Kerk by MRK verkla oor houding teenoor pedofiele

Hieronder word berig dat André Bekker (voorheen ’n pedofiel) die NG Kerk by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) verkla omdat hy meen dié kerk diskrimineer teen pedofiele. Vir die volledige aanklag, kyk André Bekker kla NG Kerk aan oor diskriminasie teen pedofiele (30 Sep 2020).

Hierdie klag is ’n resultaat van die klag van haatspraak teen Chris van Wyk omdat hy homoseksualiteit met pedofilie vergelyk het. Kyk Opsomming van klag van haatspraak teen Chris van Wyk.

Hierdie is ’n uiters ironiese verwikkeling:

  • Waar die progays eers die aanklaers was, is hulle nou in die beskuldigdebank en sal hulle baie versigtig moet wees om nie pedofiele, wat tans baie veld wen in die wêreld, te affronteer nie. Die bordjies is verhang
  • In die berig word verkeerdelik na “Adv. Laurie Gaum” verwys in plaas van sy broer, André Gaum. Die ironie hierin is dat dit amper simbolies is van die invloed wat André Gaum waarskynlik by die MRK het.

***********

Kerk by MRK verkla oor houding teenoor pedofiele

Deur Arisa Janse van Rensburg

16 Oktober 2020 13:37

’n Selferkende pedofiel het die NG Kerk verkla by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) omdat hy meen dié kerk diskrimineer teen mense met dieselfde seksuele oriëntasie as hy.

[Kommentaar: Hierdie sin skep die indruk dat André Bekker steeds ’n pedofiel is en dat dít sy huidige seksuele oriëntasie is. Dit is egter ver verwyder van die waarheid.]

André Bekker, wat sê die Here het hom van sy pedofilie en homoseksuele drange verlos, het die klag, wat uit 21 bladsye bestaan, einde September reeds by die MRK ingedien.

Hy het Donderdag aan Netwerk24 gesê sy klag is drieledig: “Die NG Kerk maak inbreuk op die menswaardigheid van ’n pedofiel, hulle diskrimineer op grond van seksuele oriëntasie en ek het ook die MRK gevra om ’n klag van haatspraak te ondersoek.”

Bekker, voorsitter van die groep Voice of the Voiceless Advocacy (VOTVA), ’n organisasie wat hom beywer vir die regte van gemarginaliseerde seksuele oriëntasies wat nie by die LGBT-beweging betrek word nie, skryf in die klag dat dit nie beskou moet word as ’n ondersteuning van misdade nie.

“VOTVA verklaar onomwonde dat die klag nie misdadige optrede wil regverdig of bevorder nie. Dit skaar hom ook nie by enige groep wat hom beywer vir die verlaging van die ouderdom van toestemming (tot seksuele dade) nie. Die enigste doel is om gelyke menslikheid en geregtigheid vir almal te verseker.”

In die klag verwys hy hoofsaaklik na ’n voorval in 2019 waarin dr. Chris van Wyk, voormalige moderator van die Oos-Kaapse sinode, van haatspraak by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aangekla is omdat hy glo homoseksualiteit met pedofilie vergelyk het.

Van Wyk het dit ontken, maar Bekker sê daar is wel ’n verband. “Die een is ’n seksuele geslagoriëntasie en die ander ’n seksuele ouderdomsoriëntasie.”

Hy het gesê die dominee wat Van Wyk verkla het, is “oningelig” en kritiseer ook die NG Kerk omdat hy nie die beginsels van sy eie dokument, ’n Seisoen van menswaardigheid, nakom nie. Die dokument bevorder liefde, respek en aanvaarding oor die hele spektrum.

Die klag verwys ook na die bestuur en lede van die NG Kerk as “pedo-fobies”.

Bekker het aan Netwerk24 gesê hy glo pedofilie is sonde en daarom moet ’n mens “deur die Heilige gees tot bekering kom”.

“Dit is sonde. Die mens is gemaak na God se beeld en Sy gelykenis, maar dit is die reg van elke mens om sy menswaardigheid erken te kry.”

Bekker het verder verduidelik dat daar twee sienings in die wêreld bestaan, naamlik die liggaamlike en die psigiese.

“Die psigiese gedeelte gaan oor hoe jy voel. Die liggaamlike gedeelte gaan oor hoe jou liggaam deur God geskape is. Ek glo in die liggaamlike gedeelte: Jou geslag bepaal jou seksuele oriëntasie en nie jou gender of wat jy dink nie. As ’n mens aandag gee aan dit wat jy dink en daarvolgens handel, word dit sonde.

“Jy kan die versoeking beleef, maar jy moet vir jouself sê jy het saam met Christus opgestaan en gaan nie teen Sy wil nie. Gevoel is nie sonde nie. As ek my egter oorgee aan die dade, gaan ek teen God se wet,” het Bekker gesê.

Adv. Laurie Gaum van die MRK het bevestig dat die klag ontvang is. “Ons is besig om dit te verwerk en te kyk of dit ’n ondersoek regverdig.”

[Kommentaar: Netwerk24 het hier ’n fout gemaak. Dit moenie “Laurie Gaum” wees nie, maar sy broer, “André Gaum“. Hierdie is egter uiters ironies, want hulle dryf dieselfde gay agenda. Verder, ek weet dat Gaum se opmerking ’n baie algemene, standaard opmerking is, maar Gaum sal met baie goeie redes moet kom as hierdie aanklag uitgegooi word terwyl die aanklag teen Chris van Wyk tot by die gelykheidshof gevorder het voor dit uitgegooi is.]

Dr. Gustav Claassen, hoofsekretaris van die NG Kerk, het Vrydag gesê die Kerk sal nie in dié stadium kommentaar lewer nie.

Prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het gesê pedofilie is ’n psigiese versteuring, “maar dit is nie verkeerd om daarna te verwys as ’n seksuele oriëntasie nie. Dit is ook nie ’n misdaad opsig self nie totdat iemand wat aan die versteuring ly, wel ’n misdaad pleeg.”

Louw het gesê dit word wyd aanvaar dat die prognose (kanse op herstel) van pedofilie swak is. “Die meeste terapieë is daarom eerder daarop ingestel om die persoon te leer om nie sy behoeftes op ’n sosiaal onaanvaarbare wyse uit te leef nie. Die probleem met die bepaling van ’n prognose is natuurlik dat die persoon kan voortgaan met sy oortredings, maar dit op so ’n slu manier doen dat dit uiters moeilik en selfs onmoontlik is om die werklike prognose te bepaal.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui