Kyk na die telbord en neem ʼn besluit

*******

Kyk na die telbord en neem ʼn besluit

Gerhard Mahne

14 Oktober 2023

Die Rugbyafrigter, Eddie Jones, se resultate was vroeër baie goed, wat mens aan die NG Kerk se goeie resultate van die verlede laat dink. Jones was die Springbokke se hulpafrigter (tegniese adviseer) toe ons die wêreldbeker in 2007 gewen het. Deesdae gaan sy Wallabies vinnig agteruit soos wat die NG Kerk onder die “afrigting” van sy Algemene Sinode (AS) die afgelope jare in die hek duik.

In sy artikel Afrikaanse kerke loop leeg skryf Jean Oosthuizen soos volg: “Sedert 1985 het die NG Kerk meer as ʼn halfmiljoen van sy lidmate verloor wat genoeg is om 900 gemeentes van 500 lidmate elk vol te maak”.

Afgebreek in korter periodes beteken Oosthuizen se getalle, in sy eie woorde:

1985-2019: 500,000 + (met Jesus se ware opstanding in gedrang)
2003-2019: 309,000 (die 16 jaar van gay debat)
2018 alleen: 21,000

Oosthuizen berig verder dat ʼn meningsopname oor hierdie statistiek die volgende opgelewer het:

  • Slegs 4% het die NG kerk verlaat a.g.v. emigrasie.
  • Die kerk word as nie meer relevant gesien nie.
  • Die gay debat en botsende geloofskwessies staan lidmate nie meer aan nie.

(Afrikaanse kerke loop leeg: Jean Oosthuizen, nuuskanaal: voertaal@voertaal.nu 2019-01-31).
En hierdie daling hou net nie op nie! Dit blyk dat hoe ruimer die huis word, hoe kleiner word dit. Die nuutste Kerkspieël, uit ʼn vierjaarlikse groot sensusopname van die NG Kerk, toon ten opsigte van die periode 2018 tot 2022 die volgende:

  • 47 gemeentes het in die afgelope vier jaar weer toegemaak en
  • 452 predikantsposte is weereens getermineer (gestop), waarvan net 5.2% dié van afgetrede leraars is (ASM-agenda, Kerkspieël 2018-2022 – 2022:51-52).

Hierby is daar ook ʼn steeds groeiende aantal gemeentes van ʼn 100+, waaronder 56 hulleself die afgelope jaar amptelik in ʼn kategoriale Koinonia Sinode georganiseer het. Hulle wil nie die kerk verlaat nie, maar doen dit uit protes teen die Bybelvreemde besluite van die AS oor die afgelope jare.

Kyk na die telbord. Hoeveel “wedstryde” moet die NG Kerk onder sy huidige “afrigting” nog verloor? Hoeveel lidmateondersteuning wil die AS nog prysgee? Hoeveel lidmate moet nog loop? Vanaf 15 tot 20 Oktober “speel” die AS weer in Boksburg. Kom ons bid vir hierdie belangrike “wedstryd”: “HERE, God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word” (Ps. 80:20).

Gerhard Mahne

Kaapstad

082 478 3590

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui