Repliek op Mike Smuts se resensie oor “Die Trojaanse Perd” – Hendrik van Rensburg

MIKE SMUTS SE KOMMENTAAR TOV EVOLUSIE IN “TROJAANSE PERD “

1. Mike Smuts begin sy kommentaar met die opmerking dat dit buite sy “vlakke van kundigheid” lê om “die wetenskaplike teorie van evolusie” te probeer verdedig of beoordeel. Nogtans gaan hy daartoe oor om ’n pleidooi vir evolusie te lewer teenoor die standpunt in “Trojaanse Perd” (TP). Sy kommentaar toon duidelik dat hy die onderskeid tussen evolusie en skepping nie ken nie. Dit is te betwyfel of hy al ooit enige boek van ’n gelowige wetenskaplike wat die skeppingsgeskiedenis van die Bybel aanvaar, gelees het.

2. Daarna maak hy onder die opskrif “’n Misleidende definisie” beswaar teen die gebruik van die woord “hipotese” in die omskrywing van evolusie in die “Woordelys” op p v. Sy uiteensetting van die verskil tussen ’n hipotese en ’n teorie is korrek, maar dan aanvaar hy dat die moontlikheid dat evolusie bewysbaar is, so oortuigend is dat dit as ’n teorie aanvaar kan word. Die skrywers van TP verskil heeltemal tereg van sy aanvaarding, omdat dit gans onmoontlik is om die hipotese te bewys.

a. Hoe kan iets wat in die verlede gebeur het, deur teenwoordige proefnemings of observasies bewys word as dit nie herhaal kan word nie?

b. Veral is dit gans en al onmoontlik as ’n mens in aanmerking neem dat Darwin en sy volgelinge die inwerking van “inligting” op die ontstaan van lewe en ’n spesie beslis uitskakel. Prof Wilder-Smith in sy “Fulfilled Journey” stel die verskil in ’n formule voor soos volg:

1. a. Darwinistiese formule:

m (materie) + e (energie) + t (tyd) = Lewe.

b. Kreasionistiese formule:

m (materie) + e (energie) + t (tyd) + i (inligting) = Lewe

——

2. a. Darwinistiese formule:

sel + e (energie) + t (tyd) = Spesie.

b. Kreasionistiese formule:

sel + e (energie) + t (tyd) + i (inligting) = Spesie.

Dat materie spontaan lewe kan voortbring sonder die inligting van die Skepper, is ondenkbaar en onmoontlik. Dieselfde geld vir die ontstaan van ’n spesie. Sonder die inligting van die Skepper, kan dit nie vanself tot stand kom nie. Evolusioniste wil egter van geen “inmenging” van enige aard, soos die inligting wat die Skepper in sy skepping ingebou het, weet nie en is dit dus ateïsties.

In die lig hiervan is dit onmoontlik om van evolusie as ’n teorie te praat. Dit is en bly bloot ’n hipotese al sê Mike dat die begronding van die evolusieteorie verbeter namate navorsingstegnieke verbeter.

c. Hoe kan ’n mens navorsing doen as die toestand van “niks” waaruit materie en daarna lewe moes onstaan, nie bestaan nie?

3. Sy argument dat die “oorgrote meerderheid van wetenskaplikes oor die wêreld” oor evolusie saamstem, dra nie veel krag nie, as ’n mens in aanmerking neem dat die meerderheid nie altyd reg is nie. So glo die meerderheid mense in die wêreld nie in die Here Jesus nie en wil dit sê dat hulle reg is?

4. Met die behandeling van hoofstuk 6 van TP, kry ’n mens die indruk dat Mike die skeppingsleer soos in Genesis 1 weergegee, nie as geskiedenis aanvaar nie. In ’n aanhaling uit die boek, onderstreep hy self die volgende woorde: “God het alles met Goddelike bonatuurlike krag tydens die skeppingsweek geskep, soos verklaar word in die Bybel,” wat die indruk wek dat hy dit nie onderskryf nie.

Daarna meld hy dat die skrywers van TP “’n beperkte evolusie binne die soorte” aanvaar wat ’n mens laat besef dat Mike “mutasie” gelykstel aan “evolusie”. Mutasie is nie dieselfde as evolusie nie. Mutasie kom voor met die veredeling van diere en plante en dit gaan met die verlies van gene gepaard, nie die voortbrenging van nuwe gene nie. Dit is dus eerder devolusie as evolusie. Daarenteen beweer evolusie dat een soort in ’n ander soort verander met die verkryging van nuwe genemateriaal, byvoorbeeld ’n vis word ’n voël, of ’n amebe word ’n wetenskaplike! Dit kan nie en dit gebeur nie so nie.

 

5. Mike konfronteer die skrywers van TP met die ouderdomsbepaling van die evolusioniste, asof dit vasstaande, bewese tydperke is. As hy enigsins die metodes wat gebruik word om die ouderdom te bepaal, ondersoek het, sou hy besef het dat dit nie so betroubaar is nie.

a. Om een saak te noem. Evolusioniste gebruik die bestaande toestande in die natuur om die tydperke te bereken. Daarmee word aanvaar dat die huidige omstandighede altyd was soos dit nou is.

b. Boonop word die sondvloed, wat met geweldige versteuringe in die skepping gepaard gegaan het, buite rekening gelaat – selfs ontken. Is dit wetenskaplik?

c. Dit is tog opmerklik dat die tydperke van die evolusioniste nie so onveranderlik is nie en telkens weer aangepas moet word om by nuwe “ontdekkings” in te pas.

Hy moet dit gerus maar aanvaar dat die lang tydperke deur evolusioniste gebruik word om hulle hipotese, wat baie tyd nodig het, te ondersteun.

5. Mike se volgende beswaar is die bekende een dat die Bybel nie ’n wetenskaplike uiteensetting gee van hoe alles geskep is nie. Tog het die skepping ook nie in ’n lugleegte plaasgevind nie, maar in die bedding van die geskiedenis wat werklikhede beskryf. In die begin het God gesê en dit wat Hy gesê het, het so gebeur. Dit is geskiedenis wat nie wetenskaplike metodes probeer uiteensit nie, maar feite wat verduidelik dat God alles gemaak het deur ’n woord te uiter. Daarenteen wil evolusioniste niks van ’n Skepper weet nie, want geen inligting moet ter sprake kom nie. Intussen het Jesus in Matteus 19 uit beide Genesis 1 en Genesis 2 aangehaal en Hy hanteer dit as geskiedenis.

6. Vervolgens maak Mike daarteen beswaar dat TP van “evolusieleer” praat terwyl gelowiges wat evolusie as ’n wetenskaplik bewese teorie aanvaar dit sal ontken. Dat dit ’n “bewese teorie” is terwyl bekende feite soos die skeppingsgeskiedenis van die Bybel en die sondvloed bloot net buite rekening gelaat word, is nie ’n wetenskaplike beoordeling van die gegewe nie en kan nie tot geloofwaardige resultate lei nie.

a. Om evolusie as ’n feit te aanvaar, moet ’n mens eers aanvaar dat God nie alles geskep het nie, want geen inligting van buite is dan toelaatbaar nie.

b. Boonop moes dit oor lang tydperke plaasgevind het, want evolusie het tyd nodig om deur klein veranderinge van een soort tot ’n ander te ontwikkel.

c. Verder moet ’n mens aanvaar dat gene tot ’n genepoel bygevoeg kan word, iets wat nog nooit as moontlik bewys is nie.

Hierdie aanvaardings maak dit ’n leer. Dit is ’n vooropgestelde uitgangspunt wat nodig is om die “teorie’’ te kan glo. Daarom geld dit as ’n leer.

In hierdie verband haal ek graag aan wat Prof George Ellis, medewerker van Stephen Hawking, te sê het soos aangehaal op p 28 in Journal of Creation vol. 25(1) 2011: “People need to be aware that there is a range of models that could explain the observations,” Ellis argues. “For instance, I can construct you a spherically symmetrical universe with Earth at its center, and you cannot disprove it based on observations.” (My beklemtoning) Ellis has published a paper on this. “You can only exclude it on philosophical grounds. (My beklemtoning) In my view there is absolutely nothing wrong in that. What I want to bring into the open is the fact that we are using philosophical criteria in choosing our models. A lot of cosmology tries to hide that.” Ellis is nie ’n ateïs nie maar ’n Kwaker en Platonis. Nogtans is hy een van Hawking, die vurige evolusionis, se hoofmedewerkers.

7. Mike maak die aantyging dat kreasioniste hulle op “wetenskaplikes wat hulle posisie ondersteun”, beroep om aan te toon dat “hulle standpunt ook wetenskaplik op voete staan”. Dit is ’n vernederende aanmerking teenoor wetenskaplikes wat op grond van hulle geloof in Jesus Christus die Bybel as die Woord van God aanvaar en dit so in hulle wetenskapsbeoefening hanteer. Dit is ook opmerklik hoeveel mense tot geloof in die Here Jesus gelei word deur die getuienis van sodanige wetenskaplikes. Lees maar net die boek “Fulfilled Journey” van Wilder-Smith.

8 Vervolgens gaan Mike daartoe oor om voor te gee dat die geskiedenis in Genesis 1 en 2 verhale met ’n boodskap is, soos Jesus se gelykenisse. Dan moet ’n mens vrae vra, soos wie God volgens die verhale is, wie ons is en wat ons verhouding tot God is. Met ons vrae neem ons egter die standpunt in van wat ons wil hoor en is dit nie meer ’n onbevange luister na wat God sê nie.

Boonop is dit opmerklik hoe eerlik die Bybel is oor die stof wat dit aanbied. Gelykenisse word aangedui as gelykenisse, Psalms word Psalms genoem en profesieë is profesieë. Maar nêrens in Genesis 1-11 word vermeld dat dit verhale of gelykenisse of mites is nie. Dit word as geskiedenis aangebied en so word dit deur die res van die Skrif hanteer. Wanneer Paulus van die eerste Adam praat, skep hy nie die indruk dat hy van ’n figuur uit ’n verhaal (soos Rooikappie) praat nie. Hy praat van hom as ’n mens wat werklik bestaan het.

9. Mike vra later of die Bybel en die wetenskap in botsing is. Natuurlik nie, maar dan is dit wetenskap wat op gegewe feite en bewysbare resultate berus.

Daarna vra hy dat ons wat tans die konflik “tussen die evolusieteorie en ons verstaan van Gen. 1 & 2 beleef”, ons verstaan van die Skrif op hierdie terrein moet heroorweeg. Kan ’n mens nie eerder vra dat die evolusioniste hulle verstaan van die ontstaan van alles in die lig van die Skrif moet heroorweeg nie? Hulle verwerp immers die God van die Skrif. Gelowiges wat wel deur die vals leer van die evolusioniste gevang is, loop die gevaar om die waarheid van skepping, sondeval en verlossing, soos die Skrif leer, langs die pad te verloor.

10. Mike sluit af deur te sê dat “die skrywers van TP … ’n ernstige fout (maak) om die Bybel as maatstaf te gebruik om die bevindinge van wetenskaplikes mee te beoordeel.” Maar dit is juis die probleem. Evolusie is nie bewys nie. Op suiwer wetenskaplike vlak is daar geen botsing tussen kreasionistiese wetenskaplikes en evolusioniste nie. Trouens, van die kreasionistiese wetenskaplikes lewer uitmuntende bydraes tot die wetenskap.

Dit is jammer dat Mike die ernstige waarskuwing van die skrywers van TP op so ’n wyse onder verdenking bring, terwyl hy nie werklik die evolusieleer ken nie.

Wat op die oomblik aan die teologiese opleidingsentra in ons land gebeur, lei tot die dood van die NG Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui