Honderde teken petisie oor trans kind by spogskool

*******

Honderde teken petisie oor trans kind by spogskool | Netwerk24

Charné Kemp

Sondag, 19 Junie 2022

’n Aanlyn petisie het opnuut die debat oor die toelating van ’n transgender leerling tot St Stithians Kollege in Johannesburg laat opvlam.

In die petisie spreek Ian Mac­leod, wat homself as “deel van die Saint-gemeenskap” beskryf, kommer uit oor sekere “rooi vlae” oor dié kerkskool se beleid oor transgender leerlinge.

Dit is teen gister deur 323 mense onderteken.

Die petisie het ook reaksie onder alumni ontlok wat die skool se besluit steun en voel dat die petisie misplaas is.

Dié skool, wat onder die vaandel van die Metodistekerk bedryf word, het die ondertekenaars genooi om eerder met hulle in gesprek te tree as om op openbare platforms te kla.

Rapport het vroeër berig dat sommige ouers beweer hulle is nie genoegsaam ingelig voordat hulle die omsendbrief gekry het waarin gesê word die leerling sal in die tweede kwartaal by dié rykmanskool aansluit nie.

Macleod sê in sy petisie hy hou die jongste verwikkelings by die skool met kommer dop.

“Terwyl ons gesonde transformasie om ras, gender en geslag ondersteun, lê ons kommer in die aard van die aanslag wat Saints neem.”

Hy verwys ook na die bronnelys oor puberteitsonderdrukker-medikasie en gender-verandering-chirurgie op die skool se webwerf oor gender en transformasie. Macleod wil weet of die skool ’n aktiewe rol speel wanneer ’n leerling oorweeg om medikasie te gebruik of chirurgie te ondergaan. Hy versoek ’n volledige lys literatuur wat die beleid ondersteun.

“Dit kom voor of die klaskamer die ruimte word waar die intieme aspekte van seksuele emosionele ontwikkeling onder kinders en tieners gerig en versnel word . . . Ondersteun die skool een ideologie tot die uitsluiting van ander? Is die leerlinge en ouers se geloof in ag geneem?”

Oor die uitvoering wil hy weet of opgeleide en ervare mense die beleid toepas en wat die kriteria is wanneer die onderwyser ’n kwessie aan ’n sielkundige moet oorgee.

Carel Nolte, ’n oudleerling, het op Facebook gesê hy is diep seergemaak deur die petisie.

“Ek glo hul siening is in die minderheid. Hoekom ’n petisie gebruik wanneer daar baie ander forums is om te praat?”

Hy sê die skool het breedvoerige debat oor die kwessie gevoer. “Dit beteken nie dat almal dit ten volle steun nie. Ek self worstel met my strydige sienings oor seksuele identiteit . . .

“Ek glo die meerderheid, selfs meer konserwatiewes soos ek, glo dat die kollege alles in die beste belang van leerlinge doen.”

Celeste Gilardi, skoolhoof, sê hulle is bewus van die petisie.

“Sommige van die handtekeninge op die petisie is onder dieselfde naam herhaal, en ander ondertekenaars het geen skakel met die skool nie, maar wil hul geloofsgebaseerde agendas bevorder.

“Die raad en uitvoerende leierskorps doen ’n beroep op die meer as 300 ondertekenaars om hul kommer deur die skool se gevestigde strukture te opper. Hulle is ’n klein maar duidelike stem uit die tienduisende huidige en voormalige studente, ouers en onderwysers.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui