Is die koerant dan net vir Christene?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Is die koerant dan net vir Christene? | Netwerk24

Amos van der Westhuizen

Die Burger, 27 Oktober 2022

Willie Schutte se “Raadgee gaan ANC nie verander” (22.10) het betrekking. Hy hou die saamstaan van Christene voor as die oplossing vir Suid-Afrika se probleme.

Veronderstel iemand maak ’n soortgelyke aanspraak dat wit mense/swart mense/mans/vroue ensovoorts die sleutel hou vir Suid-Afrika, sal so ’n brief geplaas word of uit vrees vir die reaksie nie geplaas word nie? Schutte skryf “ons as Christene” en dit word so geplaas. Beteken dit die koerant is ’n publikasie vir uitsluitlik Christene?

Kan ’n aktivis van enige groep, hetsy godsdienstig, polities of filosofiese denkrigting, nou die koerant opeis en sy/haar denkgenote in die brieweblad aanspreek asof alle lesers aan sy/haar groep behoort?

Kommentaar

Gerhard Mahne

Die vraag van Amos van der Westhuizen “Is die koerant dan net vir Christene?”(Die Burger 27 Okt.) is in die kol. Mens het begrip vir sy frustrasie dat net Christene blykbaar die koerante haal. Dis dieselfde as die ongemak van Christene in Moslemlande. Hulle word trouens vervolg en gestraf (selfs met die dood) indien hulle Bybelse standpunte in die koerant sou huldig. Amos, jy verwys na die Christendom as ʼn “godsdienstige denkrigting” en dis juis hier – in ʼn “godsdienstige denkrigting” waar die probleem lê. Hierdie “denkrigting” was en is vir miljoene ʼn klug as gevolg van sy swak trekrekord. En wat erg is, is dat in elke generasie sekere voorlopers in die “denkrigting” selfs in eie geledere verwarring saai. Kort-kort geld eeu-oue Bybelse standpunte nie meer nie, en word nuwes ontwerp. Jy sien, die “godsdienstige denkrigting” kan gevaarlik wees. Die Evangelie is anders. Dis iets wat binne in jou “gebeur”. Dis wanneer die Jesus van die Bybel vrede in jou verwarde denke bring. Dis wanneer Hy jou laat wegloop van onder meer oneerlikheid, onwilligheid, korrupsie en wanorde, en ook deur jóú toedoen die land genees. Maar om Christus as Heelmaker te omhels is natuurlik onmoontlik, want dit maak rasioneel nie sin nie. Dis ʼn geloofstap wat net moontlik is deur Godgegewe geloof.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui