NG Doornkloof se wysigingsvoorstelle op AS-besluite

NG Doornkloof se kerkraad het op Woensdagaand 16 November 2011 onderstaande besluit geneem, wat die Sondag daarop op die aankondigings aan alle lidmate beskikbaar gestel is, en wat aan die Algemene Sinode en die Oostelike Sinode gestuur gaan word.  Dit is my en talle NG-lidmate se wens dat hierdie voorgestelde wysigings so gou moontlik op alle vlakke van die NG Kerk aanvaar word, tot eer van God en Sy Bruid, waarvan die NG Kerk deel is.

———————————————

Die Kerkraad van NG Doornkloof het op sy vergadering van 16 November 2011, sommige van die besluite van die pas afgelope Algemene Sinode ter tafel geneem, te wete dié oor “Saamwoon” en “Bevryding en demone”. Die beredenering en besluite, wat geneem is, word hieronder weergegee:

Saamwoon:

Die 2011-verklaring rondom die huwelik en saamwoon bevat die volgende stellings:

4. Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.

6. Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.

Op die oog af, is punt 4 en punt 6 teenstrydig betreffende seks buite die huwelik, en al verstaan ons dat meeste afgevaardigdes by die Algemene Sinode die geheel van die verklaring sodanig verstaan het dat geen seks buite die huwelik goedgekeur is nie, het latere besprekings in die media (ook op facebook-kerkbode) duidelik laat blyk dat baie mense dit tog vertolk dat hierdie verklaring voorhuwelikse seks toelaat. Ons, stel die volgende wysiging op punt 4 voor, wat niks verander aan die bedoeling van die besluit nie, maar verwarring en moontlike dubbelsinnigheid uitskakel:

4’. Die Algemene Sinode is egter bewus daarvan dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Alhoewel hierdie verhoudings in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit bevat, moet dit afgewys word omrede die seksuele. Kyk ook punt 6.

So gestel, sou dit sonder twyfel in lyn wees met wat in punt 6 staan.

Bevryding en demone:

Die 2011-verklaring rondom die bediening van bevryding en demone bevat die volgende stelling:

7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

Gemeet aan onder andere die volgende gedeeltes in die Bybel:

• Gen. 3, Job, Mat. 4, Luk. 4, Joh. 8:38-59 en Judas 1,

• asook die volgende gedeeltes in die Belydenisskrifte (3 Formuliere van Eenheid):

o Die Heidelbergse Kategismus: Vraag en antwoord: 1, 9, 32, 34, 112, 123, 127, en

o die Nederlandse Geloofsbelydenis: Artikels 12, 13, 14 en 37 (Byvoorbeeld, in die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 12, staan: “Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is”),

stel ons die volgende wysiging op punt 7 voor:

7’. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is beslis ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is tog ook ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer, maar eersgenoemde is die NG Kerk se standpunt gegewe die inligting in die Bybel en die belydenisskrifte.

Hierdie voorstel bevat ’n belangrike klemverandering, maar ons glo dit is baie meer in lyn met die inligting oor die aangeleentheid in die Bybel en die belydenisskrifte as die betrokke punt in die huidige Algemene Sinode-verklaring.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui