Kairos Netwerk Nuusbrief – 7 Mei 2021

******

Beste vriend(in)

INHOUD:

  1. HOOFBERIG: Nasionale Konferensie 25 Junie 2021
  2. GESAMENTLIKE BEPLANNINGSWERKSESSIE: Bethal Reëlingskomitee en Kairos Netwerk afgevaardigdes
  3. KOMMUNIKASIE STRATEGIE: Redakteursforums
  4. FONDSE: Kairos Netwerk Bankrekening
  5. OORDENKING: Gebed van Nehemia
  6. ADMIN REËLINGS

Stuur asb. hierdie nuusbrief aan al jou vriende, familie en kennisse! Oorweeg asb. ook jou onseker leraarsvriend en kerkraadslid.

1. HOOFBERIG: Nasionale Konferensie 25 Junie 2021
Die Sentrale Werkgroep (SWG) het 3 Mei in persoon vergader. Moreletapark Gemeente was die gasheer. Daar was besin oor die pad vorentoe en om verder voort te bou op die positiewe terugvoer na die Bethal Konferensie van 16 April 2021.

‘n Besluit is geneem om ‘n Nasionale Konferensie te hou op 25 Junie 2021 by Moreletapark Gemeente. Die hoof doel van die Konferensie sal wees om ‘n proses te begin om leierskap te identifiseer, in te lig en voor te berei vir die stigting van Families van Reformerende Gemeentes later in die jaar. Registreer gerus deur hier te klik.

Gemeentes wat doleer asook ander behoudende gemeentes en lidmate kan die geleentheid bywoon. Die geleentheid word ook gebeeldsend.

2. Gesamentlike Beplanningswerksessie: Bethal Reëlingskomitee en Kairos Netwerk afgevaardigdes

Die SWG vergadering is opgevolg met ‘n beplanningswerksessie op 4 Mei. Vyf KN afgevaardigdes en vier lede van die Bethal Reëlingskomitee was betrokke.
Die werksessie het in goeie gees en met groot entoesiasme plaasgevind. Deelnemers het mekaar beter leer ken en met die gesindheid van ‘ons leer saam, beplan saam en bid saam’ aan die werk gespring.

Bethal Konferensie terugvoer

Die Konferensie het ‘n groot bydrae gemaak om blootstelling te gee aan die vordering gemaak sedert die Moreletapark Beraad, Februarie 2020, asook om meer duidelikheid te bring oor die pad vorentoe vir behoudende gemeentes. Dit was ook ‘n uitstekende leergeleentheid waar die waarde van gemeente inisiatiewe in samewerking met en ondersteun deur Kairos Netwerk, bevestig is. Verwys ook na Nuusbrief 7 en die KN Herderlike Brief aan die Konferensiegangers.

Na afloop van die konferensie het meer gemeentes begin doleer en daar het baie mooi en positiewe dinge plaasgevind. So het bv. Christo Kriek (‘n lid van Bethal se Reëlingskomitee en ouderling van Charl Celliers) ’n geleentheid gehad om te praat by NG Tafelberg tydens ’n erediens wat die groter eenheid en meelewing tussen gemeentes kon versterk.

’n Predikant van die ring van Standerton het ’n brief opgestel aan sy eie gemeente met die opskrif: ‘Weet jy wat aangaan in die Algemene Sinode van die NG Kerk’. Elke lidmaat van die gemeente het so ’n brief ontvang.

Gesprekke is ook aan die gang om die Ring van Standerton as een van die eerste dolerende ringe te vestig wat reformasie van die NG Kerk voorstaan.
Binne die Vrystaat se Sinodale streek word streeksbyeenkomste gehou oor die krisis in die kerk asook die besluite van die Algemene Sinode en die pad vorentoe.

Padberaad (“Roadshow”)

In opvolging van die Konferensie by Moreletapark op 25 Junie 2021 word ‘n gesamentlike padberaad (KN en Bethal) in die vooruitsig gestel om leiers gemeentes, ringe en ander kerkvergaderings te besoek en hulle in te lig.
Die Bethal Konferensie het net weereens bevestig dat daar baie vrae en onsekerhede is by ringe, kerkrade en lidmate oor wat aangaan in die NG Kerk. Een-tot-een gesprekke sowel as besoeke aan kerkvergaderings word in die vooruitsig gestel. Die prosesse wat nodig is vir konstituering sal verduidelik word. Diè wat besoeke verlang asook die besonderhede vir besoeke sal mettertyd bekend gemaak word.

Konstituering van Familie van NG Kerk (Reformerend)

Daar word verder voorsien dat teen die tweede helfte van Oktober 2021 by Moreleta Park oorgegaan sal word om formele familieverbande te sluit tussen behoudende gemeentes in die NG Kerk Reformerend. Dolerende en ander behoudende gemeentes sal formele
afvaardiging soontoe kan stuur om formeel deel te word van die familie van behoudende NG Kerkr (R). Ander behoudendes sal dit ook kan bywoon. Meer inligting later.

Dit word opgevolg met die verdere vorming van kleiner NGK Gespreksgroepe NGK (Reformerend). Afgevaardigdes met geloofsbriewe sal dan wettige besluite kan neem op die vergadering. Die gebeure sal weereens gebeeldsend word.

Wat van die detail?

‘n Beplannings Werkgroep Bethal en en Kairos Netwerk (BKN) bestaande uit die nege persone reeds betrokke is, het hulle daartoe verbind om saam verdere detail beplanning te doen waaroor mettertyd besonderhede verskaf sal word.

3. KOMMUNIKASIE STRATEGIE: Redakteursforums

Die gereformeerde behoudende geloofsgemeenskap en in die besonder die NG Kerk lidmate, ervaar toenemend ʼn aanslag op hulle “gereformeerde geloofsgoedere”? en/of besef dit nie, of het nie toepaslike inligting en/of is nie toegerus om hulle te verweer nie;

Slegs ‘n volgehoue en omvattende poging gaan ‘n bydrae maak om reformasie, met ander woorde, terug na die Woord en ons gereformeerde belydenisse, te ondersteun.

By die KN SWG vergadering van 3 Mei 2021 is goedkeuring verleen vir die vestiging van ‘konsep van redakteursforums’:

Voorlopig word die volgende vier Redakteursforums voorsien:

  1. Lering georiënteerd – Fokus op die bevordering en ontwikkeling van kennis en insig oor die waarheid;
  2. Skrifgesag georiënteerd – Fokus op die uitwys van liberale teologie en dwaalleer;

Dit mag wees dat bogenoemde gekombineer kan/moet word. Benodig verdere oorweging en ondersoek.

  1. Kerkregterlik georiënteerd – Fokus op kerkregterlike publikasies ter ondersteuning en begeleiding van gemeentes, kerkrade en leraars;
  2. KN missie en visie georiënteerd – Fokus op die uitdra van die beeld van KN en verwante werksaamhede. Veral laasgenoemde is ‘n behoefte wat op ‘n dringende basis gevul sal word.

Elkeen van die Redakteursforums word gelei deur ‘n bewese en ervare kenner en leier op sy/haar gebied.

Twee persone van die SWG saam met die Kommunikasie WG vorm deel van ‘n Paneel wat die vestigingsproses sal begelei. Besonderhede volg.

4. FONDSE: Kairos Netwerk Bankrekening

Die saak is baie dringend omdat fondse benodig word om onder andere die konferensie, die “roadshow” ens. te befonds. Die KN is in die proses om ’n Kairos Netwerk bankrekening te skep.

Drie persone met tekenregte is uit die geledere van die SWG aangewys. Die rekening se nommer sal sodra beskikbaar, bekend gemaak word.

5. OORDENKING: GEBED VAN NEHEMIA
Gebed is om onsself, eerder as ons behoeftes, voor God te lê.

God bring vir Nehemia na vore om die verbrokkelde mure van Jesusalem te herbou ter beskerming van die kosbare tempel wat pas deur Esra herbou is. Nehemia se geesdrif gaan nie net oor die herbou van die muur nie, maar hy reik ook uit na die hervorming van die inwoners.

Daar is sterk ooreenkomste tussen die verhaal van Nehemia en waar ons as behoudende lidmate ons tans bevind. Daarom kan ons veel uit sy verhaal leer. Nadat hy gehoor het dat die mure van Jerusalem in puin lê, begin hy bid vir God se bystand. Hy bid met ‘n bepaalde hartsingesteldheid en gesindheid van afhanklikheid. Hy bid met ‘n bepaalde doel voor oë. Lees Nehemia 1:4-11.

  • Hy verootmoedig homself deur te treur, te vas en God se aangesig op te soek (v.4)
  • Sy fokus is op die Almag en grootheid van God. Dit het hom herinner dat die God wat hy dien, veel groter is as die taak wat vir hom wag (v.5)
  • Hy besef dat God heilig is, en hy begin om sy eie, sy familie en sy volk se sondes te bely. Soos Jesaja, het hy besef dat ons mense se sondes ‘n skeidsmuur vorm tussen ons en
    God, en dit moet bely en aangespreek word ( v.6; Jesaja 59:2)
  • Sy gebed fokus op God se trou en sy beloftes(v.8-9)
  • Hy vra dat God sal ingryp. Hy raak spesifieke punte aan in sy gebed, dat God hom wysheid sal gee om die koning te hanteer, om die koning se hart na God toe te rig. Hy het gebid vir
    God se goddelike ingryping om sy doel te bereik.

Laat ons hierdie voor oë hou wanneer ons ons voor God verootmoedig in gebed vir ons pad vorentoe.

Erkenning: Met dank en waardering aan Dr. Henrietta Klaasing. Red.

6. ADMIN REËLINGS

  • Karois Netwerk het oorgeskuif na ons nuwe domain. Besoek gerus www.kairosnetwerk.net
  • Op soek na inligting maar kry dit nie? Sien jy foute wat reggestel moet word? Stuur asb. jou vrae en voorstelle na info@kairosnet.net
  • Indien jy hierdie nuusbrief “tweedehands” vanaf iemand anders gekry het, skryf in en kry dit “eerstehands” deur hier te
    kliek
    , jou besonderhede in die vorm onder aan die bladsy in te vul en dan die “submit” knoppie te kliek.
  • As jy nog nie deel is van die Kairos Netwerk se WhatsApp groep nie, stuur ’n WhatsApp boodskap met jou naam, van en telefoonnommer na: +27 82 237
    7793

Seëngroete,

KN Redaksie
KN sentrale werkgroep

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui