Kairos Netwerk Nuusbrief – 16 Apr 2021

******

Beste vriend(in)

Stuur asb. hierdie nuusbrief aan al jou vriende, familie en kennisse!

1. HOOFBERIG: Herderlike Brief van Kairos Netwerk aan Bethal Konferensie  

Kairos Netwerk wil graag die gemeentes van Bethal en Charl Cilliers bedank en gelukwens met die inisiatief wat hulle geneem het om te midde van moeilike omstandighede vanweë onder andere Covid-19, die konferensie te reël.  Ons bede is dat dit ’n inspirasie vir ander gemeentes en ringe sal wees om soortgelyke byeenkomste te inisieer.

Aangeheg is die Herderlike Brief wat vanoggend voorgelees is deur Ds. Willem Badenhorst nms. Kairos Netwerk.aan die Bethal Konferensie gangers.

Die konferensiegangers word ‘n geseënde tyd toegewens in mekaar en veral in die Here se teenwoordigheid.

Veilige reis toegewens!

2. SENTRALE WERKGROEP: Verandering in rolle en werksaamhede

Die Sentrale Werkgroep (SWG) het na oorweging besluit dat rolveranderings nodig is. Dit is enersyds om die las van die voorsitter te verlig deur die skep van die rol van ‘n ondervoorsitters asook om vir Pieter Breytenbach, wat as Bedryfshoof van Moreletapark Gemeente vir meer as 12 maande ook nog die rol van voorsitter op hom geneem het, ‘n blaaskans te gee.

Die volgende tussentydse veranderinge het in werking getree na besluite hieroor geneem is by die SWG vergadering van 14 April 2021:

  • Anton Knoetze (Secunda Goedehoop) – Voorsitter
  • Pieter Breytenbach (Moreletapark)  – Onder voorsitter

Ons dank en waardering gaan aan Pieter vir sy reuse bydrae asook aan Moreletapark Gemeente wat dit vir hom moontlik gemaak het. Ons dank gaan ook aan Anton vir sy bereidwilligheid om nou voor te vat.

Om perspektief te behou oor waar ons was einde Februarie 2020 word die Beraad Opsies vir die pad vorentoe hierby aangeheg. (Verwys veral na punt 8, Nuwe samewerkingstrukture).

‘n SWG Werksessie word beplan begin Mei om rolle te finaliseer asook om aandag te gee aan strategiese rigting vir die volgende 12 maande.

3. OORDENKING EN GEBED

Ons oordenking en gebed is hierdie week in lyn met wat dr. Bennie Marais voorberei het vir die Bethal-konferensie.

Lees asseblief Kolossense 1: Paulus se brief aan Kolosse is veral van toepassing op hierdie geleentheid maar ook vir elke gemeente.

  • Dank God vir ons geloof (Vers 3)
  • Die Geloof en Liefde is gegrond op hoop (Vers 5)
  • Die Evangelie het vrug voortgebring wat deur die Gees in ons gewerk is (Vers 6)

Ons gebed:

  • Ons vra God dat Hy deur wysheid en insig wat die Gees gee is, Sy wil duidelik sal laat ken in KN se pad vorentoe ( Vers 9 b);
  • Mag ons vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God ( Vers 10 b);
  • Mag God deur Sy wonderbare  krag ons alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard ( Vers 11);
  • Met blydskap moet ons die Vader dank wat ons geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk  van die lig. ( Vers 12);
  • Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes ( Vers 14);
  • Laat ons mekaar voortdurend dra in ons gebede;
  • Mag God se wil geskied!

3. ADMIN REELINGS

  • Karois Netwerk het oorgeskuif na ons nuwe domain. Besoek gerus www.kairosnetwerk.net
  • Op soek na inligting maar kry dit nie?  Sien jy foute wat reggestel moet word? Stuur asb. jou vrae en voorstelle na info@kairosnetwerk.net
  • Indien jy hierdie nuusbrief “tweedehands” vanaf iemand anders gekry het, skryf in en kry dit “eerstehands” deur hier te kliek, jou besonderhede in die vorm onder aan die bladsy in te vul en dan die “submit” knoppie te kliek.
  • As jy nog nie deel is van die Kairos Netwerk se WhatsApp groep nie, stuur ’n WhatsApp boodskap met jou naam, van en telefoonnommer na +27 82 237 7793

Seëngroete,

KN Redaksie
KN sentrale werkgroep

Bylaag: Herderlike brief

Herderlike brief van Kairos Netwerk aan Bethal Konferensie

16 April 2021

Liewe Broers en Susters in ons Here Jesus Christus,

Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het sodat ons ’n lewende hoop mag hê op ’n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word — ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word (1 Pet 1:3-5).

Kairos Netwerk wil graag die gemeentes van Bethal en Charl Cilliers bedank en gelukwens met die inisiatief wat hulle geneem het om te midde van moeilike omstandighede vanweë onder andere Covid-19, die konferensie te reël. Ons bede is dat dit ’n inspirasie vir ander gemeentes en ringe sal wees om soortgelyke byeenkomste te inisieer.

Soos u bewus is, het ons in die onlangse verlede twee gesprekke met die Dagbestuur van die ASM en ander verteenwoordigers van algemene sinodale strukture gehad. Tydens dié geleenthede kon ons ons standpunte oor Skrifbeskouing en -gesag, Teologiese opleiding en kerkordelike prosesse stel. Die gesprekke was openhartig, reguit en indringend. Ons het ook versoek dat die ASM ’n buitengewone Algemene Sinode byeenroep om die standpunte en besware van Kairos Netwerk op ’n ordelike en amptelike wyse te hanteer. Dié versoek is ongelukkig sonder opgaaf van redes van die hand gewys.

Dit het Kairos Netwerk genoop om opnuut te besin oor die pad vorentoe. Terwyl ons verskillende opsies oorweeg oor wyses waarop ons tesame met behoudende lidmate, gemeentes, ringe, sinodes sowel as die wat doleer, ons getuienis kan stel en kan bydra tot kerkhervorming, het ons ons opnuut verbind aan ons roeping, waardes en werkswyses waaroor ons konsensus het. Dit sluit onder andere die volgende in:

  • Die identifisering van toepaslike werksaamhede en projekte en die planmatige uitvoering van die projekte;
  • om te dien as oorkoepelende taakspan om netwerke tussen behoudende gemeentes, ringe en sinodes te koërdineer en te bevorder;
  • om behulpsaam te wees met inisiatiewe in die organisering van alternatiewe kerkverbande tussen behoudende gemeentes;
  • die uitbreiding en gereelde opdatering van ons webwerf;
  • die verspreiding van ons nuusbrief;
  • die opstel en instandhouding van ’n behoorlike databasis van behoudende lidmate, predikante, gemeentes en ringe sodat die inligting beskikbaar sal wees wanneer dit benodig word;
  • die publikasie van artikels en boeke wat verband hou met kerkreformasie, ens;
  • die daarstel van ’n biblioteek en datateek van Skrif- en belydenisgetroue boodskappe, Bybelstudies, studiestukke, ens sodat dit waar nodig beskikbaar gestel kan word;
  • die daarstel van ’n videoteek met goeie video’s en video-snitte oor aktuele sake;
  • om behulpsaam te wees met die reël van konferensies;
  • die opbou van fondse sodat, waar nodig tydens die reformasie, hulp aan gemeentes en ringe verleen kan word.

Kairos Netwerk is oortuig dat die inisiatief vir die vorming van kerkverbande verkieslik vanuit die amptelike kerkvergaderings van plaaslike gemeentes moet geskied. Hierin wil ons graag ons hulp aanbied met visionering, kerkregtelike advies, praktiese bystand en, wanneer nodig, om hulp te verleen aan verskillende kerkverbande om met mekaar te netwerk. In dit alles wil ons dit duidelik stel dat ons nie in kompetisie met plaaslike inisiatiewe wil wees nie, maar dat ons eerder ’n ondersteunende rol wil speel. Net so is dit ons wens dat plaaslike inisiatiewe ook aan ons die ruimte sal gee om ’n oorkoepelende rol te speel waar ons probeer om korttermyn, mediumtermyn en langtermyn doelwitte uit te werk en na te streef.

Ons bede is dat die Here wat ons geroep het in sy diens en ons geseën het met ’n verskeidenheid gawes, in sy genade ons tydens en na die konferensie deur sy Woord en Gees sal toerus, lei en seën sodat wat ons dink, sê en doen tot sy eer en tot die opbou en uitbou van sy Koninkryk en Kerk sal wees. Ons bid ook vir die seën van die Here op elke gemeente wat deur een of meer persone by die konferensie verteenwoordig is.

Ten slotte, onthou die vermaning in Efes 6:10: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslag van die duiwel.

Vriendelike groete

Geteken

Pieter Breytenbach

Namens Kairos Netwerk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui