Hou op om julleself te bluf

Kyk ook:

Jan Louw het die volgende op Facebook geplaas op 8 November 2018:

1 Kor 6: (9)… Hou op om julleself te bluf; nie onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat by hulle slaap (10)of diewe of gierigaards of dronklappe of kwaadpraters of rowers sal die koninkryk van God ontvang nie. (11)En dit was sommige van julle, maar julle het julle laat was, julle is aan God toegewy, en julle is vrygespreek deur die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God. (Nuwe Direkte vertaling)

Prof Julie Claasens van Stellenbosch, noem hierdie minagtend een van die “shooter texts”, wat “daartoe bydra om ’n homofobiese wêreld te skep waarin gays en lesbiers se diepste wese bedreig word”. Sy vra vir ’n verantwoordelike hermeneutiek (interpretasie) van sulke tekste.

Ek vra almal dan nou wat hier lees om saam met my op ’n verantwoordelike manier na hierdie teksgedeelte te kyk en te besluit wat Paulus gesê het en wat dit vir ons vandag wil sê.

Paulus beskryf hier in ’n paar woorde die sedelose samelewing van sy tyd. Talle skrywers vertel van die sedelose toestand destyds in die Romeinse Ryk. Niks was regtig reg of verkeerd nie, want daar was nie ’n standaard waarvolgens mense moes leef nie. Daar was nie ’n Bybel nie en daar was nie ’n Tien Gebooie nie. Niemand kon bepaal wat regtig goed of sleg is nie.

Die gode van die Romeine en die Grieke was seksuele perverte. Volgens hulle mites het die gode seksuele verhoudings onder mekaar en selfs met mense op aarde gehad. Geen wonder dat die mense wat hulle aanbid het, net soos hulle geleef het nie.

Die bekende keiser Julius Caeser het glo op 20 jarige leeftyd ’n gier begin om vroueklere te dra. Hy het as jong man ’n homoseksuele verhouding met koning Nikomedes IV gehad en so het hy die die titel “Koningin van Bitinië” gekry. Weens sy omvangryke biseksuele verhoudings het sy soldate oor hom gepraat as “elke vrou se man en elke man se vrou”.
So word daar die mees bizarre verhale vertel van omtrent al die keisers. Die Romeine was in staat om ’n indrukwekkende Ryk oor die hele destydse wêreld te administreer en bouwerke na te laat wat ons tot vandag toe verstom, maar hulle was onbeskaamd, wellus gedrewe. Pederastie was ’n aanvaarbare praktyk by rykes en invloedrykes. Dit beteken dat mans naas hulle vrouens ook nog vir hulleself ’n seun of ’n slaaf as bedmaat aangehou het. Sommige van hierdie homoseksuele verhoudings het oorgegaan in langtermyn liefdesverhoudings.

Dis is soos die samelewing destyds gelyk het waar Paulus van stad tot stad gereis het, waar hy bekering gepreek het, waar hy mense onderrig het en briewe aan die gemeentes van Christus geskryf het.

Algaande het die koninkryk van God soos ’n mostertsaadjie begin groei en dit het later ’n boom geword. Die Westerse samelewing waarin ons grootgeword het met sy norme van wat betaamlik en onbetaamlik is, is die gevolg van die werk van die apostels. Die koninkryk van God het 2000 jaar gelede in die wêreld deurgebreek.

Dit is hierdie norme wat aktiviste, selfs in die kerk, nou weer wil uitdaag met die propagering van LGBT (Lesbies, Gay, Biseksueel, Transseksueel, ens). Die duiwel probeer hard om sy verlore grondgebied weer in te haal.

Daar is ’n paar woorde in die teks waaroor daar vir ons in hierdie konteks geen twyfel moet wees nie (waaroor ons, ons nie moet bluf nie):

  • Onsedelikes. Die Griekse woord is pornoi. Die woord pornografie kom van hierdie Griekse woord en gee ’n aanduiding van die omvattende betekenis van die woord. Paulus sê dus mense wat hulle aan hulle seksuele drifte oorgee, moet duidelik weet dat daar nie vir hulle ’n plek in die koninkryk van God is nie.
  • Egbrekers. Die Griekse woord is moigoi. Enige mens wat volhard om die huwelik as heilige instelling van God te minag, word ’n egbreker in terme van die 7de gebod. Sulke mense het nie deel aan die koninkryk van God nie.
  • Manlike prostitute. Die Griekse woord is malakoi. In die homoseksuele gemeenskap is daar ’n party wat gewoonlik die vroulike rol speel en dan ook begin optree soos ’n vrou. Mans wat by sulke aktiwiteite betrokke is, het nie deel aan die koninkryk van God nie.
  • Mans wat by hulle slaap. Die Griekse woord is arsenokoitai. Dit word ook vertaal met die woord sodomiet.


Paulus gaan voort om te skryf: “Dit was sommige van julle ook”. In die gemeente was daar mense wat voor hulle bekering ook vasgevang was in die ongelukkige wêreld van pornos soos Paulus dit hier beskryf. Deur die genade van Christus is hulle daarvan bevry en hulle het deel geword van die “heiliges” van God (1 Kor 1:2). Hoe het dit gebeur? Paulus sê: “Julle het julle laat was, julle is aan God toegewy (geheilig), en julle is vrygespreek deur die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Daar is dus hoop vir ’n mens wat in pornos verval het en bewus geword het van sy onreinheid. Kom na Christus toe. Hy sal jou was en jou vryspreek. Hy sal jou laat deel in die vreugdes van sy koninkryk.

Is Paulus nie liefdeloos as hy mense ettiketteer en uit die koninkryk van God uitsluit nie? Nee Paulus was nooit liefdeloos nie. Dit blyk uit sy beklemtoning van die liefde in 1 Kor 13. Hy sê dat mans hulle vroue moet liefhê (Ef 5:28). Hy sê God is getuie hoe hy verlang na die gemeente met die liefde van Christus (Fil 1:8).

Is Christus nie dalk met respek gesê liefdeloos as Hy bepaal dat daar nie plek is vir sedeloosheid in sy koninkryk nie? Dit kan ook nie wees nie. Paulus bid dat ons in staat sal wees om te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek (Ef 3:18).

Waarom moet ons juis na Paulus luister? Paulus is ’n apostel van Christus. Hy sê: “Dat ek ’n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.” (Gal 1:1). Paulus het ook vir die gemeentes van destyds gevra dat hulle vir hom moet bid dat hy die geheimenis van Christus duidelik sal verkondig (Kol 4:4). Samevattend moet ons dus sê Paulus is deur God aangestel om aan ons sy Woord te bring.

Ons moet ons nie laat bluf deur teoloë wat Paulus wil bevraagteken asof hy nie begrip sou kon hê vir die ingewikkelde sielkundige vraagstukke van vandag oor homoseksualiteit nie. Ons het die verantwoordelikheid om die briewe van die apostels met dieselfde eerbied te bejeën as die gemeentes van destyds. Soos die res van die Skrif is dit God se Woord waarop ons moet ag gee. Wie dit minag sal daaroor verantwoording moet doen voor Christus op die dag as Hy met heerlikheid in sy koninkryk kom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui