdat daar bekering in die Algemene Sinode en/of die Vrystaat Sinode sigbaar word en ’n terugkeer na die Woord plaasvind.

Ons neem hierdie stap met groot hartseer oor die toestand van die kerkverband, maar in vertroue, gehoorsaamheid en nederige afhanklikheid van die Here, omdat ons glo dat dit sy wil is, deur die leiding van die Heilige Gees, en volgens wat ons interpretasie is van die Bybel as ewige, enigste, ware, betroubare en lewende Woord van God.

As verdere begronding skaar die kerkraad ons in hierdie verband in die geheel by die volgende besluit van die Ring van Heilbron (Notule uittreksel Spesiale Ringsvergadering 2019-11-14):

Die Ring van Heilbron betreur die feit, dat die Algemene Sinode 2019 die Gravamen van die Ring van Heilbron, wat oor hierdie aangeleentheid ingedien is, doodgewoon geïgnoreer het.

Die Ring van Heilbron betreur die besluit van die Algemene Sinode 2019 oor selfdegeslagverhoudinge/verbintenisse en verwerp dit in sy geheel en wel op die volgende gronde:

1. Besluite van Sinode

1.1 Die besluit oor selfdegeslagverhoudinge

1.1.1 Die Ring verwerp die gedagte dat ’n ‘vasgelooptheid’ bereik is ten opsigte van ons Skrifhantering en Skrifuitleg, wat dit aan willekeur oorlaat dat elke gemeente en lidmaat nou self kan besluit watter sonde nie meer as sonde gereken word nie, spesifiek seksuele oriëntasie in die geval. Die feit dat respek vir mekaar se uiteenlopende Skrifbenaderings swaarder weeg as die waarheid van God se Woord. Die feit dat die konteks van die gemeente die maatstaf vir die waarheid en nie God se Woord as die enigste onfeilbare waarheid gehandhaaf word nie.

1.1.2 Die Ring verwerp die gedagte dat die eenheid met Christus nie verbrokkel wanneer ons met mekaar verskil oor Skrifhantering en Skrifuitleg nie. Die Skrif is juis die Woord van Christus aan sy kerk wat absolute gehoorsaamheid van ons vra.

1.1.3 Die Ring verwerp die besluit dat mense in die ampte kan dien ongeag hulle seksuele oriëntasie, terwyl die Woord duidelike vereistes vir al die ampte stel. Dit gaan hier oor die LGBTIQ+ leefstyle in sy wydste sin wat in die Skrif as sedeloosheid aangedui en ten sterkste afgewys word.

1.1.4 Die Ring verwerp die gedagte dat daar ruimte geskep moet word vir almal om in hierdie opsig volgens sy eie oortuiging te kan optree. Daardeur word ’n diversiteit omhels ten koste van die waarheid van die Woord.

1.1.5 Die Ring verwerp die besluit om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van sogenaamde burgerlike verbintenisse wat aan homoseksuele verhoudinge kerklike sanksie wil gee.

1.1.6 Die Ring verwerp die besluit om verskoning aan te bied aan gay lidmate en hulle families vir die pyn wat hulle in die kerk sou beleef het, asook die waardering wat in die besluit uitgespreek word vir die gay-lidmate wat volgehou het met hulle waagmoedige optredes in die kerk.

1.1.7 Die Ring verwerp die besluit om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit. Die Ring het geen vertroue meer in sommige teoloë wat die kerk voortdurend met onbybelse studiestukke wil konfronteer nie.

2. Die Pad vorentoe

2.1 Die Gemeentes in die Ring van Heilbron distansieer hulle in die geheel van die besluit van die Algemene Sinode 2019 rakende selfdegeslagverhoudinge.

2.2 Die Ring van Heilbron versoek die Vrystaat Sinode om dringend ’n spesiale Sinodesitting byeen te roep, rakende die besluite van die Algemene Sinode 2019.

2.3 Indien die Sinode nie die versoek toestaan nie, sal die Ring van Heilbron gemeentes aanmoedig om aksies te neem soos wat reeds deur sommige gemeentes gedoen is.

2.4 Die Ring van Heilbron het eenparig besluit om die beraad te Moreletapark by te woon.
Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense die boodskap van genade, vergifnis, belydenis, bekering, liefde en heling aanbied. In dieselfde asem staan ons by die woorde van die kerkhervormer Martin Luther: ‘I am not permitted to let my love be so merciful as to tolerate and endure false doctrine.’

Ds. F.C. Victor
Kerkraadsvoorsitter

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui