NG Sinode gevra: dink weer oor saambly

Hierdie artikel is oorgetik uit Beeld. Dit het nie op www.beeld.com verskyn nie.

**********

NG Sinode gevra: dink weer oor saambly | Beeld

Neels Jackson

2012-04-19

Die NG Kerk se algemene sinode gaan gevra word om weer te dink oor sy standpunt oor saamwoonverhoudings.

Die streeksinode Hoëveld het besluit om ’n versoek van die gemeente Welbekend by Bapsfontein, dat die huidige besluit oor dié saak verander word, aan die algemene sinode te stuur.

Welbekend wil hê die besluit moet dit duidelik stel dat ook saamblyverhoudings wat die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit bevat, deur die kerk verwerp word “omrede die seksuele”.

Ds Abrie van Wyk van Welbekend het aan die sinode gesê die huidige besluit wek die indruk dat saamblyverhoudings “nie so verkeerd is nie”.

Hy het gesê die NG Kerk het nog altyd ’n duidelike morele stem laat hoor. Hy is bang die kerk is besig om dit te verloor. Die AGS onder leiding van Dr Isak Burger speel ál meer daardie rol.

In ’n tyd dat daar dikwels gevra word waarom mense die NG Kerk verlaat, wonder hy of dit nie gebeur omdat die kerk nie meer duidelik rigting gee oor wat hy glo die Bybel leer nie.

Dr. Danie Malan van die gemeente Kempton-Kruin het gesê die algemene sinode het dit duidelik gestel dat die huwelik ’n gawe van God is en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.

[Kommentaar: Hierdie is nie akkuraat nie. Punt 4 van die besluit lui soos volg: Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie. (Huwelik en Saamwoon – Algemene Sinode NG Kerk 2011-10-12)]

In die ander deel van die besluit word erken dat daar saamblyverhoudings is wat baie meer liefde en respek vertoon as baie huwelike. Sulke verhoudings kan nie bloot op grond van die seksuele afgeskiet word nie.

Malan het gesê mense verlaat die kerk nie net omdat hulle duideliker morele leiding soek nie, maar ook as hulle voel die kerk verstaan nie hul omstandighede nie of dat die kerk nie respek vir hulle het nie.

Hy het gevra dat die sinode net kennis neem van Welbekend se versoek.

Die sinode het hom nie self oor die saak uitgespreek nie, maar besluit om dit na die algemene sinode te stuur om oor Welbekend se versoek te besluit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui