Gay mense verwoes? Nee, dis net wat Evangelie sê

Kyk Konteks gee Bybel juis méér gesag (4 Sep 2022) waarin Frits Gaum op hierdie artikel kommentaar lewer.

*******

Gay mense verwoes? Nee, dis net wat Evangelie sê | Netwerk24

Dries du Plooy

Sondag, 28 Augustus 2022, Rapport

Hoe kan die Bybel gesensureer word, vra Dries du Plooy na aanleiding van die nuutste woelinge in die NG Kerk.

Ek reageer graag op die skrywe van dr. Frits Gaum en die oudjoernalis Neels Jackson op hierdie blaaie verlede week.

Dis opvallend dat juis bogenoemde here dikwels na die pen gryp as een of ander kerklike, etiese of godsdienstig omstrede onderwerp na vore kom.

Jackson kan dit nie duld dat iemand mag dink dat homoseksualiteit ’n probleem is nie. En as dit die geval sou wees is so ’n persoon daaraan skuldig dat hy meehelp dat mense se lewe verwoes word. Gaum meen aangesien die NG Kerk nou ná drie dekades se studie geen duidelikheid kon verkry oor die saak van homoseksualiteit en verwante sake om die sewende gebod nie, ruimte vir verskillende oortuigings gegee moet word.

Aangesien hulle albei oortuig is dat die NG Kerk se hantering van hierdie sake in orde is, verdedig hulle sekerlik met goeie bedoelings sowel die besluit daaroor as die belangrikheid van die eenheid van die kerk. Maar hul gedagtes en oortuigings word nou deur hul skrywes na die algemene publiek uitgestuur en dit verg reaksie.

Die konsekwensie van Jackson se standpunt dat niemand mag dink dat homoseksualiteit (nog) ’n probleem is nie, beteken niks anders nie as dat die Bybel, wat op ’n aantal plekke daaroor handel en daarna verwys, gesensureer moet word. Ek en vele ander is terdeë daarvan bewus dat die Bybeltekste (benewens in die Ou Testament ook bv. in die Nuwe Testament in Romeine 1, 1 Korinthiërs 6, Galasiërs 5, 1 Timoteus 1) wat oor die saak handel skerp afwysend is teenoor homoseksualiteit: “mense wat homoseksualiteit beoefen, sal geen deel kry aan die koninkryk van God nie” (1 Kor 6:9-10).

Gaum skryf oor die saak of dit ’n netelige kwessie is en oor dieselfde boeg gegooi is as ander verskilpunte soos kleredrag, nagmaalsgebruik en vroue in besondere ampte.

Dit is ongelukkig veel ernstiger as dit. Oor sake soos nagmaal, kleredrag en ampte gee die Skrif duidelikheid – net soos oor die leer oor die twee nature van Christus en oor die drie-eenheid en oor die beleid van apartheid.

Die gesag van die Skrif hoef nie prysgegee te word as oor hierdie sake geoordeel moet word nie.

Dit lyk baie gedwonge om te stel dat die apartheidsbeleid (hoe ander mense gesien of behandel word) en diegene wat verkies om gay te wees van dieselfde aard is.

Laasgenoemde het niks met apartheid gemeen nie, maar wel met die sewende gebod (“Jy mag nie egbreuk pleeg nie”). Apartheid as beleid druis in teen die hele wet van God, oftewel die liefdesgebod. Dit is dalk minder bekend dat ook die Dordtse leerreëls die gedagte dat een volk beter as ’n ander is, verwerp.

In die geval van besluite oor homoseksualiteit en verwante sake of die gebrek daaraan by die NGK kom dit voor of die gesag van die Skrif (soms) tersyde gestel word, of dat die Bybel tydgebonde verklaar word, of liefs “eietyds” geïnterpreteer moet word. Studies daaroor (waarvan ek vele onder oë gehad het), probeer naarstig wegkom van wat eenvoudig geskryf staan, en met goeie eksegese duidelik word. Argumente by sommige oor waarom die tekste oor homoseksualiteit nie meer geldig sou wees nie of anders verstaan moet word, is onder meer die volgende:

  • Paulus veroordeel in sy briewe ’n ander soort seksualiteit;
  • Die stelling van Paulus dat homoseksualiteit teen die natuur is, hou nie rekening daarmee dat sommige mense se natuur juis anders is nie; en
  • Paulus sou dan kind van sy tyd wees, en het nie van beter geweet nie. Met die hulp van die wetenskap en die psigologie weet ons vandag van beter.

Ek is van oortuiging dat hierdie en ander pogings die gesag van die Skrif verwerp of tydgebonde verklaar. Wat is daar dan in die Woord van God wat ons kan aanvaar?

Die Skrif praat nie net op een plek hoe die sewende gebod beskou moet word nie, maar op baie plekke! En daar is ’n duidelike verband en ooreenstemming by die Bybelskrywers as instrumente van God se openbaring.

Daar moet onderskei word tussen beskrywende en voorskrywende tekste in die Bybel. En ten opsigte van sake soos homoseksualiteit is dit duidelik voorskriftelik: Wie dit doen, sal die koninkryk van God nie beërwe nie.

Dis nie ek wat dit sê nie, maar die Skrif (Gal 5:19-21; 1 Kor 6:10).

Die argument wat telkens deur mense soos Jackson en Gaum gemaak word, is dat die liefde van God en die gebod dat ons mekaar moet liefhê beteken dat niks krities of negatief gesê mag word oor homoseksualiteit of oor huwelike tussen dieselfde geslag nie.

Daarom word die woord homofilie (“liefde vir die mens”) eerder verkies – of die instelling van die huwelik deur God self en slegs tussen ’n man en ’n vrou nie geldig is nie. En op grond van hierdie liefdesgebod mag mense dan maar “volledige” vryheid geniet in menslike verhoudings en geslagsgemeenskap.

Natuurlik moet ons alle mense liefhê, ook ons vyande, maar vanselfsprekend beteken dit nie dat ek moet aanvaar dat medemense my of my gesin mag aanval, doodmaak, besteel of vloek nie. Daarom aanvaar en vergewe ’n gelowige mens sy naaste, watter oortreding ook gepleeg is, soos Christus met ons doen.

Maar Christus se opdrag “gaan en sondig nie meer nie” bepaal dat diegene wat God liefhet sy wet sal wil gehoorsaam. Die liefde neutraliseer nie die wet of wil (of voorskrifte) van God nie.

Dis belangrik dat ons almal moet liefhê; ook elkeen wat nie doen wat God bepaal nie. Ek ken heelwat mense wat ten gunste van homoseksualiteit is en koester geen ­vyandskap teenoor hulle nie, maar is jammer dat homoseksualiteit en gay-wees as die norm beskou word.

Dit is anders as wat ons in Romeine 1:26-27 lees.

Ek wil vir Jackson vra hoe dit moontlik kan wees dat wanneer krities na die beoefening van homoseksualiteit gekyk word, mense se lewe verwoes kan word.

Die Woord van God verwoes nie lewens nie, maar bring die evangelie van die koninkryk van God, van verlossing.

Gaum skerm tereg vir die eenheid van die kerk, wat tegelyk ’n gawe en opgawe, ’n gegewe en opdrag is. Maar hy weet en ek weet dat eenheid sonder die grondslag van die waarheid nie eg is nie; dit kan nie stand hou nie.

My bede is egter dat daar met groter omsigtigheid (dalk met minder aksent op psigologiese en juridiese of grondwetlike en menseregtelike argumente) na suiwer Skriftuurlike sake gekyk moet word.

Gereformeerde kerke oor die tyd en oor die wêreld heen werk nie met kerkgesag of owerheidsgesag nie, maar met die gesag van Christus as die enigste hoof van die kerk.

  • Prof. Dries du Plooy is emeritus professor van die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk.

1 thought on “Gay mense verwoes? Nee, dis net wat Evangelie sê”

  1. Gaum is en bly a puppet van die dark world . Lyk my hy word betaal deur die gaygemeentes oor die wereld , want hy fight , en praat laat die spoeg spat , NET om die gays se regte te beskerm ….. iemand moet hom net n snot snot klap gee . !!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui