Moderator sê jammer aan ‘broer’ wat sê hy’s verraai

Ek het reeds in Opsomming van klag van haatspraak teen Chris van Wyk die volle agtergrond gegee en berig oor die feit dat Chris van Wyk se saak uit die hof gegooi is. In die artikel hier word ook hieroor berig. Kyk my kommentaar tussenin die teks.

***********

Moderator sê jammer aan ‘broer’ wat sê hy’s verraai | Kerkbode

15 Oktober 2020

’n Baaise dominee en Bybelskoolblogger eis ’n sondebelydenis by leiers van die kerk waarin hy al 30 jaar werk weens wat hy by monde van ’n regsverteenwoordiger as “lafhartige verraad” beskryf.

’n Klag van haatspraak is verlede jaar deur die drukgroep Queers without Borders (QWB) teen dr Chris van Wyk by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien en deur dié na die gelykheidshof geneem, maar intussen teruggetrek, luidens ’n verklaring deur Van Wyk se regspan. Die leraar by Somerstrand in Port Elizabeth voel kerkleiers het nie ’n “broer in Christus wat in desperate nood om hulp verkeer” bygestaan nie.

Van Wyk het voorheen as lid van die moderatuur van die Algemene Sinode gedien en bedryf ’n teologiese webwerf genaamd Bybelskool. Hy het aan Kerkbode gesê hy volstaan by die inhoud van die verklaring wat meer as 1 000 woorde lank is en op 14 Oktober namens hom aan die redakteurs van verskeie koerante, asook ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, gestuur is.

“(The) most disturbing feature of this saga, is the complete failure of Rev Nelis Janse van Rensburg, much of the leadership of the NG church, many leading NG academics and Kerkbode to come to the assistance of a brother in Christ and a long standing colleague, who has given his all to that denomination for the past 30 years. (It is reminiscent of the apartheid days when the leadership of the NG church, once again for politically expedient reasons, failed a person such as Dr Beyers Naude …” luidens die verklaring.

Janse van Rensburg se reaksie was dat hy destyds saamgestem het dat die klag teen Van Wyk nie water hou nie, maar dat hy vertrou het dat ’n billike regsproses dit sou ontbloot. “Uiteindelik ís die saak nietig verklaar,” het Janse van Rensburg op 15 Oktober in ’n verklaring aan Kerkbode geskryf. Janse van Rensburg was versoenend. “Chris is my broer in Christus en ek moet verantwoordelikheid aanvaar vir die beskerming van sy karakter. Ek teken daarom hiermee verskoning aan dat ek nie meer gedoen het om Chris se karakter te beskerm nie. Ek is nietemin dankbaar dat die MRK nie voortgegaan het met die ondersoek en ‘verhoor’ van die klagtes teen Chris nie. Ek vertrou dat ons ruimte en genade sal vind om steeds as kollegas en dienaars van Christus saam te dink, te dien en te werk in God se koninkryk.”

[Kommentaar: Dit is nou te laat vir Nelis om te wil sê dat hy eintlik al die tyd aan Chris se kant was. Kort na Chris se skrywe is twee petisies (kyk hier en hier) geïnisieer deur die progays binne die NG Kerk geledere (André Bartlett en André Agenbag) wat op hom gemik was. Volgens my kennis het Nelis dit net sit en toekyk. Alhoewel hy nie self die petisies geteken het nie, lyk dit nie of hy enigsins iets gedoen het om dit te verhoed nie. Hy het ook nie een keer vir Chris (in die openbaar) ondersteun nie. ’n Mens wonder of hy hom selfs persoonlik gekontak het om sy ondersteuning te gee.]

Die geskil spruit voort uit ’n Kerkbode-rubriek deur Janse van Rensburg oor die NG Kerk se “gesprek oor seksualiteit”. Die opiniestuk is op 17 September 2018 op www.kerkbode.co.za gepubliseer.

Van Wyk is beskuldig van haatspraak op grond van sy reaksie op die moderator se standpunt en spesifiek die paragraaf waar Janse van Rensburg skryf: “Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense. Ek is ook oortuig dat sonde gemeet moet word aan hoe ons leef, en nie aan ons seksuele oriëntasie nie. Sonde is onder meer wanneer ’n daad of ’n aksie iemand anders benadeel, skade aandoen, seermaak, uitbuit, misbruik en dus menswaardigheid aantas.”

Van Wyk sê daar is sielkundiges wat sê dat pedofilie ’n oriëntasie is. Aan ’n Netwerk24-verslaggewer het Van Wyk verlede jaar sy standpunt probeer toelig: “Ek het nie ’n vergelyking tussen selfdegeslagverhoudings en pedofilie getref nie. Ek het gesê indien alle seksuele oriëntasies ’n geskenk van God is, soos ds Nelis Janse van Rensburg volhou, hy alle seksuele oriëntasies, soos pedofilie, moes insluit om konsekwent in sy argument te wees.”

QWB het by navraag oor die jongste wending in die saak gesê “om pedofilie in dieselfde asem met selfdegeslagverhoudings te noem, is inderdaad problematies en herinner aan stereotipes wat eeue lank homofobie aangeblaas het.”

Kerkbode se pogings om vandeesweek kommentaar by die MRK te kry, was teen saktyd onsuksesvol. Ook QWB het teen laat Woensdag (14 Oktober) nog nie direk by die Grondwetwaghond gehoor waarom die klag nie verder geneem sal word nie. “Ons wag nog op volledige kommunikasie vanaf die MRK. (Ons) gee erkenning aan die emosie in dr van Wyk se verklaring en besef dat hy ’n uitdagende tyd deurgemaak het. Ons verwag daarom ook dat hy erkenning sal gee aan die pyn wat sy destydse woorde oor ’n breë front in kerklike geledere en in die samelewing tot gevolg gehad het. Ons vertrou dit het hom tot nadenke die afgelope tyd gestem.”

Van Wyk was veral krities teenoor kerkleiers in die verklaring wat Robin O’Brien en Keith Matthee SC namens Van Wyk uitgereik het. Kerkbode loop eweneens deur vir dié se rol in die saak. Kerkbode het in 2018, in die kielsog van Van Wyk se opmerkings, berig dat die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika se Afdeling vir Seksualiteit en Gender in ’n omvattende verklaring onder meer gesê het: “Psychology does not see pedophilic disorder as a sexual orientation. Neither is pedophilic disorder seen as something good, but, rather, as inherently negative.”

[Kommentaar: Ek sal nie verbaas wees as die sielkundige vereniging intussen hulle siening hieroor verander het nie. Pedofilie wen jaarliks meer en meer veld. Kyk Pedofilie, Homoseksualiteit en pedofilie en Ope Brief aan die NG Kerk (Andre Bekker, 26 Maart 2020).

Verder, in Kerk by MRK verkla oor houding teenoor pedofiele word die volgende gesê:

“Prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het gesê pedofilie is ’n psigiese versteuring, “maar dit is nie verkeerd om daarna te verwys as ’n seksuele oriëntasie nie.”]

Die MRK word op hulle beurt deur Van Wyk daarvan beskuldig dat hulle gebruik is om die agenda van QWB te bevorder. Die MRK se optrede word as “deeply disturbing” beskryf. “Central to such an institution (soos die MRK) is total independence from all agendas and a diligent resolve to protect the dignity and freedoms of all South Africans. In this regard, South Africans need to take heed of the following words of Martin Niemöller – a paraphrase is:

“First they arrested the Communists – but I was not a Communist, so I did nothing. Then they came for the Social Democrats – but I was not a Social Democrat, so I did nothing. Then they arrested the trade unionists – and I did nothing because I was not one. And then they came for the Jews and then the Catholics, but I was neither a Jew nor a Catholic and I did nothing. At last they came and arrested me – and there was no one left to do anything about it.”

Janse van Rensburg het wel aspekte van Van Wyk se wydlopende verklaring ontken, naamlik dat kerkleiers en QWB kop in een mus is. “Die NG Kerk se leierskap deel beslis nie ’n narratief met die genoemde entiteit (Queers without Borders) nie. Hierdie opmerking openbaar weinig insig in die besluite en prosesse van die NG Kerk. Die enigste amptelike standpunt van die NG Kerk is dié van die Algemene Sinode 2019 naamlik dat daar ruimte gemaak word vir die, in hoofsaak, twee standpunte in die kerk. Binne die leierskap van die kerk is daar mense wat heelhartig met Chris se standpunt saamstem en ander wat die ander standpunt huldig. Dit maak gewoon net nie sin om te beweer dat die leierskap van die NG Kerk sodanige narratief sou ondersteun of ’n aksie teen Chris sou onderneem nie.” Ook die vergelyking met die teoloog Beyers Naudé word herbesoek. “Van Wyk en dr Beyers Naudé se posisies is op geen manier vergelykbaar nie. Daar is immers baie persone in die kerk wat Chris se standpunte deel, maar hulleself tuis vind binne die 2019-besluit van die Algemene Sinode,” aldus Janse van Rensburg.

2 thoughts on “Moderator sê jammer aan ‘broer’ wat sê hy’s verraai”

  1. Om net te sê “ek is jammer”, is nie voldoende nie.

    Die berig “Moderator sê jammer aan “broer” wat sê hy’s verraai” van 5 deser het betrekking. In die openingsparagraaf staan geskryf dat ’n “Baaise dominee en Bybelskoolblogger ’n SONDEBELYDENIS eis by leiers van die kerk”. My siening is dat ’n sondeblydenis die regte ding is om te doen, sodat die doel (versoening) bereik kan word.

    Volgens Jay Adams (in sy boek “From Forgiven to Forgiving”) is dit nie genoeg vir gelowiges om onder sulke omstandighede bloot te sê “ek is jammer” of “ek vra om verskoning” nie. Hy verduidelik dan dat ’n verskoning ’n onvoldoende humanistiese plaasvervanger is vir die Bybelse weg. Om om verskoning vir sonde te vra, kry ons nêrens in die Skrif nie. Die rede waarom verskoning vra onvoldoende is wanneer werklike sonde plaasgevind het, is omdat dit nie ’n behoorlike Bybelse reaksie uitlok nie.

    Ware Bybelse versoening sal wees wanneer die veronregte persoon daarna sê: “Ja, ek vergewe jou.” As die broer sê: “Ek vergewe jou”, beloof hy om nooit die saak aan te spreek nie. Verskonings is goed as daar geen sonde by ’n aksie betrokke is nie (byvoorbeeld as ’n mens iemand per ongeluk omstamp), maar dit moet nooit as ’n plaasvervanger vir Bybelse versoening gebruik word nie.

    Dit is interessant dat die regsverteenwoordigers meer as een keer verwys na ’n aanhaling uit ’n gedig van die teoloog Martin Niemöller (“First they came”). Niemöller was ’n aantal jare in die tronk weens sy teenstand teen Hitler. Een van die temas van die gedig is passiwiteit of die nalaat van optrede wanneer onreg plaasvind. ’n Ander een gaan oor stilswye, soos om stilswyend goedkeuring te gee aan bepaalde gebeure. Die regsverteenwoordigers spel nie duidelik uit na watter tema hulle verwys nie, maar afleidings kan gemaak word.

    En dan wonder ek: waarom is die “broer” in die opskrif in aanhalingstekens?

  2. “Ek teken daarom hiermee verskoning aan dat ek nie meer gedoen het om Chris se karakter te beskerm nie.”
    Too little – too late.
    “Die NG Kerk se leierskap deel beslis nie ’n narratief met die genoemde entiteit (Queers without Borders) nie.”
    Presies op watter punte verskil julle? Dit is relevant en belangrik om dit duidelik te stel. If it walks like a duck, swims like a duck and quacks like a duck, I consider it to be a duck.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui