NGK Kenridge se verklaring oor God se geslag

Tydens ’n NG Kerk legitimasiediens op 29 Maart 2021 het ds Melanie Thirion van NG gemeente Kenridge soos volg verwys na God in die vroulike geslag:

“Dat God drie-enig háár verbond bevestig. Of hom. Hoe ookal jy dit sien.” – Melanie Thirion

Kyk 54m47s.

In die verklaring hieronder tree haar gemeente vir haar in die bresse.

********

Verklaring van die kerkraad n.a.v. artikel in die media

Agtergrond

Op 29 Maart 2021 is 13 Diensleraars tydens ‘n erediens op Stellenbosch gelegitimeer. Die diens is opgeneem en kan by die volgende skakel gekyk word:

https://www.youtube.com/watch?v=w45At8nNFIs

Die liturgie wat gevolg is het ten doel gehad om ‘n gewyde en geestelike atmosfeer te skep, waarbinne die Diensleraars gelegitimeer word, en waartydens hulle persoonlike mylpaal gevier kon word in dankbaarheid teenoor die Here. In die erediens het ds Melanie Thirion gepreek oor die opdrag dat gelowiges  “sout en lig in die wêreld moet wees”- Matteus 5:13-16.

Ds Thirion se verwysing tydens haar preek

Tydens ds Thirion se preek het sy na aanleiding van die teks gepreek oor dissipelskap en die uitdagings wat die Bybel aan ons daaroor stel. Sy het verwys daarna dat wanneer ons God aanspreek of oor God dink, sommige mense aan God as manlik dink en ander weer oor God as vroulik dink. Sy het in haar verwysing die gehoor uitgenooi om self daaroor na te dink en self ‘n keuse te maak.

Ds Thirion se uitnodiging aan die hoorders was om vir ‘n oomblik na te dink oor hoe hulle oor God dink. Dit is natuurlik die werk van predikers om mense uit te daag om voortdurend te vra of hulle denke oor God nie verruim behoort te word nie. Haar opmerking moet verstaan word as ‘n uitnodiging om te dink oor hoe ons oor God dink en nie ‘n stelling wat wil verklaar of God manlik of vroulik is nie.

Die kuratorium en die NG-Kerk se standpunt oor die verwysing na God

God is groter as wat ons denke kan vasvat of beskryf en word nie deur manlike of vroulike geslagsvorme beperk nie.

Kerkraad van Kenridge Gemeente se standpunt

Die Kerkraad van Kenridge Gemeente ondersteun die standpunt van die kuratorium en nooi enige persone wat verder hieroor in gesprek wil tree, om met Dr Frederick Marais (jfm@sun.ac.za) kontak te maak. Lidmate is ook welkom om met enige van die Kenridge Gemeente leraars in een-tot-een gesprek te tree. Die kerkraad moedig eerder opbouende gesprek hieroor aan en ondersteun nie onakkurate uitsprake en buite-konteks aanhalings soos wat tans op verskeie media die rondte doen nie.

KERKRAAD KENRIDGE GEMEENTE

15 April 2021

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui